Vergeet onthou

Die na-reën morelig  skep ‘n kleurvolle fantasia

Haar hart sing geluksalig,

Sonlig reënboog dansend oor die druipnat kamelia.

Die dag se beloftes rooskleurig.

 

Die malse seën in die geel perske wat sy afskil.

die stadige, dun sny van die skil tot kuns verfyn

Die wêreld en sy  sorge tuimel ver weg en dis tjoepstil.

‘n Oomblik waarin toekomsdrome hoopvol skyn.

 

Maar buite loop haar hart se punt droomverlore,

en skop na die kabbelende water in die kleivore.

Drentelend  in die jakkalstroureëntjie.

Alleen, alleen – haar forse man nou ‘n vreemde kleintjie.

Sy grootste vrienskapsverbond,

Vergeet, die lelike grys steekbaardhond.

 

Haar hart breek, dis al hoe meer frappant

Haar geliefde –  aan die vergeet en beskore tot ronkedoor.

Haar kosbare nou ‘n eenkant kalant.

Ag Here laat hom nie deur die lewe moet skoor.

 

Onthou hy hoe ons saam op die stoep –  douvoordag

net met omgee vir elkander 

Speels kon tango en samba

en luidkeels kon Fernando  op maat van Abba.

In die oggendlig oopmond aan die lag

reg om oor die nuwe dag ons te verwonder

 

Sy onthou herfstyd

met takke gestroop, reikend na die yshemel wyd

toe, sonder spoed of hoehaai, 

 Vergeet by die voordeur kom inwaai.

©Erna Maré 2019

*******************

Kom snoer en speel saam in ons allermooiste taal. Gaan kyk by ons Inlinkz skakel, die eerste inskrywing vertel hoe.Ons uitdaging strek oor twee weke, 20 Junie sal die skakel sluit. Nooi blogmaats om saam te kom speel! En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie! https://fresh.inlinkz.com/p/86350a0e80e643788015a86178e3b125