Lees en lees en hou Towerin-kreatiwiteit reg,

Woordsnoer, woordsnoer

op Rebusfontein spring ons aans met rymende snoere weg!

Net met woorde sal ons boer,

beslis nie hoenders of varkies nie!

Ons mooiste taal word oral bedreig, verswak en versleg.

Daaroor sal ek nie lie!

Afrikaans is waarlik onder beleg.

Kom ons skryf ons mooi taal reg.

Erna Maré 2019

******

Ag julle, ek was so besiel toe ek die afgelope naweek die artikel oor rymelary in die Beeld lees. Ek stem so volmondig met die skrywer saam. So vergewe my as ek julle breine buig en ons hoë sporte gee om oor te spring, maar ek hoop julle geniet om die te lees en dan skeppend te wees.

Lees gou Cas Wepener se pittige rymende skrywe in Saterdag 1 Junie 2019 se Beeld:

Rymende rubriek oor liriek

Gun my in hierdie bydrae enkele wense, gebore uit ’n liefde vir my taal en my mense. In ag genome die populariteit van rymdwang in liriek, skryf ek vandag ’n (pynlik) rymende rubriek.
Ek is vies vir die skrywer van daai retrograde boek, want dis ’n bron wat die rymelary voed. ’n Boek wat woorde volgens hul uitgange lys, moet verban word uit enige liedjieskrywer se huis. Die samesteller het gedink hy doen ons ’n guns, maar voorspelbare ryme is eenvoudig geen kuns. Lirieke is nie letterkunde nie, vertel die kenners my, maar selfs vir ’n skoolopstel kan jy tog ’n swak punt kry. En oor vryheid van spraak verduur kunstenaars tans baie pyn, vandag wil ek dit onderskei van die vryheid van rym. Die dubbele nie Eerstens kom daar saam met die rymwoorde ’n dief, en die vers reëls sit sonder ons dubbele negatief. Ons digters stoei al dekades met daardie tweede nie, gaan kyk gerus na die werk van Elisabeth Eybers en kie. Lekker ritme is die aanwins na sommige se mening, maar dáárdie ritme is ook ’n resep vir verveling. Rymdwang in lirieke maak ons taal baie seer, so ons moet paarrym se Britse bedmaat, Anglisisme, ook weer. Die liriekskrywers dink hul dade is reg, maar hulle het afgedwaal van die taalkundig smalle weg. ’n Man wat sing “ek lief jou”, vra kort voor lank ook “wil jy my trou”. En nadat hy vir jou belowe “ek doen”, gaan die swernoot jou nog boonop wil soen. Daarna dra jy vir altyd ’n rooi rokkie, en op maat van rymende lirieke gaan julle twee sokkie. Sokkie is lekker, makie ’n foutie, maar ’n voorspelbare lewe is jou voorland . . . bokkie (!). Hierdie vermaning bring ons by suggestie en subtiliteit, want dié twee is met ’n leeuloop by die agterdeur uit. Ek sit en ek luister en ek vra: “Is dit waar?” Wat op dees aarde het in die liriekskrywer gevaar? Ek kom van daai wêreld, ek is lief vir die Karoo, dis inbors mense, wat in goeie Afrikaans glo. Voel eers die ritme, voordat jy dit lees, is ’n upbeat nommertjie en haar stem is effens hees. “Oudtshoorn is ’n grootvoël paradys / los jou budgie by die huis / los jou mossie in sy possie / en speel met my volstruis.” Noudat my onderrok soos ’n sleepsel agter my , gaan ek verder my mond uitspoel en nog iets . Ek luister destyds na ’n lied en hoor die naam De la Rey, en ek weet hy gaan lei, ly, vry, stry of dalk speel met klei. Op die wysie van die wals wat daai woorde vergesel het ek summier gewens ek kan die generaal gaan bel. Hom roep,hom smeek, net pleit: “generaal kom tog oor”, voordat die Engelse hierdie Afrikaanse lirieke hoor. My noodroep was ook op maat van daai wals, my stem was wel so ’n klein bietjie vals. Maar hier is my lied, vir dié wat wil hoor, dis baie baie catchy, so sing sommer die koor: “De la Rey, De la Rey / sal jy die liriekskrywers kom lei? / Oor die Kakies wat lag / vir die rymende oormag. / Generaal, generaal, / sal jy hulle ’seblief (vir hoër diens) kom haal.” Die liedjie is oor, jy’s verlig dis verby, maar soos ’n soolvrat bly dié goed hardnekkig jou by. Soos die kat kom hy weer, kom soek daai ryme vir jou, dis soos hulle sê, rym help met onthou. Ek is moeg en ek gaap, die dag was lank en ek wil slaap . . . maar “ek het ’n toeter ’n toeter op my waterskoeter / ek het ’n toeter ’n toeter op my waterskoeter”./ Dit neem lank, ure, vir daardie watermure, en uiteindelik kom die vaak, wat soos mane skyn diep waterkuile raak. My oë sluit sag, ná ’n lang liedjieluisterdag, maar . . . “ek hou van kaas, bra / middel van die nag, laat dit raas, bra / feta, cheddar, mozzarella, ja, bra” . . . en ek wil slaap, bra! Goeie lirieke nes goeie wyn My vrou, die terapeut, sy sien my rubriek, berispe my onkunde en lewer repliek. “Vir kinders is rym ’n belangrike ding, dis pret en plesier en jy kan dit ook sing. Jy weet min en moet lees oor pedagogie, rymwoorde help kinders met fonologie. Daar is stringe artikels oor die waarde van rym, oor klanke en ritme, lees dit net fyn. En boonop, my man, hoe is jy groot gemaak, van wanneer af beledig jy ander se smaak?” Smaak verskil, voeg my liewe vrou verder ook by, so ná dese moet jy liefs donker stegies vermy. Wees gerus dat niemand hulle vir my sal vervies, die skryfsel is duidelik tong in die kies. Ek gee verder ook toe, ek veralgemeen nou, daar is baie Afrikaanse liedjies waarvan ek hou. Goeie lirieke is nes goeie wyn, dis waarvan jý hou, al kry ander ’n pyn. Inderdaad is daar liriekskrywers wat meer doen as paar, hulle omarm en kruis ook, en variasie word gebaar. Daar is baie liedjieskrywers met hope talent, tog is daar enkeles tot wie ek my hier wend. Kunstenaars moet vry wees om oor hul opinies te sing, tog is vryheid van rym soms ’n lelike ding. Stel jou voor Beeld is soos sommige Afrikaanse lirieke, van begin tot einde vol rymende rubrieke! Gun my dus in die bydrae hierdie wense, dis gebore uit ’n liefde vir my taal en my mense, wat ek saamvat met vier woorde: rym het ook grense.

