Foto: S_Werner – Own work, CC BY-SA 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=1826900

Ons Bab is verlede Vrydag opereer, en sy verjaar so seer-seer oor die naweek. Om haar vaal verjaar op te kikker, hou ons Sondag fliekdag. Sy mag kies wat uit die Box Office ontsluit word. Bohemian Rhapsody en A Star is Born word gehuur.

Rami Malek se Freddy Mercury het ons in vervoering. Bohemian Rhapsody verdien beslis die lof en akkolades van oral. Die opus epiek het die waarmerke van ‘n ware Queen produksie. Ek lees dat Brian May,
Roger Taylor en John Deacon en veral bestuurder Jim Beach ten nouste by die vertel van hulle storie betrokke was.

My persoonlike tref-oomblik in die fliek:

“We’re four misfits who don’t belong together,” Mercury tells music manager John Reid (Aidan Gillen) at a rooftop restaurant. “We’re playing for other misfits. And the outcasts right in the back of the room, we’re pretty sure they don’t belong either. We belong to them.”

Die rede vir Queen se sukses mooi opgesom

My lewe is ingekleur deur Queen. My eerste ontmoeting -1975. Dit was ‘n somer agtermiddag in Kokstad, ek by my lessenaar besig met liederlike biologie eksamen voorbereiding.

Die radio op LM radio, en die omroeper kondig ‘n nuwe snit deur Queen aan. Ek onthou die son deur die venster en die somer bries wat die gordyne so asof die musiek die bron van beweging is.


“Is this the real life?
Is this just fantasy?
Caught in a landslide
No escape from reality ….”

Oor hulle musiek oor hoef ek nie uit te wei nie. Die klank uniek aan Queen is vol. Elke hoekie is gevul met klank, nêrens leeg, half of hol op die oor nie. Uniek, enig en die klankbaan van menige gewone mense se lewenstafereel. Dis beslis myne.

Freddy Mercury se storie is alleman se storie vol foute, twyfel, seer, verraad. Maar sy storie het ook ‘n klomp lesse in menswees. Vergifnis, belydenis, aanvaarding. Liefde en omgee wen.

Freddy dankie vir die les. Die laaste musiek wat jy gemaak het, het my dit vertel.