krismisTradisie….oorlewering…oordrag. Mens het mense nodig om tradisies en gewoontes te kan oordra. My dilemma, my mense ontval my in lewe en dood en my nageslag is nog aan’t kome.

Wat maak mens. Jy is maar soos jy is. Jou huis is gasvry, gulhartig en oop vir almal wat oor die drempel trap. Dis maar min mense. Kinders van ander mammas kom loer in.

My grootword familie het bestaan uit my ma se mense. Ouma en Oupa II ,met hulle saamgestelde gesin. Elke Paas- en Kersvakansie was ‘n geroesemoes van ses kinders en hul telge. Groot pret en soms bietjie moeilikheid. Ouma het die tafels laat kreun van kos, en die vyfsent poeding natuurlik die hoogtepunt. Mens kon toe nog klomp Wilsons koop met vyfsent.

My ouers se dood en later my ouma se afsterwe het ons maar los laat rafel aan familie.  Doen nie weeskind so goed nie. Dit seker maar hoe dit werk en ek is nie kwaad daaroor nie.

My skoonma wat nou al agt jaar weg is, word steeds gemis. Ons vier het epiese Kersfeeste gevier. Tafel gedek, tong en mosterdsous, skaapboud met knoffel en spek gestop, naeltjie hoender, vleis pasteitjies, gestoofde perskes, ag ons het kosbare onthou etes saam gehad!

Die voorgeslag kleed in my en Rots se omtes is uitgerafel, skielik is ons die ou mense. Ons kind ongetroud, geen nageslag ter sprake. In ons huis is die opslaan van die draad kremetartboom met sy lap versiersels en klokkie-engeltjies ‘n ritueel op 30 November. Op 1 Januarie word die boom gebêre.

Ons hou nie van weggaan na vreemde plekke oor die Kerstyd nie. Huismuise, en vakansie in en om ons woonplek met ons brakbende en mekaar. Bab kom en gaan soos haar sosiale kalender bepaal, maar meestal is dit ons drie rustig tuis. Kyk krismis lekkerkyk flieks, lê laat, kruie tyd om in die swembad, hou ellelange skrabeer-kompetisies, lees, tye van sommer net wees.

Ja, tradisies vlieg by die venster uit soos verskrikte vlermuise as die oumas en oupas nie ten minste drie geslagte kan beïnvloed nie, lyk dit vir my. Ek is heimlik jaloers op elkeen wat nog ouma, oupa, ma, pa en kleinkinders saam om een tafel kan Kersfees. Julle is geseënd.

Wat wel in my huis instelling en so belangrik soos hartklop en asemhaal is:

  1. Boekevat. Elke dag word saam  begin met Bybel, dagstuk en gebed.
  2. Tafelgebed. Ons huis bid voor elke ete:”Vader, seën die voedsel in ons liggame.  Ons is opreg dankbaar daarvoor. Seën die wat nie hierdie voorregte het nie. Amen.”
  3. Opstaan koffie en beskuit. Dit moet moerkoffie wees en die beskuit is tuisgebak.
  4. Soengroet smorens en saans.
  5. Dankbaarheid. Glo my, as jy kyk, is daar altyd iets om oor dankbaar te wees.
  6. Mededeelsaamheid: As nood voor ons staan, maak ons ‘n plan. Julle sal nie glo nie, daar word altyd voorsien!
  7. Gasvryheid – die beddens is altyd opgemaak, die welkom mat altyd by die deur.

Ek hou ook van  die inhoud van die oulike artikel oor wat tradisie se missie is.