*****

Jou opdrag:

Moenie te veel tob en tuur!

Afrikaans brand soos ‘n vuur.

Hier is jou rymwoord snoere.

Dig, rym of liriek.

Ons wag vir kragtoere!

moenie dat iets jou briek.

Woordsnoer met sommige of al die rymwoorde hieronder.

Moenie net paar – omarm en kruis,

Nes die muse jou lei en verwonder.

Dalkies kry jy ‘n ereprys.

– Erna Maré 2019

Rymsnoere:

geluksalig rooskleurig

*frappant kalant

fantasia kamelia

jakkalstroureëntjie kleintjie

droomverlore kleivore

herfstyd wyd

vriendskapverbond steekbaardhond

tjoepstil afskil

*hoeihaai inwaai

elkander verwonder

verfyn skyn

abba samba

lag douvoordag

*ronkedoor skoor

*frappant (ooglopend, opmerklik, opvallend)
*hoeihaai (bohaai)
*ronkedoor (alleenloperolifant of asosiale manlike persoon)

*****

So maak mens :

Jy kan ‘n enkele stel woordsnoer rymwoorde as inspirasie vonk gebruik, of al die rymwoorde – nes jy lus het.

Tower dan jou rym. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Ons uitdaging strek oor twee weke, 20 Junie sal die skakel sluit. Nooi blogmaats om saam te kom speel! En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie! https://fresh.inlinkz.com/p/86350a0e80e643788015a86178e3b125

Lekker snoer.