
Hester daag ons vandeesweek uit om ter viering van #Moedertaaldag (21 Februarie 2019) lekker varsgebekte sêgoed via Viva te gebruik in ons Lê-Jou- Eier uitdaging.
Die varsgebekte uitdrukkings van Hester se keuse is:
- “iemand weet nie waar sy vierkantswortel sit nie” – gesê van ‘n persoon wat deurmekaar is
- “vinkkoors” – ‘n middeljarige metgesel se behoefte om ‘n huis oor te doen
- “die lakens uitdeel” – verwys na ‘n persoon wat baas speel in die huis
- “iemand se donkie draf” – beteken iemand is knorrig
****
Die lekker uitdaging kom net op die regte tyd. Op persoonlike vlak is ek is uiteindelik na ‘n lang fase van byna platlyn (depressiewe diepte) in volle swang manies. Vol energie en lewenslus. Ek leef al sedert my jongmens dae met my vriend Bloubekruip, die gemoedsbekakking brak. My lewe in siklusse. November tot Februarie gewoonlik die donker dieptes en dan trek ek los en leef voluit – meeste dae- tot die knik in die pad weer kom.
Hester se uitdaging gaan ek vanweë my huidige hoë energie vlakke in twee dele doen. Omdat ek op die oomblik reën ruik al is daar nie wolke nie!
Deel 1 – ‘n Ware verhaal?
Ek weet nie of Hester Siener van Rensburg se niggie is nie, en iets geweet het wat ek nie weet nie, maar die vier varsgebekte sêgoed- was deel van my oggend. My rêrige lewe.
Lees self:
Kyk, op hierdie moedertaaldag, draf my donkie al vroeg die stofpad af. ‘n diensverskaffer se Koekie Hall (aka admin klerk) wat nie weet waar haar vierkantswortel sit nie, wil my, ‘n klein ou ekonomieplegertjie, se BEE status bevestig hê. Bid jou aan. Ek moet asseblief die verklaring invul en by die polisiestasie laat beëdig. In Japan sal ek, snou ek die arme kind toe.
Die bestuurder van die plek bel en ek vra nou wanneer het hulle die lakens begin uitdeel by my Lekker winkel. So by so, wanneer het hulle, my koerierdiens, aandele in my besigheid gekoop, dat hulle my kan vertel wat om te doen?
“Julle moet pasop dat ek my vinkkoors by julle kantoor kom uithaal, ek sal meer as meubels herrangskik,” snou ek hom toe. “Gaan lees die BEE reëls en kyk of jy reken ek as alleen eienaar soos die baba voor Salomo middel laat deursny en kyk watter helfte oorleef? Rerig. En dit oor julle wil punte in die aaklige stelsel wil verdien. Pffft,” eindig ek ons gesprek.
My skoonsus kyk my verstom aan. “Ek het nie geweet jy kan so kwaai wees nie.”
Rots kyk haar so en sê ewe: “Sien, dis hoekom ons haar net een keer ‘n maand uit haar hok sluit. Sy kan nie meer tussen mense nie.”
Deel 2 – Fiksie: ‘n Varsgebekte gesprek
Die twee fyn gelapte vroue sit mekaar en wittandjie. Die atmosfeer so gespanne, jy kan Luke Skywalker se toorts hoor swoesh.
Die kelner kug om hulle aandag te trek. “Wat sal die mevroue wil drink,” vra hy.
“Swart rooibos en ‘n skyfie suurlemoen asseblief,” kom dit stywelippie van die ouer vrou. Roelien Rabé gebore en getoë op Kleinbegingrootgewin. Nou alombekend as haar loopwêreld se ystervrou. Legendaries, vreesaanjaend vir meeste mense. Regent van haar huis en gesin. Voorslag voorsitter van al wat ‘n komitee is.
Die jonger vrou met die strepie manikuur speel met die pêrels om haar nek. “Nederburg Chardonnay. ‘n Bottel en ys.”
Roelien se donkie draf dadelik. “Simoné! Dis elfuur in die oggend. Is jy jou vierkantswortel kwyt? Dis onbeskaaf om voor ete te drink, en dit in die openbaar,” snou sy haar skoondogter toe.
Simoné kyk haar skoonma aan. “Ek is sat dat jy die lakens in my huis en lewe uitdeel. Jy is onuitstaanbaar. Behandel my soos ‘n kortsokkie omdat ek ‘n stedeling is. Omdat ek nie kan voorslaan by al jou organisasies en klubs nie. Omdat ek ‘n beroep het. Die vinkkoors van jou moet nou einde kry. Jy is nie my ma nie, en jy gaan my nie verander nie, al probeer jy hoe.”
