Ah, wat ‘n salige plek is Rebusrus Amfiteater nie. Hier kan ons darem nou musiekkonserte uit die boonste rakke hou. Kosteloos van Bach tot Maroon 5 tot Elvis nooi om ons te kom vermaak.

Hoewel Woordnoot mooi vertel het dat ons ons Top Vyf moet deel en vertel hoekom, sien ek sy het gelukkig nie ‘n beperking gestel op hoeveel Top Vywe ons mag deel nie! So, ek gaan meer as een keer blog oor my keuses, want ek is van daai mense met ore om na musiek te luister, en ek luister graag. Sing kan ek glad nie, maar hoor – dié kan ek goed.

My musiek ore is wyd, skisofrenies. Ek lief klassiek, ek lief rock, ek lief ballades, ek lief goue oues, ek kan na jazz luister, die blues, gewyde musiek, rap. Ek is dol op Afrikaans – dis nou Coenie, Amanda, Laurika, Koos Doep, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Elvis Blue, Riana Nel, maar meestal Coenie. So ek gaan ook nog ‘n Coenie Top vyf vir julle opdiep…. dis nou as Woordjie en Hestertjie my nie stop nie!

Maar eers, my oor-die-dekades-heen-internasionale Top Vyf so kits Vrydag konsert voor die son oor die week sak.

5. Daar ver terug op ‘n Vrydagmiddag in 1972 smeek ek my pa vir my sakgeld. Vicky Leandros se langspeelplaat na sy die Eurovision kompetisie gewen het, is pas beskikbaar by Barberton se nuusagentskap en platewinkel. 75c – dit was ‘n goeie duik in my toelaag. (Ons het toe nog vir 25c kon fliek, en vir nog 25c niekerbols en ‘n coke koop) My eerste langspeelplaat!

My versameling het oor die jare uitgebrei en vandag is Rots se iPod eienaar van oor die 6500 liedjies. Ons luister Vrydagaande by die braaivuur luid musiek van baie jare en verskeie genres! (Country en boeremusiek is nie hier te vind nie – my ore wil nie daai mooi luister nie). As ek Come what may hoor, dan onthou ek ver terug na sorgvrye dae! Die sentiment in die liedjie was toe gekleur met adolessente idealisme en sterre in die oë.

4. Dit was ‘n Lente middag in my standerd nege-jaar. Ek was besig om biologie tekeninge te doen. Nie een van my nege klasmaats het sulke huiswerk gehad nie. Hulle het nie die vak op hoër graad gedoen nie. Ek sit nog so met myself en brom oor die ekstra werk, toe kom die mooiste klavier note oor die eter aangesweef. LM Radio en klavier! Dadelik is my ore gespits. Queen se ellelange Bohemian Rhapsody ontplof in my kamer. Huiswerk vergete, my siel aan die sweef. Dis soveel jaar later, en dis steeds daardie oomblik wanneer Freddie sing “Mamma, just killed a man…..

3. Annie Lennox se treffer “Little Bird ” was in 1981 ‘n treffer, maar die liedjie sou eer in 1986 vir my betekenis kry. Skemeraand, 24 Maart 1986 na ‘n noodkeisersnee en wollerig van narkose, sien ek twee klein voetjies in die babawieg langs my bed raak. My baba dogter, my Bab. Klein en broos, my ‘little bird.” Ek sing 34 jaar later dit steeds voluit as lofsang oor haar lewe. Vlieg my Bab, vlieg sterk om jou drome te volg, want jy mag.

2. Die 90s was my beste jare, maar dis geoffer vir ‘n groot taak. My werk het my ingesluk. Ten koste van tyd met my kind, my man,familie en vriende. Dit was ‘n groot werk om amptelike bedelaar vir die Limpopo se Kansa streekkantoor te wees. Ek was ook bestuurder van ‘n 6-bed hospitium. Dit was 24-uur, 7dae, 52 weke voltyds. Ek het totaal uitgebrand. My pen in die lug opgegooi en in diepe gesprek met Bloubekruip, my gemoedsbekakking getree. Dit het maande gevat voor ek myself aan my skoenveters opgetrek het.

Hierdie is die lied wat van die tyd vertel. My gesin sweer hulle gaan dit by die krematorium-oond speel. Dis my weggaan lied vertel hulle gedurig. Hule is verkeerd.

Vir my is dit ‘n oorwinningslied, want toe alles om my breek, was net my twee liefdes-My Rots en my Bab daar vir my. Al die honderde mense wat my rug geklop het en my bewonder het, en my hulle vriend genoem het en vertel het ek is formidabel en al daai hol woorde. Hulle was weg toe my liggie taan. Daarom vlieg ek na die maan – my gesin, want hulle is daar!

1. Dis ék die. My kop en hart gedurig aan die veg, maar ek het lankal vrede. Dis al sedert 2004 my selfoon luitoon. Wat kan ek sê. Geniet KT Tunstall se Black Horse and the Cherry Tree.

Tata tot later.

As jy nog konserte wil bywoon of self wil deel: Kliek op die skakel en kom jol saam:

https://fresh.inlinkz.com/p/24f3cd306d0d4f75a62c1f4aaa1fa76f