Cartoon woman playing with crosswords

Op ‘n windstil agtermiddag, kom ons by Andries se huisie by die see aan. Sy ou skedonk, ‘n Mitsubishi Triton, vol roes staan al jare op vier sementstene.

Andries palielie by die deurkosyn. Steier, steier stap hy nader. Ag, my hart roep eina. Die Parkinsons takel hom nou ooglopend tot op die been af.

Hy staan, skelet bewend en sy iris blou oë kreukel lag. “Stil soos ‘n riet in die wind!”
Ag, hy is so dapper. Ek sluk die knop in my keel terug. Dis nou al maande dat ek vir hom ageer. Alles het hy aan my oorgeteken, met die voorwaarde dat hy nie aan die lewe gehou mag word nie. Hoe swaar ook al, sy wens sal ek huldig. Moet nou nie staan en ‘n moegoe wees nie, jy moet jou hartseer opkrop en saam met hom besluite neem wat sy lewe sal baat. Ek moet myself behoorlik betig.

My tiener tweeling kom agter die motor uit. Pakkies van die supermark in hulle hande gebondel.

“Ai julle, moet julle nou alles op een slag aandra,” raas ek kamtig.

Die twee lag en gaffel mekaar met die elmboog. “Hoe gouer ons afpak, hoe gouer kan Oom Andries vir ons ‘n storie vertel!”

Kosbaar is die kuiertye by die idealis broer van my. Ek was maar altyd die pragmatis. Hy altyd aan die koukus oor iets esoteries. Altyd besig om lofredes en odes aan die diereriem en mitologie te skep.

Sy huisie is koel en groot glas skuifdeure omraam die oseaan. Die ruis van die branders duidelik hoorbaar.

Die kombuis is kompak uitgelê, sodat Andries maklik deur op een plek te staan, alles kan bykom met die minimum beweging. ‘n Keur van sy gunsteling boeke is op ‘n boekrak om sy stoel rangskik.

Die seuns het vandag vir hom ‘n groot verrassing. Al sy musiek is van plaat, kompakskyf en kasset in ‘n ipod gestoor. Die kinders het ure gewerk.

“Kom oom Andries, kom sit.” Hulle koppel die ipod aan die musieksentrum en gee die afstandbeheer vir hom. Die soetste klanke vul die vertrek. My broer se gesig straal.

“Dankie ouens. Miskien toor die musiek vir my ‘n nimf uit die see. Of miskien kan die mooie klanke soos Triton met sy mollusk skulp die see tot stilte of oproer roep.”

Triton wie, mollusk wat,” koor die tweeling.

“Boeta, jy beter vandag reg deur die see gaan met jou storie.” Ek weet hier kom ‘n ding.

Kan maar net sowel begin slaai snipper. Ek vergeet dat die kombuis water brak is, en neem ‘n sluk. Spu dit in die wasbak uit, tot groot vermaak van die drie in die sitkamer. Ek steek vir hulle tong uit.

Andries lag en knip oog. “Wat is waarheid, wat is verdigsel? Die stories van die ou gode in die mitologie en legendes is epies en groot. Waar sal ons begin,” en hy vryf sy hande genoeglik saam.

Op ‘n dag, lank lank gelede het Glauco ‘n visserman van Antedón in Boestia naby Antiogië in Griekeland gewoon. Hy het een goeie dag ‘n nuwe krui in die veld opgemerk. Onbewus dat die krui spesiaal deur Kronus gesaai is om die uitgeputte perde van songod, Helios, te verkwik. Die kruie het onsterflikheid vir mense gegee. Ou Glaucos het uiteraard nie dit geweet nie.

Hy het soos altyd gaan vis vang en die aand vrywe hy die nuwe kruie mild op sy vis wat hy oor die kole sou gaarmaak. Gou smul hy heerlik. Maar toe, daar langs die see op ‘n maanligaand, kom Glauco agter dat sy lyf transformeer. Kieue by sy ore begin vorm, sy vel word seegroen en met verstomming kyk hy hoe sy bene en onderlyf ‘n visstert word!

Beangs sleep hy homself seewaarts. Oseanus en Theris, mindere seegode ontferm hulle oor die arme halfmens half vis. Hulle het hom onsterflik kon maak, maar kon nie veroudering keer nie.

Legende het dit dat Glauco toe Triton, seun van Poseidon en Naïs word en diep onder die see in ‘n mooi kasteel gewoon het.

Soos Poseidon, het Triton ook ‘n vurk gedra. Maar hy het ook ‘n goue mollusk skulp gehad. Hiermee het hy die golwe kon laat stil raak of ontstuimig. Hy was die boodskapper van die see, beskermer van vissers en seevaarders.

Die Gigante was beangs bang vir die kakafoniese geluid uit die see, en het geglo dat dit ‘n seemonster was wat so geraas het. Verbeel jou reuse wat hardloop dat hulle spat!

Triton het naderhand ‘n bende tritons (meermanne en meerminne) gehad wat hom gehelp het om vissermanne en seevaarders te beskerm. Hy het vir Apollo ‘n paar lesse geleer.

Dan is daar vir anderdag die storie van Jason en die Agernoute, wat danksy Triton hulle weg oor land, via ‘n rivier terug na die see kon vind.

Ek is nou moeg.

Die seuns en ek hang behoorlik aan Andries se lippe. Hy trek ‘n boek uit die rak. ‘n Fotobeeld van Rome.

“Kyk hier is ‘n fontein ter ere aan Triton. Dit is geskep deur Gianlorenzo Bernini. Mooi nè,” hy draai die boek sodat ons kan sien.

Andries draai na die seuns. “Gee die seeskulp boek aan,” vra hy. Hy blaai rond. “A, hier is Triton se skulp. Kyk mooi, dan gaan soek julle vir ons ene.

Triton skulp (Wikipedea)

Die seuns laat hulle nie twee keer nooi nie, gou spatter hulle voetspore oor die onversteurde sand.

“Ek is bly vir ons alleentyd, Sus. Ek is regtig so moeg en gefrustreerd met hierdie stadige aftakeling. Kan ons nie so gelukkig soos Glauco wees en ‘n ewigelewe krui iewers kry nie? Ek leef reeds half mens.” Ek druk my mooi boetie se arm.

“A, nee a. Jy is mos nie een vir so mismoedig raak nie. Ons twee weet mos ons ou skulpie lewens word hier op aarde afgetakel en dat ons ewig heel by ons Pa se huis sal bly. Die seuns en ek het jou eers nog nodig. Kom ons gaan sit en kyk vir die son. Miskien roep Triton die ontstuimigheid binne ons tot rus,” sê ek en trek die skuifdeure oop.

“Jammer, Sus. ‘n Man raak maar moedeloos. Kom ons roep self vir Triton,” hy tel ‘n groot skulp van die stoeptafel op en blaas. ‘n Diep hartverskeurende klank ontmoet die ruising van die see. ‘n Groetlied vir die son wat saggies deur die skemer horison ingesluk word.

______________________________________________________________________________

Wil jy saam woordsnoer? So maak mens :

Jy kan ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Onthou om die prentjie hierbo en ook die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

https://fresh.inlinkz.com/p/fc81e88db2e742a4bc7e4b37c8f99154

Speel en dink en verbeel en skryf met ons mooiste taal.

Lekker snoer.