Dis beurtkrag vir die tweede keer vandag. Ons muskietkerse brand. Die braaivuur fluks aan die gang.

Ons maak die stoephekkie oop. Dis sterk skemer en ‘n halfmas maan maak ook lig. Die bure naweek, so die brakke kan op die groter werf gaan avontuur.

Rots en ek het oudergewoonte die Scrabble bord oop tussen ons. Motte en goggas offer hulself by die kerse. Daai smag na lig…altyd vir my tragies. Die uiteinde tragies, knetterend.

Die woordstryd is intens, maar ons kom agter ons hondekinders maak ander geluide. Ringo, die voortvarende kom ingehol. Ek dink ek hoor Milo tjank. Skielik besef ek Koda roep McCleod, McCleod.

Ons hol om die sterk flits te gaan kry. Toe ek so oor die gras lig, kom Milo aangehol. Koda besig om ‘n bekwame luislang in sy bek te skud dat die gedierte wapper. Die koudbloedige het nie ‘n kans gestaan nie.

Ons weet nie wat gebeur het nie. Maar kan net spekuleer. Dis Koda se vierde slangvangery.

Ek is jammer oor die luislang wat heen is. Maar, ek is trots op Koda. Hy is mafia oor sy werf, sy mense en sy Schnauzer boeties.

Gee die man ‘n beeno. Ek drink ‘n J&B, met eish.