Foto: Glidemagazine.com

Saterdag, 16 Februarie. Ligdag. Boekevattyd op Waterval. Ons drie en die brakke saam op ons bed. Bab lees ons dagstuk en Rots bid oudergewoonte. Maar vanoggend bid hy ook: “Laat ons veilig reis, en maak ons verantwoordelik…”

Rots kry nie verder gebid nie, en ek en Bab lag ons uitasem.

Sien die groot dag het aangebreek. My verjaardag geskenk is mos om in Pretoria te gaan kyk na ikoon Bryan Ferry.

Nou ek is dol na die man en sy musiek sedert my tienerjare. Ek was in die sewende hemel toe my gesin reeds September verlede jaar die verrassing aankondig en ons plekke bespreek.

Ek is seker julle het al gehoor dat daar by sommige musiekkonserte sekere kledingstukkies soms na die verhoog gesmyt word

My ouma, stouterd wat sy was, het ons klomp meisiekinders geleer om ontklee-loos van klemmende pampoensakkies ontslae te raak. Woerts warts, knippe los, hand by een mou in, bandjie oor die elmboog af, dan herhaal met die ander kant en met een pluk – siedaar. My man en kind is rasend van bekommernis dat ek nou vanaand daai loswikkel gevoel sal ontwikkel.

Vandaar Rots se gebed.

****

Ons reis te Hilux die 240 km suid, met die berugte N1, dit reën oral. Ons kom by dii grênd venue aan. Die modderbespatte Hilux se deure word voor die hotel oopgemaak nog voor ek my veiligheidsgordel kon losknip. Praat van belangrik voel. Die tasse is een twee drie op ‘n trollie en almal glimlag blinktand vir die plaas oom en tannie.

Voor jy sê mes is ons onderweg na ons suite op die vyfde vloer van die netjiese, kliniese hotel. Die hele plek is met blommetjie lugverfrisser omgewe. My neus kriewel so effens. Die kamer is baie mooi en netjies, en toe ons so omkyk, bokant die bed ‘n boodskap: “It is about time!” (Dis my derde uiting weg van die plaas sedert 7 Januarie!) Rots lag toe ek sê die heelal het nogal ‘n punt beet met die lukrake sinnetjie.

18h15. Ons eet gou iets voor ons arena toe gaan. Ek is so opgewonde. Arno Carstens tree eers op. En dan….Bryan Ferry.

‘n Musikale genie en kunstenaar by uitstek in my boek. Al 50 jaar in die bedryf en nog nooit minder as sy absolute beste nie. Elke lied, elke album omslag, elke opvoering net ongelooflik. Sy troebadoer stem, sy uniekheid en stylvolheid en die liefde en passie vir sy kuns, plaas hom saam met David Bowie, Freddy Mercury en Queen bo-aan my gunsteling lys. Oor die jare het hy al 300 miljoen albums verkoop. Maar gaan lees self oor hom, as jy meer wil weet.

Ek kan net vertel dat hierdie ‘n hoogtepunt gebeurtenis in my 60 jaar hier op die ondermaanse was. Ons het rustig ons sitplekke gaan inneem. Daar was bietjie verwarring oor die tye. Gelukkig het ons Donderdag ‘n epos van Big Concerts gekry wat ons ingelig het dat Arno Carstens reeds 19h45 optree en daarna die man homself. So met ‘n koue biertjie in die hand het ons gaan sit om die hele affêre te ervaar.

Die nou-middeljarige jeug van die 1970s het kom saamtrek. Manne met blesse en boepies en strepiehemde en dan die ouens wat nog lang lokke, armbande en bootse en leer onderbaadjies dra. Die lokke ook maar yl en grys. Die vrouens in hulle mooi-moois en rooi lippe en oral hoor jy “onthou jy…” Ek verstout my om te sê die manne se kommer oor hulle vrouens se opgewondenheid om die ikoon in lewende lywe te sien, was elektries. Ek weet Rots was! 😉

Voor my sit ‘n vrou wat haar 59e vier. Ons albei se opgewondenheid tasbaar, want gou lag en gesels ons soos ou vriendinne. Die konsert haar geskenk. Ons twee lag oopbek, want die is my 60e se persent.

