Foto: Erna Maré© 2012

Die draai van die seisoen, waar ek gewoonlik liries en vuriglik opgewonde raak oor die bome wat blare in roes en rooi verkleur en dan so tergdanser afgooi om in volle naaktheid die koue winter in te gaan, breek aan.

Vanjaar kry ek weer nie kans om my buite te verwonder aan die herfstyd nie. Nee, hierdie herfs is my nemesis. Slangsleperig, laer as haaikak sleg begin Van Riebeeckdag vir my. Dis nogal soos daai fliek Groundhog Day,
 déjà vu, ek het hierdie al beleef- gevoel. My bors is benoud, daar is sweerlik ‘n haarwurm in my keel. Agge-nee!

Verlede jaar het die grootste gedeelte van herfs, net na Rots se rugby-seëvier nek fusie suksesvol van hom ‘n amper-stywenekkie gemaak het, ontaard in ‘n varkerige, graat in my keel, chroniese droë hoes, kwaad long affêre. Ek het myself in neerslaan floute in gehoes.

My liewe huisarts van amper dertig jaar het my toe gewaarsku – die ding sal weer kom kuier. “Hou die pompie en die ant-histamien byderhand,” het hy gewaarsku.

Tjag, wat wou. Ons klim mos kaalvoet oor hindernisse, en ons geheue is kort.

Terug by arme oorlaai van blaam Jan van Riebeeck. Op 6 April 2019 word ek wakker. Lekker pieperig. Keelseer, oorpyn, krap in die keel. Ek ruk standaard medisyne en dokter se moetie van verlede jaar uit die kas. ‘n Week later strompel ek betraand, maar moedig by die arts is. Hy kloek en troos en gee kortisoon en vra my om dit rustig te vat.

So hoes en kug ek maar, en bid die kortisoon bring alles tot bedaring. In Japan. My brein en longe smee bose planne en gesels onophoudelik met mekaar oor die harige wurm wat hier binne my rondkruip.

“Hoes,” vertel Brein.

“Oukei,” sê Longe.

Diafragma en Ribbes en allerlei spiere wat gewoonlik heerlik rus en roes skrik wakker en almal span saam. Fokkietog, kan hulle my psige ook net inlig asseblief!

Dis asemsnakkend seer, uitputtend. My frieken winkeltande wil uit soos daai kersdoodblaas GIF tannie op Vuisboek s’n. Ek moet net keer. My menopause lappie het nuwe werk – keer dat tande uitval en onderdruk die bulkende, hygende geblêr as ek hoes!

En dan, ag siestog, my sfinkter het geen verweer meer nie. Wat nie bo wil uit nie, laat die ou spiertjie doer ver in die nederlande van my lyf maar onder erge druk en oorlewing ter wille, los. O aarde. Ek was nog nooit so bly ek is meestal alleen tuis nie!

Hoewel, die arme honde loop met verbaasde uitdrukkings rond as hulle in die omtes van so hoes—–bui is. Bloos. Erg embarasserend soos my Rots sal vertel. Hierdie flatulensie is in ‘n klas van sy eie. Jô! Newwermaaind, laat los en laat gaan. Dis meer “ready or not, here I come.” Ongeskik.

Ek kry bloedvinte. Julle. My lyf se binnekant het oorlog verklaar en my nie saamgenooi nie. Die vyand – ekmyselwers.

Voorverlede Vrydag gaan dit aansienlik beter. Soveel so dat ek dorp toe gaan vir die knippie wat al twee maande gelede moes gebeur het. Kuier lekker by die maak-my-mooi winkel. Gaan kies en betaal by my supermark en gaan kuier by die Lekker winkel. Trek lekker warm aan en kuier op die stoep saam met Rots en Bab. Ons skrabeer te lekker.

Die Maandag daarna – my keel krap. Ek weet mos nou wat om te doen en begin dokter. O, eh,eh. My longe en brein is die bliksem in. Lang storie kort, ek is vanmore weer betraand en uitgemergel by die arts.

Want sien, ek het mos toe as Mollie van Marokko gaan Wiele500 tee bywoon. Stemloos, opgedress saam met my bende. En nou betaal ek met rente. Almal, ek in kluis is nou bang ek val neer en sê ja vir die lig as die vreeslike hoesbuie my tref.

“Jy is te woelig,” raas Dokter Vriend. Rots is saam spreekkamer toe en beaam alles wat my dokter sê. So, ek het nou sterker moetie, moes pajamas kom aantrek en moet ‘n fokjou pilletjie drink om my lus vir lê en stil wees aan te wakker. Moet sê ek dink gagga dagga verbruiker outjies voel soos ek. So lekker ver en die hoes en sfinkter swakte – newwermaaind!

Baai, klaar relaas oor my horries, hoeserige herfs. Volgende jaar gaan ek met vakansie. Ek gaan nou verder slaap inhaal. My liggie is flou.