



Deel 1
Palm Sondag. Die dag toe Jesus op die eseltjie geklim het en diegene van wie die skille van hulle oë en harte geval het, Hom erken het as die langverwagte Lam van God, met palmtakke voor sy voete en luide Hosanna’s. Onderweg na Sy kruisdood en lotsbestemming om die dood te oorwin, ‘n korte week weg. Het Sy hart in Sy keel geklop met die volle wete wat aan die einde van die pad lê, pieker ek terwyl ek beddens oortrek en vars handdoeke uithaal.
Die radiostasie vertel op die nuus dat daar wêreldwye opwinding is oor Game of Thrones (GOT) se laaste seisoen uiteindelik aangebreek het. Daar is Vuisboek “Watch Parties” – weet nie wat dit beteken nie, maar dis ‘n sosiale media ding. Ek het geen idee waaroor die GOT-manie is nie. Blykbaar tel ek onder 1% van die wêreldbevolking wat nie na die tv-reeks kyk nie.
Ek loop vra toe maar vir Bab oor GOT. “Dis soos Vikings, maar fantasie,” vertel sy. “Oor heerskappy, verdrukking, haat, gierigheid, verraad, seks, mag, die hele toetie, met fantasmagoriese dekor en kostuums en epiese tonele.”
“Mmm,” mompel ek. So dis woes en wild en wreed. Dis mos maar die storie van die mensdom fantasie of nie. Oral, altyd. Min genade met mekaar.
Ek fokus maar liewer op die storie van ‘n ander Troon, wat ewig staan. Daarop sit GOD, saam met Jesus. In hierdie realiteit is die dood oorwin. Die Oorwinnaar het, ten spyte van al ons menslike foute en sondes soos gierigheid, wreedheid, ongenade, vermorsing, Homself geoffer en vir ons siele blyplek by Hom in Sy Vader se huis verseker. Begenadigde erfgename. Onverdiend.
Ek lees by Toortsie, Lisaborstlap en Woordnoot hulle ontmoetings met genade en God se betrokkenheid in ons lewens. Genade onbeskryflik groot om bevestiging te ontvang van God se liefde en teenwoordigheid in ons elke dag se bestaan en gedagtegang.
Deel 2
Ek volg ‘n blad op Vuisboek – Kissing Fish. Dit is ‘n boek oor progressiewe Christenskap. Roger Wolsey die outeur en ‘n baie wyse man. Intens soos ek van glo hou. Met alles in hom staan hy op en dikwels is die spieël wat hy ophou nogal onlekker om te hanteer.
So op Palmsondag plaas hy ‘n video – dit het geen klank aanvanklik nie, maar die boodskap hard en duidelik! Happy Easter kontrasteer die gesplete persoonlikheid van die Trump-regering in die VSA. Die Donald en militêre Melina speel saam met die Paashaas en skoongeskropte kindertjies in die Withuis se tuin. Daarteenoor word immigrante meestal van Meksiko se kinders in kampe gehou – haglike omstandighede en wreed. Dis foto’s is onstellend. Gaan kyk self en vertel my jy word nie hierdeur geraak nie.
“Paasfees vertel hoe die waarheid graf toe gestuur word, maar dit bly nie daar nie.” Praat die woorde hard uit die stemlose video. Kapow! Ek sluk aan die knop in my keel.
“Here, hoe hou U geduld met ons? Hoe kan ons so met gesplete tong en keuses besluit wie is aanvaarbaar en meer mens, en ander onaanvaarbaar en derhalwe minder mens? Hoe? Waar is die mensdom onderweg? Vergeef ons, want ons weet waaragtig nie wat ons aanvang nie! Ek smeek Genade Onbeskryflik Groot, omvorm ons harte en denke. Leer ons om genadig met mekaar te wees.
Deel 3
My Koda hond betrek op die stil agtermiddag ‘n reuse swart mamba. Byt die onding middeldeur en word self aan die mond gepik. Rots en Bab jaag met hom veearts toe. Dis vieruur op Palm Sondag. Ek gaan vou handdoeke in die waskamer om my gedagtes en benoude hart te kalmeer.
Ek staan so en vou en hoor tip-tip-tip. Al hoe vinniger kom die geluid. Ek loer by die waskamerdeur uit. ‘n Ou reuse palm tussen die waskamer en agterdeur het ‘n saad skede wat oopbreek. Die blomme krans tuimel in stadige aksie na buite. ‘n hart wat oopbreek. Die fyn blommetjies wat los kom tuimel grondwaarts. Vandaar die tip-tip geluid wat my aandag trek. Ek staan gemesmeraais. Dis asemrowend. Die natuur. Binne minute hoor ek ‘n gezoem. Honderde bye kom swelg aan die liefdesoffer op die Palm Sondag agtermiddag.
Ek staan so en besef die skede met sy kosbare inhoud, brood van die lewe vir die bye, is soos Jesus se offer. Opgebreek en verguis om Sy Liefde aan ons nietige mensdom te bewys.
Vertel jy vir my God maak nie bemoeienis met mense nie? Hy het daar by my gestaan en vir my gewys in ‘n palmboom op Palmsondag.
Hy is lief vir ons.
Genade onbeskryflik groot!
NS. Dis Maandagoggend. Wonderwerk KodaKoos is pas tuis. Dokter sê dis raar dat my swart hond die swart mamba se gif oorleef het, en nog meer raar dat hy al huistoe kon kom.
Genade.
Ai, hoe raak hierdie nou weer aan my hart!
LikeLiked by 1 person
💕
LikeLiked by 1 person
By my werk is almal ook GOT behep. Ernstige Christene ingesluit. Hulle wil dit vir my op ‘n geheuestokkie laai maar ek bly vergeet om een te vat. Wat my laat besluit het daar is ‘n rede voor …ek wil/moet dit nie sien nie. Wat Trump betref… ek wil so graag die goeie in hom glo. Hy is dan die enigste wêreldleier wat nie my geliefde Israel vervolg nie😢😢😢
Ek geniet jou skrywes. Lekker aand
LikeLike
Mens hoef nie alles te kyk nie. Keuses. Vrye wil. Jong, oor Trump wil ek niks sê nie, behalwe is Israel se kinders belangriker as alle ander? God is tussen al die spasies en grense wat mense maak en Hy is lief vir almal. Dis wat ons moet leer. Groetnis.
LikeLike
Ek kan net my kop knik en saamstem….as dit nie vir die genade was nie. Is so bly dat genade vir Koda gespaar het. J
LikeLiked by 1 person
Dis wreed wat mense aan mekaar doen. Tog is die genade van God onbeskryflik groot.. Jy het my hart diep geraak. Dankie veral deel drie waar die palmboom se tros oopgaan en voedsel verskaf aan die bye. Selfde met brakke-kind wat tog bly lewe het.
LikeLiked by 1 person
Ek is ook deel van daai 1 persent… pragtige skrywe vuurtjie. Ek stem 100% saam, genade onbeskryflik groot…
LikeLiked by 1 person