Rots is in die hemel, hy sit by die paadjie. Ons moet so paar keer opstaan vir mense wat verder af sit. Blok A ry H 49 en 50. Net agt rye tussen ons en die verhoog.

Die man agter my klop my op die skouer toe die saal begin vol pak. Vra wie ek kwaad gemaak het. Daar is twee stoele langs my oop. Ek lag te lekker, en vertel hom die hemele het dit so beskik, ek het spasie nodig ( my mens-engte duur mos nou maar al ‘n rukkie). Hulle is te bly, want ons uitsig is vanweë die oop plekke lekker onbelemmerd.

Arno Carstens is waarlik ‘n musiek maestro . Magtig daardie stem wat so moeiteloos die note slaat. Puik. Gaan kyk gerus ‘n konsert van hom, jy sal nie spyt wees nie. Net hy, ‘n dromspeler en dan ‘n jonge man op klawerbord en trompet. Die man speel albei tegelyk! Whoowee.

Kyk net die koel foto wat ek kon neem op een van die reuse skerms weerskante van die verhoog!

En net so, al singende en klappende eindig Arno sy stel met Another Universe:

“Let’s take the final bow
Let’s make the silent sign
Nobody needs to know where we’re off to…

….Don’t wanna return to a world at war
From the galaxy of blues to a universe we choose
No more crying and just maybe somebody to hold…

****

Tegnici skarrel vir ‘n wyle om op te stel vir die hoogtepunt van die aand. ‘n Vreeslike mooi vrou stap op die verhoog met ‘n saxofoon in die hand, ‘n gryskopman stel sy kitaar, die drommer neem sy plek in, die ligte verdof, en dan verskyn die 74-jarige legende op die verhoog. Ag my hart, die hele saal se hart aan die bons. Nog voor hy ‘n noot sing breek luide applous los.

Wat volg is ‘n ervaring. ‘n Bende van nege musikante wat simfonies klink.

Uiteraard begin sy optrede met nuwer musiek en verwerkings en soos die aand vorder, word ons weer jonk. Avalon, Virginia Plain, Jealous Guy, Slave to love spoel deur die saal. (Kliek en luister saam.) Die jare val weg. Ons is op ons voete, swaaiend en hande in die lug van lekkerte.

Die dak lig toe hy vir sy encore terug kom, en lig verder toe hy lostrek met “Let’s stick together.”

And now the marriage vow is very sacred
The man has put us together now
You ought to make it stick together
Come on, come on, let’s stick together
You know we made a vow not to leave one another never

Ag, ‘n klomp paartjies het sommer weer diep in mekaar se oë gekyk toe ons luid saam sing! Mooi beloftes om trou te bly, en ons verhoudings die bewys!

Die orkeslede. Wat kan ek vertel . Die Australiese saxofoon speler is sexy-mooi en ‘n uiters talentvolle vrou, mens so sweer sy is van altyd af deel van Roxy Music. Die 75-jarige kitaarspeler. Wel, daar is min van sy vaardigheid vandag te kry.

Ferry het sy verbasing uitgespreek dat ons klomp Suid-Afrikaners sy musiek so goed ken – ons het heeltyd uit volle bors saam gesing en luide applous het elke liedjie gevolg. Hy is ‘n besondere kunstenaar. Ek het iewers gelees hy word beskryf as ‘n man wat waarlik sy kuns leef.

Daar is ‘n beskeidenheid en gereserveerdheid wanneer hy praat, maar as hy sing is hy die meester van die verhoog. Sy ouderdom het hom soos goeie wyn laat veredel. Daardie stem! Sy passie en talent groots. Ek stem met  GQ  saam: “Bryan Ferry is the “world’s best-dressed and most languidly mannered deluxe chanteur.”

Hierdie is van my eie selfoon foto’s van die verhoog en skermgrepe.

My bekertjie is vol, ons is terug by die huis, die aand ‘n splinternuwe toevoeging in my hart se onthoukissie. Ek is geseënd.

En nee, die gebed om verantwoordelikheid is toe nie beskaam nie. Die pampoensakkie is nie losgewikkel nie.

Dit was nie daai soort belewenis nie.

Dit was sielkos-mooi en uniek en ikonies, dankie.