Kyk, hier op Waterval is die reën, besies en motte, en motte wat eintlik vlinders is, aan die orde van die dag!  Vanmore kry ons twee mopani motte op die stoep. Ek en Eli lag vrolik en deel ons onthoue aan die motte. Ons albei weet die mopani mot in sy larwe stadium, is kos vir baie mense en diere.

Elisa beduie hoe sy as kind, en nou nog, in die veld die spierwit eiertjies styf gepak op die mopani bome in die veld sien, dan het hulle opgewonde geweet, oor drie weke is daar kos in die veld. Mašotša noem die Pedis dit. Meer noord van ons heet hulle amacimbi  of  madora.

7527654468_d7f199f5d8_b

(Bron:The mopane worm © Pius Mahimbi / Flickr)

  • Het julle geweet ‘n mopani mot is eintlik ‘n vlinder, en het julle geweet vlinders is motte? Lekker deurmekaar is die gevlerkte dartelende familie.

  • Die Mopani wurm is proteïenryk en vir baie landelike gemeenskappe ‘n groot voedselbron. Dit proe soos droë biltong. As jy bokkoms kan eet, kan  jy maar mopaniwurm ook proe.

  • In ‘n steentydperk put by Pomongwe grot in Zimbabwe,  is gedroogde mopanie wurms wat 6000 jaar oud was!Daar word bereken dat 9.5 biljoen mopanie wurms word jaarliks in suidelike Afrika geoes word. Dis oorlewing vir arm vroue in landelike gebiede.

  • https://youtu.be/rvcEfqu0vzM

Ek weer onthou ons karavaan vakansies by Shlaralumi Oe, dit was ‘n wonderlike plek, met die karavaan staninge so skuins van die reuse swembad, en so tussen die mopanies. Die plek was so mooi en goed onderhou.

Sharalumi

(Foto bron: Ron Hopkins)

Ek het tipies agie, met al wat tuinier en skoonmaker gesels, en op ‘n dag kom vra ‘n tuinman vir my of ek sakgeld wil verdien. Maar natuurlik! Hy het vyf kardoesies vir my gegee, en vir my die bont rooi wurms aan die bome gewys.

“Dis vir ons lekker kos, maar ons kry nie tyd in die dag om hulle in te samel nie,” vertel die vriendelike man met die spierwit mieliepit glimlag.  Ek kom net daar met hom ooreen om sakkies vol te maak.

Hy belowe my vyf sent per vol sak.  Gou het ek die vyf sakke vol, en vra my pa of hy nie vir my plastieksakke by die winkel sal koop nie. So samel ek sakke vol mopaniwurms in en my vakansie beurs loop oor!

Wat ek ook onthou is dat ek my ou bleek velletjie blase gebrand het, en sonsteek gekry het. Oe, dit was seer! Dae op my kampbed met calamine lotion besmeer gelê en myself jammer gekry het omdat ek nie ore het nie! Heeldag oral geklouter in die hitte van die dag om wurms te oes!

Sedertdien het ek maar sku vir die son geraak, behalwe weer op Stilbaai toe Bab so 8 jaar oud was en ek onder die sambreel aan die slaap geraak het. Hulle het gaan skulpe soek, en ek het gekreef! Maats wat saam gekuier het het na ‘n tog Kaapstad toe teruggekom met ‘n bloedrooi kreef wat heel vakansie op my bedkassie gepryk het! En dan is daar die dag op ‘n boot op Loskopdam….eina! My kop dwaal.

Ek wil nog ‘n onthou van Shlaralumi oord vertel. Daar was ‘n meermin uit seepsteen gemaak. Die plek is bemark dat jy in die bosveld ‘n meermin kon sien. Dit is oor tyd gedurende Desember vakansies deur ene Izak Botes geskep toe hy vir ‘n vriend in die omgewing kom kuier het. Hy het dit 1 Januarie 1963 voltooi.

Julie 1963 het hy begin om “Sleeping Beauty” na die beeld van sy vrou Susan begin kerf. Dit het hom vier jaar geneem om te voltooi. Dié beeld is verwyder toe sy vriend die plaas verkoop het. Dit is jare later opgespoor in die Hartebeespoort area en is vandag veilig terug op uitstalling by die onthaal area van wat vandag Ingwelala oord is.

Shlaralumi is in 1964 ontwikkel. Piektye was goed ondersteun en 2000 besoekers het gemiddeld daar kom vakansie hou. Die plek het egter nie finansieel die mas opgekom nie en is vandag deel van ‘n eksklusiewe tyddeel skema.   

(Bron: Ron Hopkins)

NS. NaNoWriMo 2019 vordering: 40530 woorde. 80% van die uitdaging voltooi.  Daar is nie 30 essays nie, maar lukrake relase oor geloof, trauma, selfontdekking, onthou, lesse en self nuwe hoofstukke en gedagtes van my Sophia saga! Die keer het ek nog goed uit my pad geskrywe, en dis  goed so. Ek is bly om te sien my maters Hester, Toortsie en Scrapy is ook op die pylvlak saam met my!