My menswees ontwaak letterlik wanneer die eerste reëndruppels van die seisoen val. Die winter droogte en dorheid wat soos ‘n dikbek sfinks net bly en bly en niks siende duskant die horison Suster Reën soos ‘n paria in haar hoekie hou, maak my siel bitterlik oproerig.

Die astrante mannetjieswinde wat alles, van takke, blare, dooie gras en stof, die lug in swiep en elders laat neerplof. Die asvaal stof en groen swembadwater. Die eensaamheid van die wind se geloei om die hoeke van die huis. O jinne, my gemoed foeter mismoedig krans af.

Die lug bly wolkloos, die veld en diere wag. Dors, swak, moeg. My siel trek saam laer. Angstig op soek na die eerste glim van die donderweer en blits impi se spiese wat die skemerte in ‘n arena van lig omskep en na die skouspel, die reënbui wat genade giet.

Skoon stikstof uit die skepper se hand. Aans kom die Bosveldvisvanger elke dag sy gebied afsper met tjip-tjirr, en die reëns val, en die Piet-my-vrou koggel stout en die reën val. Die dorstige swart miertjies verdwyn uit die kombuis, die shongololos duisendpoot oor die grasperk en deur die huis, die paddas kikvors luidkeëls en my soepele(r) vel soveel sagter aan my lyf. Dis ‘n ware storie, ek dor uit soos niks in die koue, droë winter.

Geen bygelowe hier, net wonderlike genade uit die natuur.

Daar is een legende waarvan ek hou uit die somerreënval gebiede van die ou Transvaal. Hulle het geglo 10 Oktober, Oom Paul Kruger se verjaardag, dis die dag wat Suster Reën skugter oor die rant kom loer, nie meer die verstote paria nie. Daar is mense wat gal braak oor die bygeloof, maar ek hou weer daarvan om dit as mooi #ToeValLig te beskou. Oom Paul wat so lief vir ons land was, en die landbouers wat so na aan die natuur geleef het dat hulle die seisoen se tye geken het, dit is vir my die storie.

Julle weet toe Oom Paul agterkom die Ingelse is eintlik op soek na die skatte van ons land, het hy gehuil. Trane het oor sy wang gerol toe hy vir hulle sê: “It is all about the gold.” (Raak gelees in Hermann Gilomee se The Afrikaners) Ag ja, g’n wonder die hemele wil ook begin reën rondom sy verjaardag nie. (My opinie.)

Ek kan ook nou soos die mense van ouds weer voorspel. My operasie littekens en die prostese in my rug, kan omtrent aan die knies gaan as die weer verander. Ek het nou nog nie reën kon voorspel nie, maar temperatuur verwisseling beslis!

My Oupa het ook ons geleer om die reën se koms te skat met die kraffie water langs sy bed. As daar oornag waterdruppels om die bek van die kraffie gevorm het, sou daar reën kom. Dis ook in volksvertellinge opgeteken. Ek dink dis ‘n laeveld bedompigheid ding. Mens kon nie asemhaal van die humiditeit net voor die skouspelagtige donderstorms nie! G’n wonder die kraffie het gewasem nie!

Hoopvol bly ek opkyk soos die mooie gazania op die stoep, gesig sonwaarts gedraai met blare deur die Meester Akwarellis ingekleur. Wagtend op die sege van Suster Reën oor die winter sfinks.

So van eteries mooi gepraat. Ek loop dié Nederlandse rympie raak:

avondrood, mooi weer aan boord,
morgen rood, regen in de sloot.

Hoop ons kan vanaand en more oggend wanneer die waterverfskilder mooi die hemel in skakerings van rooi tooi, die opbou van die wolke ook raaksien.

Kom Suster Reën kom! Giet daai eerste reënbui tog gou!

———

Wil jy saam woordsnoer? So maak mens :

Jy kan ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het. Hier is die skakel na die woordlys: https://lekkervurigeaffere.blog/2019/10/09/reen-reen-waar-is-jy-woordsnoer/

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Onthou om die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

https://fresh.inlinkz.com/p/f64779e6a80c44bfb5baa671f2d5bcdf

Die uitdaging sluit Donderdag 16 Oktober 2109 om 12h00.