Image: Bixbychurch.org

“Vader, seën die voedsel in ons liggame en maak ons opreg dankbaar daarvoor. Seën ook die hande wat dit voorberei het.”

Vir jare der jare, by gedekte tafels, partytjies, braais, vingeretes, kerkbasaarontbyte, by troues, dope, begrafnisse en in ons huise word die gebed gebid. By elke ete.

Drie keer per dag, altyd, oral. Dit rol so vanself uit ons monde. Hoor ons ooit nog wat ons sê, wat ons vra?

Stephan Joubert verander summier tafelgebed in ons huis. In ‘n onlangse rubriek in Beeld skryf hy dat ons vra dat God ons kos seën, en dan vra ons God om ons nog dankbaar ook te maak?

Kapow.

Rots en ek en Bab sit en praat oor die hansgeit van mense dat God alles vir ons moet doen. Hy moet voedsel voorsien, ons seën én ook ons dankbaar maak! So, saam met Stephan Joubert bid ons sedertdien soos volg:

“Vader, seën die voedsel in ons liggame. Ons is opreg dankbaar daarvoor. Seën ook die hande wat dit voorberei het.”

Ek lees flussies ‘n pragtige rubriek van Ivor Price. Hoe hy ‘n Damaskus-oomblik aan ‘n boer se tafel onder gebed ervaar. Die man bid:

Vader,seën die voedsel, seën die hande wat dit voorberei het. Wees ook met die wat minder as ons het.

Lees self die pragstuk hier:

https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/n-kort-gebed-n-damaskus-oomblik-20190212?fbclid=IwAR1XdCYkiAwyoW8SSHWRsCb8o8_ulXD0nuxqHvq2FShzhOKHR5JqtXopwJE

Rots en Bab en ek het ‘n gesprek wat wag voor ons vanaand weer saam dankie sê vir ons seëninge.

Ons gaan voortaan so bid:

Vader, seën die voedsel in ons liggame. Ons is opreg dankbaar daarvoor. Seën ook die hande wat dit voorberei het. Wees ook met die wat minder as ons het.