Roelien sit verslae. “Waar kom jy nou vandaan met die aanval, ek sal nooit…”
Simoné val haar in die rede. “Ma, jy is alweer soos ‘n satelliet sonder sein. Jy moet luister en hoor. Ek is nie met jou seun getroud om jou kloon te word nie. Ek is lief vir jou seun. Maar ons lewe is ons s’n om te lewe. My meubels, my huis – soos ek en Kola daarvan hou. Jy kan nie aanhou om my oral te beskinder en kleineer nie. Ons moet saam op die plaas bly. Ons mans terwille.”
Roelien se donkies wil oudergewoonte almal draf, niemand praat ooit met haar terug nie. Vandag is anders. Weet die kind dalk dat Roelien afval is wat vleis geword het en nou dink sy is rugstring? Waar kom die kind se bravade dan nou so skielik vandaan?
Onverstoord gaan Simoné voort. “Vandag gaan ek sê tot sê sy sit kry. Ma moet nie vir ma so aanmatig nie. Ons weet albei watter kant van die spoor ons tweetjies vandaan kom. Daar is nie fout om jou lewe se slegte begin te omtower nie. Maar ons kan nie bo-oor ander loop omdat ons nou kwansuis beter is nie. Ons onderrokke sal sommer gou uithang, Ma.”
Roelien vlieg uit haar stoel op, knyp haar handsak onder die elmboog vas en storm die restaurant uit. Niemand praat so met haar nie.
“Sy sal nie sag kook nie,” sê die kelner en skink vir Simoné ‘n glas wyn.
Kom neem deel aan Hester se lekker uitdaging om Moedertaal dag (21 Februarie 2019) saam te vier op ‘n varsgebekte manier.
Hier is die InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=816935.
Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
The post Lê-Jou-Eier: Ons vier Moedertaaldag #Afrikaans appeared first on Dis Ekke.
Ek is bly jy is weer bo en lus vir die lewe. Tien uit tien vir jou bydrae 😊
LikeLiked by 1 person
Ja, mens moet maar die brak gedurig omhels – hy kort maar liefde né. Dankie Kameel!
LikeLiked by 1 person
Super Duper!!! Is bly daai brak het nou eers weer terug in sy hok gekruip……
LikeLiked by 1 person
Nee, hy lê rustig in sy hoek en slaap, as hy wakker is swaai sy stert. Ek hou die vrede goed dop, sal hom so lank ek kan nie die oorhand laat kry nie!
LikeLiked by 1 person
“Sy sal nie sag kook nie”. Hei, Namakwalands (my loopwêreld se taal), hy spoel so van die tong af soos goeie wyn. Lekkervurig, dis ‘n briljante skrywe en ek – ek het elkeen van hierdie varsgebektes herken of die betekenis gesnap uit die konteks. Bravo! Ek is bly jy wandel nou weer in die lig. Sê vir Rots hy moet die hok se deur ooplos
LikeLiked by 1 person
Jong, ek moet ruiterlik erken – die hok is goed vir my en die brak. Ons sit lekker en skrywe, sy stert swaai! Hehe!
LikeLiked by 1 person
En ek kan nie my alie oortuig om stil te sit en skrywe nie, want ek wil net buite rondlê.
LikeLiked by 1 person
JA, ek sou ook sukkel, sal net heeldag vir die see wil kyk!
LikeLiked by 1 person
Nou verstaan jy mos!
LikeLiked by 1 person
Joe! Lekkervurig is vurig! Sommer 2 stories in een!
LikeLike
As die sardiendjies loop, moet jy skep, Suster!
LikeLiked by 1 person
Dit kpink vir my na sardientjies en harders en geelstert ook nog!
LikeLike
‘n Hele skepnet vol seën sowaar! 😉
LikeLiked by 1 person
Ek is sooo bly.
LikeLike
Fantasties, soos net jy kan skrywe!!
LikeLike
Perdebytjie! My rasieleier! Dankie maat. Ek was maar putsonderwaterig vir ‘n klomp weke.
LikeLiked by 1 person
Jy moet eintlik ‘n boek skryf met kort stukke.Jou skryfvernuf is besonders.
LikeLike
Dankie! Jy sal laat my bloes se knope bars! Ek sal woordwoeker en kyk wat pan uit!
LikeLiked by 1 person
Aha kikker jy my dag op!
LikeLiked by 1 person
Ek is bly. Die Viva varsgebek laat ons Afrikaans lewe.
LikeLiked by 1 person
Die gebeurtenisse kriewel op en af my rugstring van lekker kry. My stories wil op oomblik nie vloei nie. Die engels is besig om my afrikaans af te stomp.
LikeLike
Skryf net uit jou hart, redigeer later.
LikeLike
I know, die ou swart brak sit ook maar net hier buite op die stoep vir my en groot oë maak. Skielik gaan daar n liggie aan. Het Vrydag n onderonsie met n klein seuntjie gehad. Kan dit as agtergrond gebruik.
LikeLiked by 1 person
Jy sien, so vuur ons mekaar aan. Groetnis.
LikeLike
Dankie jy’s n skat.
LikeLike
🤗
LikeLike