Hagah – die Hebreeuse woord vir mediteer word ook gebruik om na ‘n bees of bok se herkouery te verwys. (Dit leer ek vandeesweek in my Lent woestynreis saam met NG Graaff-Reneit en Mosaiek se Lent 2019 gids

Herkou. Om dit wat ons uit God se Woord (Brood van die Lewe) inneem oor en oor te bedink en dan God se influistering, liefde en leiding te ervaar.

Om tydsaam te proe aan wat jy inneem en te kou en kou tot iets verteerbaar is. Ek laaik die beeld. Want sien, ons mense is mos haastig van geaardheid en die moderne lewe maak dat ons alles teen 160kpu doen. Ons jaag deur stiltetyd, want werktyd, skooltyd, reistyd, gimtyd se spertyd dreig. Ons jaag deur ons dag, ons jaag deur verhoudings, ons bankbalanse. Alles ‘n gejaag na vervlietende dinge, tydelike dinge.

Dis tyd om stil te raak, rustig en stadig die woestyn van stilte te betree. Om soos Jesus saam met die diere in die natuur te wees, te weet engele is by ons en dat God se Woord en waarheid ons lewensbrood is. Kou-kou en herkou aan te stap en jou te verwonder aan God se goedheid en genade met elke sonsopkoms en -ondergang.

Hoor hoe mooi stel Mosaiek se boekie dit:”Benedictus het gesê dat ons deur lees hoor en die geestelike lees dan in ons mond sit. Deur te dink daaroor haal ons al die moontlike voedingswaarde daaruit. Deur te bid daaroor sluk ins die voedsel in en neem ons dit op in ons weefsel en metaboliseer ons die Woord. Deur hagah (herkou) word ons die Woord.”

Om gevoed te wees met die waarheid en wysheid van God se Woord, bring rustigheid en fokus vir my in hierdie deurmekaar, warse kits wêreld. Sien, ek is ‘n vinnige herkouer – dis nie goed nie. Die vinnig afsluk en minimum kou, laat my die pad byster raak. Ek verdwaal in die woestyn, en dan word dit ‘n harde, ongenaakbare en seer reis.

Die pasafgelope week het ek die les op die harde manier geleer. Deur te veel wat as op my eie te probeer oplos. Dit het my breintjie weer heel links laat foeter, tot ontsteltenis van almal om my. Onnodig. Wat as het nooit gebeur nie! Ek is tot stop geruk en op my se knieë het ek gekou en weer gekou en toe herkou, en moes ‘n blindesambok hou vat oor my kleingeloof!

Gister lees ons Psalm 92. Dis my voedsaamste happie die week, en ek hou daaraan vas vorentoe en altyd:

Allerhoogste Here, dit maak my baie bly om vir U ’n danklied te sing.Ek wil liedere sing om aan U eer te gee.3Vroeg in die môre wil ek van u groot liefde vertel.In die aand wil ek uitjubel dat U altyd op u pos is. U slaap nooit nie.4Ek wil dit uitsing met die geklank van viole, kitare, harpe en liere.5Here, ek sal sing, want U het my lewe vol blydskap gemaak.Ek juig oor alles wat U gedoen het.6Wat U gedoen het, is te groot vir ons klein verstandjies.Wat U dink en beplan, is te groot vir mense om te verstaan.7As jy nie oor die Here se grootheid nadink nie, is jy dom;dan het jy geen verstand in jou kop nie.8Ook al gaan dit baie goed met mense wat U nie dien nie,en al het mense wat lelike dinge doen sakke vol geld,hulle gaan die een of ander tyd onder.9Maar Here, U is altyd baie groot.10U sal altyd die Here wees, maak nie saak wat mense sê of doen nie.Al die slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn.11U gee vir my krag om op te staan.U maak my so sterk soos ’n jong buffel.Ek geniet al die goeie dinge waarmee U my oorlaai.12Ek geniet dit as mense wat my probeer onderkry, my nie stukkend kan trap nie. Ek is nie bang vir hulle nie, al ondermyn hulle my omdat hulle teen my in opstand kom.13Iemand wat die Here liefhet, staan so sterk soos ’n yslike groot boom.Soos bome in die Libanon se woud, so sterk staan hy.14Mense wat die Here liefhet, kry krag daaruit om die Here te aanbid.Daarom is hulle gereeld op hulle knieë voor ons God.15Selfs as hulle baie oud is, hou hulle aan om goeie dinge te doen.Hulle is dan nog sterk en vol lewe.16Hulle sal vertel dat die Here ’n reguit pad met mense loop. Hy duld nie kwaad nie.Hy beskerm sy kinders.Ek kruip by Hom weg. 2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.Vind meer uit oorDie Boodskap

Ek kou en onthou iets wat ek self geskrywe het. Kapow. Dit sal my leer om van my Pa se skoot af te klim want ‘as jy‘ se boetie ‘wat as‘ is ‘n rakker. Raai waar sit ek nou rustig en veilig en herkou? Kom, kom sit veilig saam met my op ons liefdevolle en getroue Vader se skoot en sê wêla-kepêla vir ons deurmekaar wêreld en sy voorwaardes, al hagah-end aan die Ewige Brood van die Lewe.