Die Towerinne sit opgewonde en klets. Wat sou Rebusfontein se gevlerkte, spinnende en keffende bende in die mou voer?

Al die mooi laslappiestrooikussings van Toorts is lekker onder iskias en elmboë ingedruk, skuiwe is geskuiwe en Lorenzo se biseps werk oortyd om glase en koppies vol sjampanje, water en tee te hou. Hier word vanaand konsert gehou.

Ringo en Trompie se geblaf kry die Towerinne stil.  Ek loer vir Hester. “Hoor jy wat hulle blaf,” vra ek so uit my mondhoek. Hester se oë rek. Sowaar ons verstaan hulle. Ons kan hond!  Wonderbaarlike plek die Rebusfontein van ons! Ons kan Dr Doolittle die loef afsteek!

Lang storie kort Trompie en Ringo vertel sonder omhaal van kef en blaf hoe trots die Rebusfontein diere op die Towerinne is. Dat hulle so gou ontdek het dat Wille Willemien die woorddief in elkeen van hulle kom bly het en hoe elke Towerin met die Woordsnoere wat Ringo in Ma Vuurvliegie se oor fluister bydra om die woorddief en inspirasie uitsuiger weg te jaag. 

Daar bars ‘n gejuig onder die Towerinne uit. “It is so cool,” sug Lorenzo betraand.

Nee Lorenzo, koor veertien Towerinne.

“Dis kostelik, oulik, wonderlik, asemrowend, mooi, bakgat, ougat, fantasties, oulik, reg so, eksieperfeksie, prima, puik, uitstaande! (Besluit maar self watter owerin gebruik welke woord. 😉 )

Behalwe die goeie nuus oor afwesigheid aan inspirasie wat nou iets van die verlede is, kondig Trompie met trots aan dat Danie die ekstentriek so gewild is dat hy ‘n eie Vuisboekblad het. Luide applous bars los en Danie kruip onder Una-Engela se arm in. Kamma-beskeie.

Ringo kry almal met ‘n paar skerp blaffe stil en kondig aan: “Towerinne en Lorenzo en Quasimodo en Silver en maats, Pasella het vir ons ‘n spesiale verrassing. As Snowball, sing hy ons nuwe temalied….ek sluit af:

Towerinne, ons bly lekker hier,

die woordief is weggestuur,

reël nou asseblief ‘n woeste Toweropstal-agtige avontuur!

Woef, tot aanstaande maand se Woordsnoer”

Lees hier oor ons Woordsnoer uitdaging en hoe om deel te neem:

https://fresh.inlinkz.com/p/441ac97f21cd4d26acca046b62db5fc8