https://www.facebook.com/vivaafrikaans/photos/varsgebek-viva_afrikaans/1418982364828916/

Hester daag ons vandeesweek uit om ter viering van #Moedertaaldag (21 Februarie 2019) lekker varsgebekte sêgoed via Viva te gebruik in ons Lê-Jou- Eier uitdaging.

Die varsgebekte uitdrukkings van Hester se keuse is:

  • “iemand weet nie waar sy vierkantswortel sit nie” – gesê van ‘n persoon wat deurmekaar is
  • “vinkkoors” – ‘n middeljarige metgesel se behoefte om ‘n huis oor te doen
  • “die lakens uitdeel” – verwys na ‘n persoon wat baas speel in die huis
  • “iemand se donkie draf” – beteken iemand is knorrig

****

Die lekker uitdaging kom net op die regte tyd. Op persoonlike vlak is ek is uiteindelik na ‘n lang fase van byna platlyn (depressiewe diepte) in volle swang manies. Vol energie en lewenslus. Ek leef al sedert my jongmens dae met my vriend Bloubekruip, die gemoedsbekakking brak. My lewe in siklusse. November tot Februarie gewoonlik die donker dieptes en dan trek ek los en leef voluit – meeste dae- tot die knik in die pad weer kom.

Hester se uitdaging gaan ek vanweë my huidige hoë energie vlakke in twee dele doen. Omdat ek op die oomblik reën ruik al is daar nie wolke nie!

Deel 1 – ‘n Ware verhaal?

Ek weet nie of Hester Siener van Rensburg se niggie is nie, en iets geweet het wat ek nie weet nie, maar die vier varsgebekte sêgoed- was deel van my oggend. My rêrige lewe.

Lees self:

Kyk, op hierdie moedertaaldag, draf my donkie al vroeg die stofpad af. ‘n diensverskaffer se Koekie Hall (aka admin klerk) wat nie weet waar haar vierkantswortel sit nie, wil my, ‘n klein ou ekonomieplegertjie, se BEE status bevestig hê. Bid jou aan. Ek moet asseblief die verklaring invul en by die  polisiestasie laat beëdig. In Japan sal ek, snou ek die arme kind toe.  

Die bestuurder van die plek bel en ek vra nou wanneer het hulle die lakens begin uitdeel by my Lekker winkel. So by so, wanneer het hulle, my koerierdiens, aandele in my besigheid gekoop, dat hulle my kan vertel wat om te doen? 

“Julle moet pasop dat ek my vinkkoors by julle kantoor kom uithaal, ek sal meer as meubels herrangskik,” snou ek hom toe. “Gaan lees die BEE reëls en kyk of jy reken ek as alleen eienaar  soos die baba voor Salomo  middel laat deursny en kyk watter helfte oorleef? Rerig.  En dit oor julle wil punte in die aaklige stelsel wil verdien. Pffft,” eindig ek ons gesprek. 

My skoonsus kyk my verstom aan. “Ek het nie geweet jy kan so kwaai wees nie.”

Rots kyk haar so en sê ewe: “Sien, dis hoekom ons haar net een keer ‘n maand uit haar hok sluit. Sy kan nie meer tussen mense nie.”

Deel 2 – Fiksie:  ‘n Varsgebekte gesprek

Die twee fyn gelapte vroue sit mekaar en wittandjie. Die atmosfeer so gespanne, jy kan Luke Skywalker se toorts hoor swoesh.

Die kelner kug om hulle aandag te trek. “Wat sal die mevroue wil drink,” vra hy.

“Swart rooibos en ‘n skyfie suurlemoen asseblief,”  kom dit stywelippie van die ouer vrou. Roelien Rabé gebore en getoë op Kleinbegingrootgewin.  Nou alombekend as haar loopwêreld se ystervrou. Legendaries, vreesaanjaend vir meeste mense. Regent van haar huis en gesin. Voorslag voorsitter van al wat ‘n komitee is. 

Die jonger vrou met die strepie manikuur speel met die pêrels om haar nek.  “Nederburg Chardonnay. ‘n Bottel en ys.”

Roelien se donkie draf dadelik. “Simoné! Dis elfuur in die oggend. Is jy jou vierkantswortel kwyt? Dis onbeskaaf om voor ete te drink, en dit in die openbaar,” snou sy haar skoondogter toe.

Simoné kyk haar skoonma aan.  “Ek is sat dat jy  die lakens in my huis  en lewe uitdeel. Jy is onuitstaanbaar. Behandel my soos ‘n kortsokkie omdat ek  ‘n stedeling is. Omdat ek nie kan voorslaan by al jou organisasies en klubs nie. Omdat ek ‘n beroep het. Die vinkkoors van jou moet nou einde kry. Jy is nie my ma nie, en jy gaan my nie verander nie, al probeer jy hoe.” 

Roelien sit verslae. “Waar kom jy nou vandaan met die aanval, ek sal nooit…”

Simoné val haar in die rede. “Ma, jy is alweer soos ‘n satelliet sonder sein. Jy moet luister en hoor. Ek is nie met jou seun getroud om jou kloon te word nie. Ek is lief vir jou seun. Maar ons lewe is ons s’n om te lewe. My meubels, my huis – soos ek en Kola daarvan hou.  Jy kan nie aanhou om my oral te beskinder en kleineer nie. Ons moet saam op die plaas bly. Ons mans terwille.”

Roelien se donkies wil oudergewoonte almal draf, niemand praat ooit met haar terug nie. Vandag is anders. Weet die kind dalk dat Roelien afval is wat vleis geword het en nou dink sy is rugstring? Waar kom die kind se bravade dan nou so skielik vandaan?

Onverstoord gaan Simoné voort. “Vandag gaan ek sê tot sê sy sit kry. Ma moet nie vir ma so aanmatig nie. Ons weet albei watter kant van die spoor ons tweetjies vandaan kom. Daar is nie fout om jou lewe se slegte begin te omtower nie. Maar ons kan nie bo-oor ander loop omdat ons nou kwansuis beter is nie. Ons onderrokke sal sommer gou uithang, Ma.” 

Roelien vlieg uit haar stoel op, knyp haar handsak onder die elmboog vas en storm die restaurant uit. Niemand praat so met haar nie.

“Sy sal nie sag kook nie,” sê die kelner en skink vir Simoné ‘n glas wyn. 


Kom neem deel aan Hester se lekker uitdaging om Moedertaal dag (21 Februarie 2019) saam te vier op ‘n varsgebekte manier.  

Hier is die InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=816935.

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

The post Lê-Jou-Eier: Ons vier Moedertaaldag #Afrikaans appeared first on Dis Ekke.