Siya Kolosi en sy 22 Springbokmaats het vandag geskiedenis gemaak. Nee, nie geskiedenis nie, hulle het ʼn wonderwerk bewerkstellig.

Suid-Afrika se naam is in die 78 ste minuut van die eindstryd in Japan op die Webb Ellis trofee gegraveer. Mapimpi en Kolbe die driemakers en Pollard die man met die sekuur skop. Suid-Afrika 32. Engeland 12.

Maar daar was nie vandag net 23 springbokke wat in 80 minute moes seker maak daai kopie kom huistoe nie. Ek reken daar was 57 miljoen Suid-Afrikaners saam op daardie veld.

My hart bars van trots toe ons kaptein dankie sê en toe die wyse woorde: “We are stronger together.”

Daar is nie net ʼn spyker in die Ingelse Rose se kis geslaan nie. Die narratief van vervreemding en divisie in Suid-Afrika het ook vandag ʼn bloedneus gekry. Dit is oral op die Vuisboek glashelder duidelik. Gewone mense het begin opstaan, saamstaan.

Ons is getuie van en deelnemers aan die droom van Madiba dat ons saam sterker is.

ʼn Swart kaptein en wit afrigter van die Ooskaap het moedig voor geloop. Leiers. En die manne in die groen en goud het gevolg, en die land se mens het begin hoop.

Elsa Joubert skrywe in haar biografie: “Bewerk die klein erfie wat aan jou toebedeel is, en alles sal daarmee saamkom.” So waar, die wysheid. Elke man in daardie span het sy deel met vuur en passie gedoen. Vir ons die Ingelse op hulle plek gesit.

Want hoop is al wat ons het. Hoop vir ʼn land waar al sy mense ver verby kleur en ras kan kyk. ʼn Land waar ons ordentlik met mekaar is, waar ons almal soos een man vir boelies en korruptes en onrussaaiers se: “Genoeg. Basta. Aikona. Ons is hier om te bly. Die streep is in die grond getrek. Suid-Afrika het ʼn beter storie om te vertel.”

Dit is nie net die rugby-sege wat hierdie hoopvolheid in my laat gedy nie. Die #ImStaying beweging wat na twee maande 830 000 lede het het ook ʼn reuse aandeel.

Ek is nie ʼn baie geduldige mens nie. Kan vreeslik vies raak vir onnosel op die pad. Dis een, twee, drie dan is dit net hande en tande soos ek met simpel padverbruikers praat.

My Bab berispe my toe ons Donderdag saam inry dorp toe. Ek het ʼn afspraak om my hare te laat sny. “Ma, dink Ma dis #ImStaying-gedrag, goeie gedagtes, goeie woorde en goeie dade wat jy nou openbaar,” toe ek weer vir ʼn voor-jou-inryer beduie.

Ek skaam my bloedrooi. Haal asem en begin let op my eie gedagtes en aksies. Sien, woede kweek woede. Die #ImStaying mantra: “Good thoughts,good words, good deeds,” maal deur my gedagtes. Snaaks, ek haal rustiger asem en teen die tyd dat ek by die salon aanland is ek sommer vrolik.

Lekker by die eienaar van my kapsel gekuier en ook wyshede gedeel. Gespekuleer oor die rugby en die algemene gety van hoopvolheid wat so voelbaar is. Toe ek terugry huistoe, is dit herbekeerde #ImStaying Vuurvliegie wat huistoe ry.

Daar kom ʼn supervrag die hele pad vol met begeleiding van voor. Sowaar, ek sit so saam met die taxi voor my flikkerligte aan en trek rustig van die pad af. Al die motors agter ons volg ons voorbeeld. Toe die vrag verby is toeter die verkeersman vriendelik en waai. Niemand agter ons kom jaag verby nie, elke ou in die ry trek rustig weg. Knyp my ek droom!

Verder aan skuif ʼn kruier oor na die noodbaan toe klomp karre agter hom opdam. Ek sê dankie met my noodflikkers, en wraggies, elke kar na my maak toe ook so. Die kruier het mieliepit geglimlag.

Klomp klein dingetjies, maak baie verskil. My padwoede-persona, die gaan saam met Bloubekruip in die donker hoek gehou word. Sela.

Ons kan en mag mekaar nie meer voorwaardelik aanvaar en liefhê in hierdie land nie. Dank Vader na vandag is daar net twee kleure in Suid-Afrika: Groen en Goud!

Hierdie aanhaling van Caroline Adams diep ek uit my skryfnotas op en dra dit op aan ons land en elkeen van sy mense:

Your life is a sacred journey. And it is about change, growth, discovery, movement, transformation, continuously expanding your vision of what is possible, stretching your soul, learning to see clearly and deeply, listening to your intuition, taking courageous challenges at every step along the way. You are on the path…Exactly where you are meant to be right now. And from here you can only go forward, shaping your life story into a magnificent tale of triumph, of healing, of courage, of beauty, of wisdom, of power, of dignity, and of love.”

Ons is inderdaad sterker saam. Mag hierdie dag in die geskiedenis staan as die begin van die Suid-Afrika wat ons almal voor hoop.

Dankie Bokke, dankie!

Geniet middagete!

73495162_10157978794987189_8805132553976545280_n.jpg

*******

Hierdie is my kort stuk werk vir dag twee van #NanowriMo2019. Ek het gister gelukkig oorskrywe. Trek darem by 4344 woorde van 50 000.

tumblr_pynwv9HiLJ1qd8ab4o3_1280