Liewe Nuwe Rebusfonteiner

Saam met die pragtige koekeloer vlinder, wil ek, Vuurvliegie net inloer en jou hartlik Towerin-welkom heet hier op Rebusfontein. Ek weet sommer jy gaan heerlik saam met ons lag en kuier en leef.

Ons hou vreeslik van avonture. Ons het al twee avonture te e-boek gestel – gaan kuier by Hester as jy wil lees wat ons alles kan aanvang.

Verlede jaar het ons deur Suid-Afrika getoer – dit was epies. Lees hier oor ons toer in die giggelgroenbus.

Ons is effe uitgeput na al die reis pret, en die regte lewe is so ietwat van ‘n demper op ons avontuurlus. Toe besluit ons om stilte en rus te kom opsoek op Rebusfontein.

Die naam Rebusfontein is tweeledig… Raaiselfontein na die woord Rebus of ReBus – dis nou ter ere van ons giggelgroenbus wat onder die pergola op die dorpsmeent neffens die waterpomp staan. Die water is van die lekkerste wat jy ooit geproe het – Hester het hierop aangedring – sy doen net vars water, jy weet.

Die Towerinne is ‘n prettige, pittige klomp. Die span slaap wraggies gereeld in die messelaai. Ons is almal baie lief vir onse mooi taal en vandaar ook my maandelikse Woordsnoer-uitdaging. Ek is net gereeld in die moeilikheid omdat ek te goed by Hester geleer het van breinrek en -buig!

My huisie by Nommer 14 is vol woorde – teen die mure, in boeke, oral. So as jy lief is vir lees en Afrikaans en ‘n glasie wyn op my stoepie wil kom drink is jy welkom.

In die regte lewe is ek die stil vennoot van Lekker fireplaces, braais and décor, Polokwane in Limpopo. Die stad wat vir julle vrot polonie, Malema en Zuma gegee het. Jammer, hoor!

Ek is te wipperig en ongeduldig om met kliënte te werk. My gesin is die mense wat liefs publiek. Ek sorg weer dat hulle blyplek en magies goed versorg is. My dae vol huishou, skryfwerk, liefde uitdeel en so nou en dan dorp toe.

Ambivert is die woord wat my die beste beskrywe. Winkels en gedruis ontstem my geheel en al. Ek is na jare in mensgerigte en bestuurposte werklik uitgebrand aan mense. Die dat Blogland en Rebusfontein ‘n veilige hawe is. Dis ‘n groot genade dat ek van die huis af, eenkant, my ekonomie kan bedryf.

Dis ‘n dankbare Vuurvliegie wat hier skrywe.

Trek nou gou in, en kom loer in. My huisie lag oopmond en wag vir jou!

Kom trek klaar in en vertel ook meer van jouself. Onthou om jou skrywe hier aan te haak sodat ons almal lekker kan kuier en klets:

https://fresh.inlinkz.com/party/4d37c70b99244affaf04d8ea985b9271

Almal welkom – hoe meer siele hoe meer vreugde!