Waar kom digitalis – die beste hart medikasie vandaan? En Kinien vir malaria behandeling? Penisilien? Het Fleming dit rêrig per ongeluk ontdek in 1928? Aikona.

Hierdie moderne wondermiddels het hulle beslag in volksgeneeskunde, of wat ons hier aan die suippunt (oeps – suidpunt) van Afrika sommer boererate noem. ‘n Interessante oorsprong het elkeen van die drie geneesmiddels wat vandag algemeen is.

‘n Tannie in Shropshire, Engeland het aan watersug (edeem) gely. Vergeefs het haar arts probeer om haar te help. Op ‘n dag doen hy huisbesoek, en tot sy verstomming is die tante afgeblaas aan die oormat liggaamsvog! By navraag gaan wys sy vir hom ‘n blomplant in haar tuin. Sy het elke dag ‘n aftreksel van die plant se blare gemaak en gedrink. Die plant Digitalis purperea.

Maar, nou wil ek ook sê dat ‘n regte, egte boereraat wat ek raakgelees het, goddank nie die mediese wêreld gaande gekry het nie: “Slag twee varke tegelyk, maak die blase leeg; die pasiënt water dan in die twee blase, draai die kroppe van die blase aan mekaar vas, hang hulle in ‘n koelteboom, net soos die water in die blase opdroog, so neem die water in die pasiënt af.”

Bid jou aan!

Eeue gelede het ‘n Suid-Amerikaanse prinses ernstig soek geword. ‘n Onderdaan het op ‘n dag by die paleis aangekom met die bas van ‘n oerwoudboom. ‘n Tee van die bas is getrek en die prinses het wonderbaarlik herstel. Haar naam Cinchona, haar siekete malaria.
Van die boombas is aan Europese wetenskaplikes op hulle ontdekkingsreise na Suid-Amerika gegee. Vandag is die kinienboom se bas bekend as Cortex cinchonae en grondbestanddeel vir kinien wat ons in malaria moetie kry.

Ek lees op in die boererate boek dat ene Me. Aletta van den Berg aanbeveel dat jy kruienaeltjies in ‘n bottel jenewer trek. Drink drie maal per dag, is die raat se instruksie. Hoeveel sê hulle nie. Jy sal seker van die koors vergeet as jy genoeg drink….

Dis eintlik die kinien in tonikum water wat saam met jenewer bedien word, wat die ware moetie is.

Lank voor Fleming penisilien per ongeluk ontdek het, het ons kaalvoet oor die berge vooroumas geweet die kim op die appelkooskonfyt help om besmette wonde en sere te genees.

Ek is nog altyd verwonder oor ons voormense, deur die eeue heen, en genesing. Die medisyne tannies en omies met hulle treksels en kruie het ‘n waardige plek in die samelewing beklee. Volksgeneeskunde het ‘n plek en het waarde. Want die mensdom moes maar so met middels tot hul beskikking oorleef. Hoeveel maar placebo en troos was, sal ons nou nie kan weet nie. Ek het al self wondere verrig met suikerwater, omdat wat saam met die suikerwater, jou basiese omgee is. Dikwels is empatie die ware medisyne.

Antoinette Pienaar en haar omie daar in die Karoo se kennis oor die geneesmiddels uit die veld is verstommend. Ek lees haar skryfsels nie net omdat die kruiekennis my interesseer nie, sy bedryf Afrikaans so mooi!

Aan eie bas, was Vrydagaande as kind in Ouma se huis, nagmerrie tyd. As daai bloubottel kasterolie uitgehaal word en ons klomp kleinkinders moet in ‘n ry ons eetlepel vol afwag. Eish. Daai blougeverfde badkamer en die kleinhuisie onder die bloekomboom was Saterdag-oggende gewilder as ons speelplekke in die boord en by die watervore!

Self, plant ek stink afrikaners om goggas weg te hou van groentetjies, wilde als en roosmaryn en laventel en malvas hou goggas en kruipende en vlieënde peste buite.

In die huis – seldery help vir tandesny se jeuk, naeltjies is goeie noodhulp as daai tand in die middel van die nag begin pyn, as jy nie oordruppels het nie, bietjie olyfolie louwarm op ‘n watte gedrup en die pluisie in die oor bring verligting. Tot jy by die geleerde medisyneman kan uitkom.

Asynlap op die kop, aartappel vir seer voete en varkblase in bome – daai kaait vlieg nie by my nie!

Bron: Volksgeneeskuns in Suid-Afrika. ‘n Uitgebreide versameling boererate/ Saamgestel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Tweede druk 2010. Protea Boekhuis


Ons InLinkz-skakel vir hierdie week se uitdaging: https://fresh.inlinkz.com/p/a15eea70c3c04529ac417a1a919ae994 Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

The post Lê-Jou-Eier: Ons gesels oor kwale en boererate appeared first on Dis Ekke.