
Piet Botha se afsterwe vandeesweek, laat my onthoupaaie loop.
Ek beleef vir Piet Botha twee keer in my lewe. As student Saterdagaande in Annabel’s, Sunnypark waar hy en Jackhammer gerock het. Ag dis lekker onthou. So ver terug toe jeugdige vryheid en verwagtinge se vlamme hoog gebrand het. Toe ons land ook begin brand het, want vryheid en verwagtinge van ander jeug was nie soos myne dromerig nie. Dit was om den brode. Maar dis nie waaroor ek wil relaas nie…
Vroeg in 2010 sien Rots ‘n advertensie raak: Saam met Beeld in Parys, Vrystaat. ‘n Naweek met kuns en musiek. Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Piet Botha en klomp ander gaan optree. Alles onder een dak – jou verblyf, etes en prima vermaak. Dit klink hemels.
“Dis wat ons vir ons huweliksherdenking gaan doen”, verras Rots my. Opgewonde word plek bespreek. Die laaste naweek in Augustus 2010 trek ons weg Vrystaat toe. Parys toe.
So met die sak van die son ry ons by die Stonehenge-oord se kliphekke in. ‘n Groot grasdakgebou langs die rivier groet ons. Dis mooi en die ontvangs is vriendelik. Ons was net oor ‘n honderd pare wat die naweek daar inbespreek was.
Wat ‘n belewenis. Die musiek, die intimiteit van die lokaal met sy groot kaggel en net daar ‘n asem naby is ikoniese kunstenaars aan die musiek maak. Sjoe.
Met die instap verkyk ek my aan al die mooi kuns op uitstalling. Daar is één. Sy praat met my, kort-kort voor ek kan keer, stap ek nader en verkyk my aan die besondere detail en styl wat die kunstenaar in die werk kunstig ingestort het.
Ons luister musiek, lag en gesels met nuwe mense en ook die klomp van die die Beeld en van die kunstenaars se gesinne buite in die son. Luilekker. Ek gaan loop ‘n draai, en die skildery roep. Ek staan en kyk en kyk.
Die skilder, Karien Boonzaaier stap nader.
“Jy kom kyk kort-kort,” sê die mooi vrou.
Ek lag.” Sy praat met my.”
“Wat sien jy?”
Ek kyk so. “Great expectations,” tuimel dit by my mond uit. Groot verwagting.
“En wat nog,”vra sy.
“It warms the cockles of my heart,” se ek. Hoekom al die Engels sal ek nou nie weet nie, maar dis maar so.
Karien lag. “Kom ek vertel jou wat ek geskilder het. Stoele is simbole van verwagting. Kyk, die persoon het alleen gesit met die glasie wyn, en ‘n gas is aan’t kome, kyk sy is nou net by die deur in, kyk hoe waai die gordyn… “
Ek snak na my asem. Want sien. My Karoo droom se naam is Great Expectations. My huisie waar ek nog gaan bly, wanneer die regte lewe nie met my drome inmeng nie. Ons het toe net die huisie gekoop. Agteruit gebie en die plek gekry!
Karien lag. “Kom kyk iets hier.” Sy beduie na ‘n kleiner prentjie binne die skildery. ‘n Teëltjie regs van die deur, prent ‘n vrou wat in haar tuin stap. In detail. Die tuinpaadjie is met skulpe uitgevoer -“cockles of my heart” het ek pas gesê!
Toeval, nimmer. ToeValLig, ja! Die talentvolle vrou is diep gelowig. Sy glo dat die Heilige Gees (Parakletos) haar lei. Dat elke kunswerk met ‘n rede en vir iemand geskep word.
Amen en halleluja.
Toe sy Great Expectations geskilder het en saam gebring het Stonehenge toe, toe was dit bestem dat ons ons huweliksherdenking daar sou kom vier. Bestem dat die skildery my by my naam genoem het.
Wat ek op daardie stadium nie geweet het nie, is dat Rots net soos ek, kort kort as hy verby stap,die skildery bekyk het. Toe ons Sondagoggend weer voor die skildery staan, lag Karien toe sy besef ons is saam. “Dis julle skildery dié.”
Nodeloos om te sê, ‘n spaarrekening is skraler en ons skat is met sorg agterin die bakkie gelaai.
Toe ons tuiskom en ons die pragstuk ophang, sien ek daar is iets agterop geskrywe:
“Pieter, Erna en Deirdré. Stoele is simbolies van verwagting. Ek bid julle pad (en stoele) sal gevul word met liefde en vrede, voorspoed en en beskerming. Wees geseënd. Liefde Karien
Parakletos Griekse woord vir die Heilige Gees jou helper, vertrooster, Berader en Advokaat.
Great Expectations”
In Parys met Beeld
28 Augustus 2010
Agter op ons skildery geskrywe deur kunstenaar Karien Boonzaaier 28Augustus 2010

So hang die mooie onthou en besondere skildery al nege jaar in my huis. Stille getuie van oppe en affe, seer en seën, oorvloed en skaarste. Boweal getuie van toekomsverwagting, vreugde en liefde en vrede wat alle verstand te bowe gaan want die Gees lei en rig ons elke dag.
NS. Piet Botha, as ek soggens na Great Expectations in die nuwe dag se lig kyk, dan onthou ek ook vir jou en klomp spesiale oomblikke tydens ‘n mooi naweek in Parys, Vrystaat. Rus in Vrede.
Wat ‘n pragtige skildery en so spesiaal net vir julle!
LikeLiked by 1 person
Nou verstaan ek hoekom jy al laat deurskemer het dat hierdie so ń spesiale skildery is.
LikeLiked by 1 person
Dis baie spesiaal!!!
LikeLiked by 1 person
Watter wonderlike vertelling van ‘n heerlike avontuur!
LikeLiked by 1 person
Dis so mooi – die skildery, die kunstaneres se storie en julle storie ook.
LikeLiked by 1 person
Dis ‘n hartskat wat ek hier kom deel het.
LikeLiked by 1 person
Wow, dankie dat jy die hartskat gedeel het. Dis nou rerig n skildery wat spreek en dit net vir jou en Rots. Wys ook dat dit so moes wees.
LikeLiked by 1 person
🤗💝
LikeLike
Ma sê jou onthou van die musiek laat haar terugdink aan Fiesta land in Harties toe daar ook baie shows was. Gene Rockwell, Clive Bruce, Pierre de Charmoy, ens. Sy sê dit was lekker ou dae. 😀
Karien skilder regtig baie mooi hoor en Ma sê sy weet hoekom jy Engels gepraat het. Sy sê partykeer is daar net mooier woorde in Engels om te sê hoe mens voel, net soos daar partykeer mooier woorde in Afrikaans is wat mens net nie in Engels kan sê nie. 😀
Dit is regtig ‘n pragtige skildery en ons dink jou woorde vir dit beskryf dit so vreeslik mooi. Dis lekker om sulke spesiale oomblikke in die lewe te hê. 😀
LikeLiked by 1 person
💝🤗😇
LikeLiked by 1 person
Oe…ek is dol oor sulke ToeVaLLIG’s…dit laat my hoop
LikeLiked by 1 person
📚✏💝
LikeLike