En daar, na al die vrede van die Pase, kom lol die regte lewe in drome en oopoog tyd.

Ek is vandag besig met matwas, daklekke regmaak, geute skoonmaak, matte skrop (want ek leef saam met vier brakke wat die baas in die woning is) en sulke goed. Mens so sweer die lente.

My liewe hulpe van die Lekker winkel is hier. Een sny gras, en elke vyf minute vergeet hy van die honde in die binnetuin waar hy sny, en los die syhek oop. Die honde dink dis groot pret. Chaos oral op die werf soos hulle jil en kef en hap oral op die werf. Ek gil soos ‘n befokte Furie, hol rond of ek malkoeisiekte het. Die helpers kyk net liefs annerpad en hou hulle maar besig, want Ma is moerig.

Die wasmasjien besluit opsluit netnou net hy wil nie meer water laat uitloop nie. So julle weet hoe lyk die waskamer binne oomblikke van wasmasjien vol water probeer skuif om bystand te installeer. Op die gras is is nat matte oral. In die huis is georganiseerde chaos en wraggies ewe getrou sal Eskom ons verras met ‘n uur se kragonderbreking. Onaangekondig. Want hulle mag.

Ons is amper klaar, maar ai, my matte moet droog en die tyd loop uit.

Net toe ek wil lamlendig en moermeter rooierig wil slaat, tref dit my hoe bevoorreg ek is. Dis goed wat ek gedoen wil kry. Nie moet nie.

Hier was nie groot reën of skade nie, nee. Hier is nie stormskade nie. Die huis voel net of hy regruk nodig het, en al die onderbrekings is van korte duur.

En net daar Pollyanna ek. ( As jy nie die houding ken nie – lees my blog daaroor hier) Kliek-klik.

Ek laat die skoongeskropte matmasjien laai. Die stukkende wasmasjien en grassnyer staan ook al ewe knus op die Lekkerlorrie. Ek kan hout laai vir my Eli se huis, want die winter kom, en sy moet haar kaggel kan gebruik. Siek kan sy nie bekostig nie.

So sien, baie om oor hêppie by die hart te wees.

O, ja nou onthou ek.

Wou ook relaas oor my droom gisternag.

Ek ry met so ou wit sedantjie agter Rots en Bab wat by ons hek indraai. Ek hou verby en skielik moet ek oor ‘n brug. ‘n Moers hoë brug wat so slap na links draai. Die ou karretjie gly en tref die veiligheidsreling, dit knars en skuur en skeur, maar die kar stop nie. Hy is naderhand middeldeur so teen die reling. Gelukkig nie die dieptes afgefoeter nie. ‘n Stem sê:”Nou gaan jy niks verder op die pad nie.”

Ek gaan so oplees oor wit, motors, paaie, brûe, afgronde in droom simboliek. Die ironie is dat ek in die droom net gelatenheid ervaar het. Niks ontsteltenis nie. So ‘ag nou ja, dis dan maar so’ – gelatenheid.

Ek vra jou! Waddehel ala Hester! Die droom is glashelder en heeltyd in my kop in volkeur detail. Waddehel! Waarmee moet ek ophou, watter pad is ek op wat nie verder moet betree word nie? Of was dit sommer net? Ek sal moet herkou hieraan soos my ou mal koeitjie.

Die huis is skoon, die waaiers waai dat die biesies bewe, en die Lekkerlorrie is nou net by die hek uit.

Ek gaan nou ‘n beker moerkoffie maak en op die stoep oor droom simbole lees.

Baai!