Oe, lekker, lekker. Die langtafel word op Rebusfontein se dorpsmeent by die waterput en die Giggelgroenbus se pergola gedek.

Ek is opgewonde en hol op die maag tegelyk.

Opgewonde om my geliefde gas saam met my te laat aan sit, en senuagtig om die minder beminde, maar aan my bekende, gas langs my te laat sit en ‘n gesprek te moet voer. Maar, ons is mos Towerinne en net so veel kere as wat ons pret en avonture kan beleef, net so is ons sterk genoeg om moeilike of netelige situasies ook te hanteer.

Gemeensaamheid en uitreik is die doel, en op Rebusfontein en om ‘n lekker bord kos is wonderwerke moontlik.

My kossies: ‘n Reuse bord vol Ala Jan Braai skaapstertjies en Jamie Oliver se weergawe van suurlemoen Amalfi.

Trooskos, eiekos, onthoukos en oe-dis-lekker-nuwe kos.

Albei disse smak na die eenvoud en goedheid van die lewe. Gedek met net ‘n vurk, vars ciabatta met olyfolie bedruip, yskoue Spier Chardonnay en ‘n bakkie warm suurlemoen water en ‘n jammerlappie om die lekkerte wat om jou mond glim en jou vingers taai maak te kan tem!

Die resepte volg onder aan die relaas.

Nou volg die moeilike deel. My gaste. Daar is honderde mense met wie ek sal wil sit en gesels. So hierdie is ‘n taai ene. Sal dit ‘n politikus wees, ‘n skrywer, ‘n akteur, ‘n filantroop, ‘n miljarder?

Anne Frank, Vincent van Gogh, Jan Smuts, Moeder Theresa, Magdalena Retief, Tsjaka se ma, DJ Opperman, Elsa Joubert, Paul Kruger…mense wat my besiel en bekoor oor soveel jare tafereël deur my gedagtes.

Ek skop myself dat ek die windgat is wat hierdie uitdaging uitgedink het. So broei ek sedert ek die blog gepos het verlede Donderdag.

Vanmore toe ek wakker word met die nuwe dag se genadegawe besef ek wil saam met Josef, Jesus se aardse pa, wil ek eet!

Ek wil hoor hoe hy en Maria geglo het soos hulle het. Hoe hy teen sy mense se wette en gewoontes, by Maria met haar Groot Nuus bly staan het, hoe hy met God se Seun in sy arms gestaan het as die aardse aanneem pa en daardie brose baba met sy lewe beskerm het sodat Sy Vader se
koningsheerskappy kan aanbreek.

Ek wil hom vertel van sy plek in die Groot Storie. Hoe sy bloedlyn en menswees vandag nog en vir altyd ‘n impak het.

“We don’t hear a single word from him, and he only shows up in 16 verses in the New Testament,” the Rev. Adam Hamilton says of Joseph, the earthly father of Jesus. “Yet his impact on our faith, on Christ, is profound.”

Hy was eerbaar. Na hy uitvind dat Maria swanger is, besluit hy om stil van haar te skei – om haar eer te beskerm en haar lewe te red. Want destyds sou so oortreding met steniging gestraf word. Soos sy Ou Testamentiese naamgenoot word hy ook in ‘n droom deur ‘n engel besoek. Dit is God se seun, Josef. Josef sien van sy egskeiding plan af.

Hy beskerm weer vir Jesus teen mensgemaakte gevare na ‘n engel hom ‘n tweede keer kom besoek. Hulle vlug Egipte toe, en ‘n derde keer luister hy toe die engel vir hom sê om sy gesin terug te neem na die Heilige Land.

Hulle vestig in Nasaret waar Josef as “tekton” (bouer) werk. Sekerlik is dit waarmee Jesus Hom ook sou besig hou in sy onsigbare jare. Hoe wonderlik om te besef dat ‘n eerbare, hardwerkende man met ‘n gelowige en oop hart die aardse vader van Jesus was.

Dink net, wanneer Jesus na God verwys het as ‘n liefdevolle Vader, het Hy sekerlik Sy aarde pa Josef se liefde as verwysing gebruik.

Ek klink ‘n glasie op jou Josef. ‘n Voorbeeld deur alle tye van die waarde van karakter en integriteit, gehoorsaamheid, getrouheid. Die über-ouer!

Die ander gas….mmm. Eers wou ek vir Eva nooi. Ek besef toe dat ek nie ‘n lang gesprek sou kon hê nie. Want al wat ek nog sedert die dag wat die maandstonde monster en alles rondom vrouwees en “sweet van jou aanskyn”-gevolge kom aanmeld het, by haar wou weet: Hoekom, Eva, hoekom? Was daai happie wragtig die moeite werd. Besef jy watse appelkar jy om gegooi het?”

En toe ek nou so sit en dink, kry ek arme Eva so jammer, want sy is elkeen van ons. Hoekom-goed loop saam met almal.

Toe besef ek. Dis twintigjarige-ek. Met haar moet ek sit en brood breek.

Ek wil vir haar vertel dat sy nogal moeilikheid veroorsaak het. Mense seer gemaak het, vreeslike keuses veroorsaak het en dat woede nie werk nie.

