Die glimmer in die donkerte tussen die nat klam varings by die voor was asemrowend mooi. Ek onthou dat my hart van opgewondenheid geklop het. “Is dit feëtjies?”

Ouma het stil langs my gestaan. “Dis vuurvliegies.”

Hoe teleurgesteld was ek nie! Maar, Ouma het saam met my ‘n paar gevang dat ek die goggas van nader kon aanskou. In ‘n botteltjie het die benoude goedjies gefladder. Toe laat sy hulle gaan.

En toe leer sy vir my die liedjie:

Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei, ahum 
Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei, ahum 
Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei 
Maar ‘n opsitkers kon hy nêrens kry, 
ahum, ahum, ahum 

Hy vra toe vir Vuurvlieg om sy lig uit te huur, ahum 
Hy vra toe vir Vuurvlieg om sy lig uit te huur, ahum 
Hy vra toe vir Vuurvlieg om sy lig uit te huur 
Die vuurvlieg sê toe ja teen ‘n sent ‘n uur, 
ahum, ahum, ahum 

Die twee loop toe af na die nooi se huis, ahum 
Die twee loop toe af na die nooi se huis, ahum 
Die twee loop toe af na die nooi se huis 
Die huis in die vlei van Mejuffrou Muis, 
ahum, ahum, ahum 

Toe Padda die vuurvlieg se lampie wou leen, ahum 
Toe Padda die vuurvlieg se lampie wou leen, ahum 
Toe Padda die vuurvlieg se lampie wou leen 
moes hy hierdie ontstellende nuus verneem, 
ahum, ahum, ahum 

Vuurvlieg se lig was aan sy stert vasgesweis, ahum 
Vuurvlieg se lig was aan sy stert vasgesweis, ahum 
Vuurvlieg se lig was aan sy stert vasgesweis 
Hy sou moes opsit saam met Padda en sy muis 
ahum, ahum, ahum 

Die padda het die vuurvlieg maar huis toe gestuur, ahum 
Die padda het die vuurvlieg maar huis toe gestuur, ahum 
Die padda het die vuurvlieg maar huis toe gestuur 
Want ‘n opsitkers teen ‘n sent ‘n uur 
en ‘n luistervink daarby is gans te duur 
ahum, ahum, ahum 

Grappies op ‘n stokkie.

Wanneer laas het jy vuurvliegies gesien? Ek lees net laas week met ontsteltenis dat vuurvliegies ook op die rand van uitsterf is. Ja, ‘n bedreigde spesie.

Daardie magiese goggatjies wat jou verbeelding op hol kon sit, sal bes moontlik saam met renosters, en soveel ander dinge in die natuur die goed van stories en fabels word. Hoe hartseer.

Daar is iets betowerend aan vuurvliegies. Die geglimmer en dartel is nie net vir mense aanloklik nie, nee die slimme vuurvliegie dogtertjies gebruik hulle glimmer om die regte maat aan te lok, en aan die donker kant ook haar spyse.

Romantici hou daarvan om sie vuurvliegie voor te hou om ons te herinner om ons liggie ook te laat skyn, al is dit hoe donker. Om ons liggie te laat skyn sodat die goeie in die lewe na ons kant toe kan kom.

Daar kan ook baie uitgewei word oor die potensiële simboliek van die glimmertjie gogga. Vuurvliegies is maar bedags ‘n saai ou dingetjie, maar laat die aand se donker kom, dan is sy die hoofspeler in ‘n natuur skouspel. Dit herinner my dat ons nie net op ons uiterlike takseer moet word nie. Ons almal het binne ons ongelooflike potensiaal. Ons het nodig om dit te ontgin en dan te skitter in ons uniekheid.

Vuurvliegies word assosieer met hoop, energie, geduld, blink idees, inspirasie, begrip, kreatiwiteit. Hope mooi goed.

Vuurvliegies se lig word in paartyd gebruik. Elke spesie vuurvliegie het ligseine in presiese berekende orde om die perfekrte maat aan te lok. Die presisie kan ons aanspoor om die regte maat, werk, plekke in ons lewe te bekom, ons moet beplan, grondwerk doen en gefokus moet wees.

““Magic is seeing wonder in nature’s every little thing,like seeing how wonderful the fireflies are.”~Ama H. Vanniarachchy”

‘n Vuurvliegie se lig is baie ekonomies vertel die slim mense. Haar liggie produseer geen hitte nie, dis effektief en brand nie energie op nie. ‘n Les uit die natuur om nie jou kersie alkant te brand nie! Liewer energie gebruik vir wat saak maak en nie te pieker oor goed wat jou tap nie.

The amazing thing about this symbol is that the firefly can represent an exceptional human being. Why ? Because the firefly is shining from the inside out, just like if it was liberating its interior beauty. Same thing with human beings. External beauty is nothing without internal beauty that can make a person shine.Fireflyology

Hoe geëerd voel ek dat Towerin-blogmaats my Vuurvliegie noem. My liggie skyn nie altyd so vreeslik baie nie, maar as hy doen, is dit helder! (Gaan kyk – ek het my blognaam varander.)

Lekkervurigeaffêre aka Vuurvliegie

***

Lees hier meer oor vuurvliegies se oorlewing strategie:

http://news.cornell.edu/stories/1997/09/cornell-biologists-report-mimicry-and-murder-night

Vir sielsbemoediging gaan lees hoe mooi skrywe Rich Hanlon – Christian Symbolism in Fireflies