Ek moet toe nou gister twee tande van sewe eie tande gaan trek. Die proses sou nou al vergete gewees het, as my longe en brein nie ingemeng het nie. My aanvanklike afspraak was vir begin April. Toe begin ek mos hoes en blaf vir bykans 60 dae.

Niemand weet rêrig wat dit is nie. “Weer varkgriep,” “hiper-sensitiewe longe,” en so karring ek deur een kortisoon behandeling na die ander, allergex daagliks, nuwerwetse long moetie in ‘n pompie, baie Vicks, ouma se Lennon hoesgoed mengsel.

Moedeloos strompel ek gister vroegmore met my nuwe blêrstem by my huisarts in. Hy storm uit en bring ‘n inspuiting wat blykbaar alles behalwe builepes en die dood keer. Flippit, my boud brand nou nog.

Ek gaan vir bloedtoetse en x-strale. Huisarts vriend van 30 jaar laat weet die bloed uitslae is nog hangende maar op die X-strale daar is niks behalwe dat ek blykbaar ‘n krom ouer bejaarde gaan wees. Niks nuut daar nie. My skelet is ook die rede dat die tande… ag ja, ek wou vertel van tande.

Omdat ek so lank siek en aan huis gekluister is, waag ek, tussen vroegoggend Doktersbesoek, x-strale en bloed en die wrede noen tandarts slagting, om by die eienaar van my hare te hoor of ek nie maar vir ‘n knippie kan kom nie. Jy weet sulke knippies is goed vir mens se gemoed. Sowaar! Sy sê dis reg – iemand het nie opgedaag nie. Siestog vir hulle, hoera vir my.

My mooimaak maat snipper my hare in ‘n lekker kort, dis winter, serp-hou -my-nek-toe-wipstyl. My gemoed lig met elke klos hare wat vloer toe val. Soveel hare, ons kon dit stuur om vir vyf Sjinese pruike te maak. Weg is die ou Daisy de Melker moegheid. (Het julle al haar foto bekyk… hoe de moer het sy soveel mans om die bos tot by die gifbottel verlei, wonder ek altyd.) O, ja ek stel uit – die tande.

Vol haar snipsels en babapoeier, meld ek by die tandarts aan. Ek is effe vroeg, en gaan sit rustig en wag. Daar is ‘n splinternuwe ATKV Taalgenoot tydskrif, tema swart en wit. Ek is dadelik in my element. Maar net voor ek my neus in die tydskrif druk, sit ek eers die spreekkamer en bekyk. Iets is anders. Oral is eseltjies, ek praat van oral, teen die mure! Porchie en Vader Claerhout se invloed duidelik. Maar te veel is te veel.

Ek sit verslae – my gunsteling spreekkamer ding is weg! ‘n Retro kunswerk uit die 1970s in ‘n silwer raam. In pers en geel en rooi en wit. ‘n Skildery van ‘n gedekontsrueerde tand.

Ek het altyd met die tand sit en gesels oor die toestand van my eie tande. Sy was daar toe ek benoud na skanderings en beendigtheid toetse moes hoor dat my tande nie my aftree jare met my sou haal nie. Dat hulle so los in my kake sit dat ek nie eens teater toe hoef te gaan om hulle uit te haal nie.

Sy was daar om my te troos toe ek een Vrydag instap met ‘n bek vol tande en twee ure later bloedbek vol plastiek daar uitstap. Dit was bykans twintig jaar gelede.

Oor die jare, as ek die afgeslypte plastiek tande moet laat versien of vervang, het Tand getrou vir my begroet. Gister toe ek daar kom om nog twee van die paar eie tande prys te gee voor hulle langdienstoekenning, en hartseer is, is Tand weg. Gelukkig is die vars Taalgenoot daar om my ontsteltenis te verminder. Lekker aandag afleibaar is ek van pure benoudheid.

Maar ek wou eintlik oor tande en tandloos relaas. Die trauma het ek het my nie kon indink om meeste van my tande te moes trek en met ‘n kunsgebit bolangs verder deur die lewe te moet gaan nie.

Op hoërskool het ek ‘n boonste oogtand verloor en ‘n sedertdien ‘n plaatjie moes dra. Ek moes toe al die waarskuwing begryp het, maar jonkheid is ydelheid.

Die nuus en die trek proses – sommer so gou in die spreekkamer, die was niks. Dit was die eerste kyk na tandlose ek in die spieël wat my geruk het. Weg is die vrou met die breë glimlag en effense wangbene. In haar plek staan bergiebek. Hoe sal my man my ooit weer lekker soen, sal hy my ooit lief kan hê? Afgryslik.

Hy kry my in snot en trane. Ek word styf vasgehou en hy se:”Hei, dis nou vir botter of vir wors. Ons het mos so belowe. Jy is my vrou met of sonder tande.” Dit het getroos en my minder ontsteld laat voel.

Maar sien, ek is met ‘n terggees getroud en sy kind is ook met die gene geseën, en ek – my moermeter is maar vinnig aansitbaar. So my tande…dis maar ‘n storie.

