20190817_1036152281381538350137695.jpg

Vir Toorts, Hester,  Bontie, Scrapy.

Oor 48 uur verander ons lewensroetine. Dis 30 dae van skryf dissipline wat voorlê. NaNoWriMo 2019, die 21ste een, skop af.

Vanjaar neem ek vir die tweede keer deel. OokScrapy en Cecelia. Hester, Bontie, Vanilla en Toorts is ook vanjaar daar te vinde. Ons is NaNoWriMo maats. Dis lekker! Ek sien uit om die pad saam te loop.

Wat gaan ons doen:

50 000 woorde vir ‘n novelle, memoir, kortverhale, essays, wat ook al die muse voorskryf neerpen oor ‘n tydperk van 30 dae. Van Vrydag, 1 November tot Saterdag,30 November vanjaar, sal julle vir ‘n paar uur ‘n dag niks uit ons kry nie. Ons sit gat op stoel en skryf.

Sommiges skryf na ‘n beplanner. Ek verkies plantser. Dis sit op die stoel en skryf tot jy die teiken vir die dag gehaal het.

Nou sommer nie net nonsies nie, nee darem iets wat na 30 November verby is en jy Kersfees gehou het en jy die nuwe jaar ingelui het, so om en by middel Februarie na kan kyk en tevrede sê: ‘met hierdie kan ek werk.’ Dis die lekker van NanoWriMo vir my.

As jy nou nuuskierig is en lus het, daar is nog 48 uur om in te skrywe.  Maak koffie en kyk die  om en by halfuur video. Ek weet ek sien jou daar.

Wat ek met jou kan deel na my deelname verlede jaar :

Staan op, maak jou oggend roetine klaar, waarsku jou geliefdes, sit lekker musiek op en skrywe onverstoord vir ten minste drie tot vier ure. Sommige dae kom daai 1500 woorde baie vinnig. As dit gebeur en jy is lus, skryf voort, indien nie, klop jouself op die skouer en gaan doen iets lekker. Beloon jouself vir teikens. Dateer jou skryf statistiek op. Vertel jou skryfbuddies van bang, lekker en swaar.

Onthou jy is besig met rofwerk. Jy is nie besig om ‘n uitgewer gereed weergawe te skryf nie. Jy is besig om jou skryf uit jou uit te skrywe. Moenie pieker oor spelling. struktuur of enige tegniese dinge nie. Skrywe woorde sinvol in sinne en sinne in paragrawe en in hoofstukke as jy so beplan het. Skrywe net.

Ek gaan 30 temas lukraak kies en elke dag 1500-2000 woorde daaroor skrywe. 30 Essays in 30 Dae, want my idees en notas in my skryfkamer dreig om my te oorval. So nes ek verlede jaar my onthou uit my binneste uitgeskrywe het, so gaan ek vanjaar my skryfkamer leeg skryf.

Bemoediging

Ek is bevoorreg om ‘n skryfkamer te hê. Dis vol geliefde boeke, Winnie the Pooh en sy maat hang in ‘n mandjie neffens my. My Una Bali eend en my Hanli inspirasie bakkie staan op die lessenaar.  My honde se dag beddens lê eenkant skuins agter my en in die venster hang die suikerbekkies se suikerwater. Die jasmyn slinger deur die wildepiesang bos en dis aan die koel kant van die huis. Die vogelgesang kompeteer op die oomblik met Van Morrison se  “Have I told you lately that I love you…” My kop wil, wil elders heen dwaal. Maar ek skrywe nou vir julle oor NaNoWriMo. Want dis my doelwit vanmore.  Ek gaan nie 2000 woorde uit relaas nie. Die boodskap kan in 545 woorde gelewer word.

Skryf maats, skryf met vreugde, nie vrees en ‘waddehel het ek aangevang’ nie. Kry vlerke en geniet die avontuur…

tumblr_pynwv9HiLJ1qd8ab4o2_640