Maar ek gaan nie so aangaan met haar dat sy ‘n hormonale uitbarsting kry en ons lang tafel om-bliksem nie. Ek sal saggies met haar werk, soos wat eintlik destyds moes gebeur het. Ek gaan vir haar die voorloper wees wat destyds nie tot haar beskikking was nie, en vir haar troos en wys alles het ten goede meegewerk.

Dat God se genade onbeskryflik groot is.

Dat gister net ‘n gedagte is, more nie saak maak nie. Dis net elke nuwe dag wat werklik tel. Dat klomp elke nuwe dae se vorentoe tree in geloof en vertroue – dit maak more die moeite werd.

Ons kyk mekaar in die oë en ‘n traan van dankbaarheid rol oor my wang. Vergifnis is bevrydend, self vergifnis ‘n genadegawe.

Om my sit geliefde blogmaats en hulle gaste. ‘n Luisterryke feestafel.

Ek neem ‘n slukkie Chardonnay en hoor hoe Toortsie beduie, Hester lag saggies en Kameel sit stil luister. My oë gly so met die langtafel af, en ek vang elke Towerin se oog. Liewe Una, Sonell, Frannie, Scrapy, VirgoC, Seegogga, Trommels, Woordnoot, Bondels, Perdebytjie en Positief.

Oral praat mense dooie jakkalse aan die draf.

Hier op Rebusfontein doen ons wonderlike dinge.

Die uitdaging – om dit wat ons by mekaar leer, in die regte lewe te gaan toepas. Want wat hier oor Josef geskrywe staan, is vir almal waar:

“It’s a beautiful story that happens just exactly the right way, but it was hard to see that at the time. I think that’s true in our lives. We take journeys we don’t want to take. Then, when we look back, we go, ‘Wow! Look how God used that! Look what God did in the journey!’” –
Adam Hamilton,
Faithful: Christmas through the Eyes of Joseph.

*******

Langtafel smulgoed – so maak mens:

Skaapstertjies ala Jan Braai
Jan Braai se video beduie die skaapstertjies te mooi. Lekker kyk en hou maar ‘n lappie vir die spoegkliere byderhand, mens kan jouself nie help nie.

Jamie Oliver se Ala Amalfi Suurlemoen Mozerella lekkerte

1 Suurlemoen per persoon.

Twee suurlemoenblare per suurlemoen

Sagte mozzarella kaas

Vars Basieliekruid

Roma- of kersie tamaties

Sout en swartpeper

(Olywe of ansjovis fillet kan ook bygevoeg word – ek verkies die skoon varsheid van kaas, tamatie en basilie omgewe deur suurlemoen)

Maak so:

Sny die bo- en onderkant van die suurlemoen af. Hol die suurlemoen uit en laas op suurlemoen blaar op ‘n bakplaat. Herhaal tot jy een vir elke gas het.

Met ‘n uitgeholde suurlemoen as templaat, sny mozzarella sirkels – twee per suurlemoen op jou bakplaat. Een skyf word onder in die suurlemoen holte geplaas, dan volg gehalveerde tamatie en basiliekruid blare en dan word sout en peper bygevoeg en laastens die ander stukkie kaas en sprinkel met paprika.

Bak teen 200­°C (voorverhit) vir 4-5 minute of tot die kaas lekker borrel – nie brand nie!)

Op ‘n mooi bordjie plaas jy nou ‘n vars suurlemoen blaar, lig dan saggies met ‘n spaan en liefde die gebakte suurlemoen van sy oond blaar af op die bordjie – en siedaar.

Eenvoudig, mooi, mooi en hemelse geure en reuke en smake. Lekker smul.

*******

WIL JY KOM SAAM KUIER? MAAK SO:

Ons langtafel is sosiaal en gemeensaam van aard. Ons kinkel is dat elke Towerin en Blogmaat plek vir haar of homself en twee gaste aan die tafel het. Dit moet ‘n beroemde of bekende persoon wees – een wat jy bewonder en een wat jy verpes. Dis nou lewendes en die wat ons reeds vooruit is. (Broodina het ons mos geleer om selfs die van wie ons nie so baie hou nie, te aanvaar.)

Ook moet jy asseblief iets lekker bring om aan jou gaste en ons ander voor te sit. Vertel hoekom, en deel die resep as jy wil.

Kom ons kuier, begrawe strydbyle, bou brûe, smee vriendskapppe en smul lekker saam soos net Rebusfonteiners kan.

Voorbeeld Vonk

Towerin 17 Onbekend bring vir John McEnroe van tennis faam omdat hy so vreeslik kon vloermoer en dis nie sportmanskaplik nie en sy bring vir Dolly Parton omdat niks haar onderkry nie, nie eens spottery nie!

Smulgoed wat sy bring is Makataankonfyt en varsgebakte brood.

Mik om so 500 woorde te skryf dat ons lekker kan lag en lees en mense leer ken.

Onthou om jou bloginskrywing op Inlinkz te gaan haak:

https://fresh.inlinkz.com/p/f3a95533873d4e39950509a1af369d8a