Ja, toe. Trek julle grootdogtertjie pênties aan, hier gaat ons alweer met ‘n wending! Julle moet nou mooi alles stadig lees, en dan maak soos Towerinne maak.

Ons gaan voortaan so woordsnoer-woordsnoer op ‘n keer, een maal per maand in Rebusfontein kuier en avonture beleef net soos Towerinne kan!

Ek sal die woordsnoere soos altyd , in vet druk in my bydrae hieronder gebruik. Skryf die snoere neer so terwyl jy lees, en vertel dan in jou eie bydrae van jou eerste oggend op Rebusfontein en hoe jou huisie lyk en wat ookal jy reken op Rebusfontein aangaan. Haal asem – ek vertel nou meer!

Die scenario

Die Towerinne het pas hulle intrek in Towerinstraat, Rebusfontein, #MiddelMzanzi geneem. Die magiese plek is waar die veertien Towerinne en medereisigers van die giggelgroenbus elkeen haar unieke huisie bewoon en op Rebusfontein towerin kraai.

Met die dat Game of Thrones ook nou hulle laaste seisoen beleef, reken ek Rebusfontein se Towerinne is die volgende reeks wat die wêreld kan aangryp.

Aanstaande maand sal ons dan begin Towerin-avontuur met behulp van bepaalde snoere en gebeure.

Hoop julle gaan almal – die towerinne en mede-bloggers wat ons avonture geniet – sommer lekker saamspeel.

Die hemel weet ek het ‘n sonskyndag, lekker lag, liefdevolle Towerin-geselskap en -pret broodnodig!

Die Inlinkz skakel vir jou bydrae is onderaan my relaas.



Welkom op Rebusfontein

Vroeg vanjaar, in die middel van Suid-Afrika, by Emmaus, het die giggelgroenbus tot stilstand gekom. Die Towerinne van Blogland het na ‘n epiese toer daar hulle avonture begraaf, weggebêre. Skaars vier maande later blyk dit ‘n gruwelike fout te gewees het. So, waddehel, ons het nie ‘n diatribe of gestry nodig nie. Ons gaan eenvoudig terug na die afgeleë plek! Die wiele draai nog voor ons die bal aan die rol sit!

Dis pas 24-uur na die ElonMusk vliegmasjien arriveer by die eindpunt van die Towerinne se epiese giggelgroenbustoer deur Suid-Afrika.

Wat ‘n wonderlike verrassing het hier op die veertien meestal lewenslustige, maar huidiglik baie ongeïnspireerde spulletjie Towerinne gewag.

Uit hulle vergane drome het Rebusfontein verrys! ‘n Plek net vir hulle, in die magiese #MiddelMzanzi.Ja, daai dreinpyp waar ons almal in afgesuig is, is toe ‘n pad na verdere reise.

Jinne, dit was darem lekker toe ons van die vliegmasjien se staanplek per blomversierde ossewa Rebusfontein se hoofstraat af is! Ai, en om vir Lorenzo, Silwer en die bende, Abrie, Lewies, Storie(Klong)(Mal)Jan, Sonell, en Broodina, man en muis in die skare op te merk. Daar, onder ‘n pergola staan die giggelgroenbus! Die straatkiosk is die Toweropstal se Bali container.

Elke babbelkous op die ossewa raak tjoepstil toe die optog in Towerinstraat opdraai. Daar staan veertien huisies. Nuut en fraai. Vlinders speel oral rond. In ons are bruis innige blydskap. Die les vir elkeen dat sigeuners ook kan ophou reis en hulself vestig. Om darem nou elke dag jou maats te kan dagsê. Dis nou luuks en rede om nie die blues te wil sing nie.

Op elke huisie se stoep by die voordeur staan ‘n vriendelike Bali-eend. Ja, elke Towerin se liefie persent van Una en Positief, het ook op Rebusfontein hulle staan gekry. Elke tuintjie het ‘n lieflike spekboom heining.

So word die Towerinne by hulle adresse afgelaai . Towerinstraat 1 tot 14 word so in volgorde betrek:

  • Hester (Sintester), leier en breinbreier (Nommer 1 Towerinstraat)
  • Una Balions groot omgee maat en reisiger van formaat (Nommer 2 Towerinstraat)
  • Scrapy, ons  ver-vriendin, ouma van formaat, skeppende siel (Nommer 3 Towerinstraat)
  • Kameel, ons lesende maat met baie talente veral as Camilla ons harte steel (Nommer 4 Towerinstraat)
  • Toortsie, warrelwindbesige banter, singer, skrywer en eintlik alles
  • (Nommer 5 Towerinstraat)
  • Perdebytjie wat mooi met haar kameralens zoem en lief is vir die natuur (Nommer 6 Towerinstraat)
  • Tannie Frannie mooi en vol grasie, lief vir boeke en broodjies met spasie (Nommer 7 Towerinstraat)
  • Positief met haar minoraskerpte het ons almal baie lief (Nommer 8 Towerinstraat)
  • VirgoC, doen graag voluit en laggend mee al die pad van oorsee (Nommer 9 Towerinstraat)
  • Seegogga van min maar skerp woorde, verras ons uit alle oorde (Nommer 10 Towerinstraat)
  • Bondels vol mooi en pretgedagtes en ook nuut op ons (bus) boot (Nommer 11 Towerinstraat)
  • Trommeltjies  ons stil vriendin, maar maak net eers daai kissie oop (Nommer 12 Towerinstraat)
  • Woordnoot, sprak nie vir haar man ‘n woord van haar reis en wat sy ons laat beleef nie (Nommer 13 Towerinstraat)
  • En ekke, as Lekkervurig begin, nou bekend as Vuurvliegie bly in Nommer 14 Towerinstraat
  • Die huisies van nommer 15 verder, wag geduldig vir intrekkers. Sonell, en al die ander Bloglanders – ons wag om te hoor wie trek waar in!

Dis ‘n lieflike herfsoggend. In Towerinstraat nommer 14 is ek, Vuurvliegie saam met my towerhond, Ringo, wat my met woordsnoere help, glad nie vadsig nie. Daar is baie om te doen, dis die reine waarheid. . My huisie is vol boeke, om elke hoek en draai. Oral lê blokraaie en woordeboeke rond.  Die  navors, dors-na-inligting, ewige student binne my is opgewonde.

Die eerste dag ingeburger as een van Rebusfontein, se honorêre inwoners begin met ‘n gelag en gegiggel buite.

Ek stap uit.

Sowaar, daar sit al die Towerinne in hulle pajamas op my stoep.

“Is hier nie koffie nie,” koor hulle.

“Maar natuurlik,” woef Ringo. “Beskuit en banting muffins en kaas sonder muisvalle.”

Ons gaan sommer lekker hier bly.


**************************

Wil jy saam woordsnoer en Towerinavontuur op Rebusfontein? So maak mens :

Jy kan ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

https://fresh.inlinkz.com/p/c79e46273dd84a68bceb38fb23d1f7c5

Lekker snoer.