Bron: Pinterest

Ek is buite in ‘n tuin wat met draad omhein is. Aan die anderkant van die draad, ‘n skuins helling en gevaar. Onbekende mense help my om ‘n wit houtheining voor die ogiesdraad staan te maak. Sien, die werf behoort aan my sussie en haar man en hulle woelige worshonde en beagle is gedurig aan die deurglip, helling af. Dis ‘n groot en belangrike taak, want my sus en haar ega is netjiese mense, presies en met besliste voorkeure.

Ek staan tevrede en kyk hoe die heining voor die draad opgerig word. Tevrede. “White picket fence,” warrel deur my gedagtes. Uit die hoek van my oog sien ek met ontsteltenis hoe my Oupa Faan die heining plat trap.

“Rina, dit sal nie deug dat die heining so regop bly staan nie, jy weet Swartjie en Pannie se honde klouter ook,” sê hy met ‘n glimlag. Ek probeer protesteer, maar hy maak my stil. “Moenie kommer nie, ek sal vir hulle sê dit was my besluit. Kyk, as ons dit so skuins agtertoe teen die draad laat lê, kan daai honde nie oor of deur nie.”

Ek begin summier saam heining skuins trap. Baie tevrede staan ons twee. Hy klop my op my skouer. “Kom, ons moet vir Swartjie ‘n Katjiepiering gaan plant.”

Ek word met die warmste hart wakker. Dis Dinsdagoggend. Ek besef ek het gedroom. Ons is by my sussie aan huis. Onderweg terug van ons weeklange wegbreek na Graaff-Reinet.

As jy my oupa geken het, sou jy weet, protesteer sou nie help nie. Hy was ‘n unieke mens. My stief-oupa, maar jy sou dit nooit raai nie.

Ons eie oupa is lank voor my geboorte reeds oorlede. Oupa Faan my enigste oupa in die lewe. Hy was ‘n bosbouer van nering. Kon Swazi praat soos ‘n Swazi, het die natuur geken en mense beter verstaan en gesien vir wie hulle is, as meeste van ons kan of sal.

As student het ek altyd by hom en Ouma Stomp gaan blok vir eksamen. Soggens voor Fanus flink uit die vere. Jy het sy bed hoor kraak, die kers sien flikker en dan is hy slof-slof gang af. Die stoof kry hout, water word in die ketel gegooi. Ek het stil bly lê en altyd gehoop hy vergeet om my te roep. Ek was maar nog nooit ‘n oggend mens nie. Ek het verniet gehoop. As die twee bekers koffie geskink is sou hy roep: “Rina, opstaan.” Protesteer het nie gewerk nie.

Ek moes vaak-vaak saam sit. Ons sou die oggend boodskap, die nuus en so stukkie Fanus luister terwyl hy sy koffie uit die piering slurp. Met smaak. Die radio sal afgesit word en dan moet ek vir hom vertel wat ek vandag gaan leer. Sielkunde, Kriminologie, Afrikaans, Engels, Sosiologie, Geskiedenis. En moenie dink omdat hy nie ‘n graad bekom het, jy kon bollie verkoop nie. Ek moes mooi vertel. Hy het nooit vir my gesê hy is trots of lief nie, maar ek het geweet hy was. In oorvloed. Hy het my geken en van my verwag om my beste te doen. Sien, my pa was toe al dood. Oupa Faan het pa-gestaan. Hy het my kerk ingebring toe Rots en ek trou beloof het.

Oupa is al jare gelede oorlede. Een middag op die bed gaan sit en was besig om sy pantoffels uit te trek vir sy middagslapie. Hulle het hom sittend gekry. Net sy asem uitgeblaas.

Die droom verwonder my. Hoe het Oupa nou van my sus se klouterende honde geweet? Hoekom Oupa? Wat is met die skuins heining? En die katjiepiering? Die vrae warrel terwyl ek voor almal opstaan en stort. Ons moet almal aan die gang kom. Ons moet nog Polokwane toe ry. My sus moet gaan werk.

Met warm bekers koffie voor ons, vertel ek vir haar en my swaer van die droom. Ons lag. My swaer sit so. “Jy weet, my ouers was baie lief vir katjiepiering. Ons het ook self ‘n troetel katjiepiering op Barberton gehad. Van huis na huis is sy saamgetrek en net voor ons Welkom toe verhuis het, het die plant gevrek. Ons was hartseer daaroor,” vertel hy.

Oupa se stem kom duidelik by my op:”Koop vir Swartjie ‘n katjiepiering.” Sus het intussen gaan stort. Ek haal geld uit my beursie. “Swaerie, Swartjie verjaar een van die dae, sal jy asseblief vir haar ‘n katjiepiering van my koop,” vra ek. Hy lag en knik, ja.

Later die dag, op die lang reis terug huistoe, begin ek lees oor droom simbole.

  • ‘n Wit houtheining (white picket fence) dui in drome op ‘n hindernis en beperking.
  • Om jou Oupa wat reeds oorlede is, lewend in jou droom te ervaar vertel droom verklaarders en sielkundiges kan dui op gevoelens van geborgenheid en vrede. Kan dui op bevestiging dat iets reg gedoen is, of verhoudings herstel is.
  • ‘n Wit katjiepiering dui op opregtheid, suiwer liefde en vrede.

Hoe voel ek oor my droom, daar by my sussie se huis? Ek dink soos Jakob, Josef, Elisabet en Maria. Oorstelp en bly. Dit is of ek hemelse bevestiging gekry het dat die volkome nuwe en herstelde verhouding tussen my huis en my sus se huis goed en reg is.

Wat ‘n seën.

Sela.