More Here.

Dis Vuurvliegie hier. Ek wil asseblief by U voete sit vir meer as ‘n wyle. Ek wil eintlik op U skoot sit, of onder U kleed se soom inkruip en net daar bly.

Maar eers wil ek dankie sê. Dankie Vader vir die mooi weergawe van ‘Baba Yethu.’  (Ons Vader in Swahili) deur die Maties koor onder leiding van Andre van der Merwe. Ek loop dit raak op my gunsteling blad Kissing Fish raak. So met ‘n ompad.

Die mooi stemme van die Suid-Afrikaanse koor laat my liggie sommer helder wil skyn. Alle nasies en volke, loof die Here.

Maar Here, my hart is baie swaar en seer en bekommerd vanmôre. Polokwane is alweer in die nuus. Niks goed nie, niks opheffend nie. Nee, iets afgryslik.

Hoërskool kinders, 12 tot 15 jaar oud, van ons stad het soos diere, ‘n jong man, Thoriso Themane in die straat toegetakel. Hy is geslaan, geskop. ‘n Video opname is gemaak terwyl hulle hom aanval. Hulle gil en hits mekaar aan terwyl hulle die bebloede, beseerde man straat af sleep. Die skoppery en boewery hou vir etlike blokke aan. Die jong man is Sondag eers gevind. Hy is dood.

Maandag by die skool, spog een van die belhamels dat hy nie bang is nie, sy pa is ‘n hooggeplaaste in die regering.

Here, my hart breek, my siel walg. Hoe word kinders sulke monsters? Hoe maak jy iemand dood, sommer so.

Ek ween vir ‘n lewe kortgeknip. Na alle bronne, ‘n goeie siel, geliefde kind en broer.

In ‘n hiëna trop vasgeloop en met sy lewe geboet.

Here, laat geregtigheid vir hom geskied. Al is dit hoe swaar, bid ek ook vir die kinders wat die tragedie veroorsaak het. U vereis dit van my.

Laat die kinders so buite beheer besef dat hulle voor U sal moet bely. Dat hulle gedrag en houding nie in U raadsplan val nie. Ek bid vir hulle siele Here. Ek bid vir ons siek land en samelewing. Hierdie kinders se gedrag ‘n simptoom van die onmenslikheid wat ons opvreet.

Ek lees vanmôre dat dit U enkelvoudige wil is dat die wat na U draai deur U Seun, Jesus, die ewige lewe sal erf.

Baba Yethu, mag ons almal met Jesus, na U draai, met ons ewige verblyf in U teenwoordigheid immer in die oog.

Vergeef ons.

Ons weet nie wat ons doen nie.

Tel elkeen met hulle seer op U skoot, vou hulle toe in U arms.

Dankie vir my beurt Here. Dat ek by U liefde ontvang en moed kan kan skep.

Amen.

*****

Ons gemeenskap is ontstemd deur die gebeure.

Ek stem met die jong vrou saam.