My kop maal vanmore. Ek gaan maar al die warreling neerskrywe, ten minste gaan ek ligter voel.

Eli en ekke en 17 672 614 mense het toe gaan stem. Net 66,05% van Suid-Afrikaners wat op die kiesersrol is. Jinne, waar was julle ander 33%?

Julle moet maar Elasoplast vir julle bekkies koop en stil bly vir die volgende paar jaar. Tjoepstil as die tou by die hospitaal kliniek te stadig is, die slaggate jou kar insluk, die spietkop meer as net dors is en jy in die algemeen soos ‘n Kardashian geld oor die palm moet stoot, al het jy dit nie.

Ek sit vanmore en bid vir daar CR man wat die parlement se warmsitplekke moet beman. Ek moet sê ek beny hom nie. Ek hoop hy maak goed huis skoon, sit al die vetkatte op dieet. Ek bid.

Ek bid die rooipakbrigade word nou mooi groot en begin werk pleks van wriemel en woel soos stout kinders in die kerk. Jou se ouma hou jou nou van die anderkant dop Julius. Gedra vir jou.

Ek sit en kyk na die verkiesinguitslae. Statistiek vertel ‘n mooi storie. In die hele Suid-Afrika het net 19 796 vir daai baie kwaad Andile outjie en sy BLF gestem. Fok. Maar die media gaan aan asof die ouens saak maak. Wragtig! Hulle en hulle eweknieë van die bleker soort moet totaal ignoreer word. Daai waarskuwing van die wyses:” Beware of the verbose few,” moet gehoor word. Waddehel makeer ons dat mense wat ooglopend geen ware steun onder Suid-Afrikaners het nie, ‘n platform gegee word dat hulle wraggies mense in angsaanvalle kan inboelie.

Wat makeer die media om so aanmekaar tyd en plak aan diesulkes af te staan. Ons samelewing in nie veel beter as die Romeine van ouds nie. Gooi mense vir die leeus, juig oor hoe hulle verskeur word. Ons is barbaars, is al wat ek kan sê.

‘n Mede-blogger sit my vanmore ook aan die dink. Ek dink nie ek gaan stilbly nie. Ek het ‘n stem. Het hom in protes uitgebring hierdie jaar, maar ek het hom gebruik. Ek betaal belasting, gehoorsaam die wet, glo in ons grondwet, met my klein besigheid dra ek by tot die ekonomie van hierdie stukkende land. Op grond daarvan sal ek nie my bek hou nie.

Ek sal vertel van onreg, ek sal die padvark aankla, ek sal die korrupte spietkop vra of hy so met sy ma sou maak. Glo my, daar is risiko’s en houdings, maar ek gee nie ‘n snars om nie.

Ek is ‘n wit Suid-Afrikaner. Afrikaans my moedertaal. Kerkloos. Braai gereeld en my man drink graag brandewyn en ek laaik Chardonnay.

Ek hou nie van Steve nie. Hy mors sy godgegewe talente uit, hy verteenwoordig my nie. Hy kan egter homself nie help nie, gene jy weet. Sy oupa Hofmeyr was destyds ook ‘n bedrywige kêrel in die land se politiek. Aan die anderkant verteenwoordig Tim du Plessis of Julius Malema my ook nie.

Elkeen van ons is geregtig op ‘n eie mening. Jy is nie noodwendig reg of verkeerd nie. Lees vanoggend ‘n meme: Wie is jy om my te oordeel. Het God ‘n vakature adverteer? Dis hoe ek voortaan oor mense se vitrioel op Vuisboek gaan reageer. Skree en skel en vloek, dit maak nie saak nie.

Ek het baie kinderjare in Swaziland gewoon, daar waar die Queen die land vir Koning Sobuza teruggegee het. Swart, Indiër, Kleurling en Wit het daar in vrede saamgeleef, skoolgegaan. Die Swazi het Swazi gebly, die Moslem sy kultuur behou en ons blekes het gebraai en met ons lewens aangegaan. Niks fout nie. Daar het ek geleer van marog, primus stowe, kerrievis, Liewe Jesus, mopaniwurms, tiekiepoeding, sokker, stamdanse, burkas, Vader Krismis en Oxford Ingels.

So my belewenis van ander volke en kulture is seker maar anders as die deursnee wit Suid-Afrikaner s’n. My pa en oupa het my geleer om respek vir mense te hê, hulle taal en kultuur en sienswyse te verstaan. So ek is eerder meer nuuskierig oor, as bang vir mense wat nie soos ek lyk nie, wat ander gebruike en lewensbeskouing het. Daar. Nou weet jy waar ek en my opinies uitval.

Hoe kry ons die afwesige kiesers by die stembus? Dit is die groot vraag. Dis hoe die politieke landskap van hierdie land sal verander. Kyk wat het pas gebeur.

Liewe DA of nee, julle is mos nou ANC-lite. Siestog, julle het julself darem lelik in die voet geskiet. Moenie die stilswye van kiesers as steun aanvaar nie. Julle is hard gepiets.

Liewe ANC, my beskeie mening is dat as dit nie vir CR was nie, het julle dit nie gemaak nie. Ek dink die opdrag aan hom is duidelik. Maak huis skoon. Ons het jou gehoor en stuur jou nou CR. Tuma Mina meneer. Jy is gestuur, doen nou. Blaas die korrupte en ander bliksems wat niks beteken nie uit die water, smyt uit. Maak skoon, maak reg.

My J, geen verwantskap aan die rooipakkie nie, sê nou die dag vir my hoe moedeloos hy is om hospitaal kliniek se apteek toe te gaan en te sien ‘n swart apteker is aan diens. Ek vra hom wat hy bedoel. Hy vertel so;” Ma, as die swarte aan diens is en dis teetyd, stop hulle om te gaan tee. Etenstyd dieselfde en dan vat hulle lang lunch, en ons moet maar wag. As jou beurt kom en dis vieruur, dan maak hy daardie deurtjie toe en jy moet maar huistoe gaan en more weer kom. Maak nie saak jy het nie geld vir twee keer se taxi nie, maak nie saak dat jy by jou werk moet gaan verlof insit nie, niks maak saak nie. Die wit apteker se ry in kliniek (verwysend na pre-1994) het nie so gewerk nie. Ek is moeg om so te sukkel.”

J het egter weer vir die ANC gestem. Dis wat hy ken en wat is sy opsies? Dit gaan nie sommer verander nie. Dit prys van bevryding is hard en vir altyd en ek neem hulle ook nie kwalik nie. Die seer en vernedering wat hulle ma en pa en ouma en oupa as gevolg van my ras se voorouers se oordrewe drang om oorlewing en reaksie op verdrukking, kan ek nie wegvat nie.

Maar, hier is ons nou. Hier in Limpopo is die mense so voos en gedaan, ons stempersentasie was maar 58.69%. Die DA se voete onder hulle uit en die EFF kraai nou op die opposisie mishoop. Ons dorpe se munisipale dienste is in hulle peetjie, onregte word in hospitale, skole oorgesien, want….omdat die lied nie verder gaan, begin ons weer van vooraf aan.

Ja, sal regses nou sê – sien dit was beter in die ou dae. Nee, fok nee. Dit was nie. Ons moet nou uit ons lamlendigheid opstaan en saam met Julius en Eli protesteer. Ons moet uitwys, raas, baklei om dinge te verander. Fok die verbale minderheid wat rassis, rassis skreeu. Skreeu terug. Wed jou hulle skrik hulle dood!

Okey-dokey. Ek kopdoek en sonbril vandag sodat die pyle en kwaad wat my na dese gaan tref, misgeloop kan word. Baai! 😉