Tien dae na meeste van my tande vir ewig en ewig weg is en ek gewoond raak aan die spul plastiek tussen my verhemelte en spyse, en spyse tussen die plastiek en my verhemelte, maak ons reg om vakansie te gaan hou.

Die buurman oppie plaas, wat toe nog ook jonk was, kom douvoordag om te help pak en sleutels en honde oppas opdragte te ontvang. Ek hol oudergewoonte, net voor die kar aangeskakel word, terug in die huis in om seker te maak ek is seker die stoof is af, geyser is af, ketels is af en krane is toegedraai.

Sal die klein kontant so ewe aan Rots stamp toe ek in die motor klim. “Het Tannie die tande onthou,” en hulle skater van die lag. Die bliksems met hulle bekke vol tande. Ek pleeg net daar moorddadige sonde. Bly doodstil en draai vir my dwars in my sitplek. Daar is nie ‘n woord in die kar gesê tot in Kimberley nie. Dit was ‘n lang dag vir Rots en Bab en haar vriendin, en ek het ‘n hele blokraai boek voltooi. Dit was lekker. Ek het ook daai vakansie die skommelboot op Ratanga Junction drie keer gaan ry, oopbek en los hande, en die tande het bly sit. Halleluja!

So sit ek vanmore en verlang na Tand wat nou ook weg is, daar in my tandemuis se spreekkamer. Toe my beurt kom, vra ek sommer waar is Tand. Hy het nie’n idee nie. Ek sê hy moet vir hom soek en dan maar oorkant die stoel van pyn hang. Tand is saam met baie van ons oor die jare deur drama.

Ons gesels lekker – my tandemuis en ek. Al stop hy my bek vol watte. Ek is klakkeloos lief vir hom en sy dierbare assistent. Dis buiten Rots, die enigste mense wat vir bergiebek ek sien. Dit vat moed.

Ons gesels oor klomp goed terwyl ons wag dat die tande trek inspuitings werk. Ek noem aan hom dat dit my so dwars in die krop steek dat mense so kan spot oor kunsgebit en tandlooshied.

Dis net so erg op mens se selfbeeld as wat ‘n mastektomie of amputasie of so is. Dit verander jou menswees. Jy is nimmer jou oorspronklike self. Ja, ek besef mens gaan nie dood van tandloos wees nie, maar jy is nie ooit weer daai na geskape beeld oorspronlik nie, jy is iets anders. Daar is hordes dinge wat verander.

Jy ontmoet jou tande soggens by die tandeborsel in hulle badjie, en vanaand groet jy hulle daar. Heeltyd saam is julle nie weer nie, net bedags. Eish, en nee, hulle slaap nie voor die bed nie.

Nimmer sal jy chappies kou, of biltong sommer so afskeur om te kou. Kaas en winkelbrood is taai en spinasie en blare weet net waar om aan daai plastiek vas te plak dat jy jouself van die tafel moet verskoon.

Dan is die skerpte van ‘n aarbei-, kiwi- en turskvypit iets om oor huistoe te skryf. Lemmetjieskerp en seer as die tussen verhemelte en plastiek beland.

Dan, as moet praat om jou brood te verdien op die kaarte is, en die Corega gom op ‘n warm dag taai raak, en al wat jy dink is om daai tande nie te laat spring nie, en die sweet van angs loop teen jou voorkop af….Jo, dis onlekker. Jy verstaan duidelik daai “in die sweet van jou aanskyn….” Maar ‘n mens raak slim en braaf. Dank die Vader vir aanpasbaarheid.

Tandemuis reken dis daai ‘there for the grace of God go I’-reaksies. Mense is so dankbaar dis nie hulle wat die tandprobleem het nie, dat hulle meewarig en met ironie dit probeer afmaak as niks nie. Hy voeg ook by, hulle kan die tande sien, ‘n mastektomie, en meeste amputasies en so is ‘onsigbaar.’ Tandemuis praat waar.

Ek is lankal nie meer kleinserig oor die tande nie – na soveel jaar is dit maar my normaal. Ek smaail en dis my beste smaail, en mense is nog lief vir my. Moet sê my tandemuis tegnikus is ‘n kunstenaar, want as ek nie vertel nie, of nie ‘n blaps het met tande wat spring nie, kom niemand agter nie.

As Bab en Rots tandpyn kry – speel ons Pollyanna en herinner ek hulle dat stopsels beters as plastiek is, dan voel hulle beter.

Rots het nou die dag ‘n biltongmaler moes trek – sy eerste tand. Hy het kom askies sê vir die vakansielag van destyds.

Hier waar ek sit ek skrywe, klop dit in my onderkaak,waar gister twee tande was. Maar dit sal ook verbygaan en oor twee weke sit ek weer met ‘n bek vol plastiek tande.

‘n Sin vir humor is al hoe mens oorleef.

Baai!

Ns. Nee dis nie ek nie, dis ‘n internet foto. ‘n Toebek is ‘n heelbek, wees gewaarsku. Hehe!

NS. Die Huisarts het gebel – daar is niks in die bloedtoetse wat vertel wat my borskas makeer nie – so julle kan maar die verassingsdiens partytjieklere wegbêre! 😉