
Image: Bixbychurch.org
“Vader, seën die voedsel in ons liggame en maak ons opreg dankbaar daarvoor. Seën ook die hande wat dit voorberei het.”
Vir jare der jare, by gedekte tafels, partytjies, braais, vingeretes, kerkbasaarontbyte, by troues, dope, begrafnisse en in ons huise word die gebed gebid. By elke ete.
Drie keer per dag, altyd, oral. Dit rol so vanself uit ons monde. Hoor ons ooit nog wat ons sê, wat ons vra?
Stephan Joubert verander summier tafelgebed in ons huis. In ‘n onlangse rubriek in Beeld skryf hy dat ons vra dat God ons kos seën, en dan vra ons God om ons nog dankbaar ook te maak?
Kapow.
Rots en ek en Bab sit en praat oor die hansgeit van mense dat God alles vir ons moet doen. Hy moet voedsel voorsien, ons seën én ook ons dankbaar maak! So, saam met Stephan Joubert bid ons sedertdien soos volg:
“Vader, seën die voedsel in ons liggame. Ons is opreg dankbaar daarvoor. Seën ook die hande wat dit voorberei het.”
Ek lees flussies ‘n pragtige rubriek van Ivor Price. Hoe hy ‘n Damaskus-oomblik aan ‘n boer se tafel onder gebed ervaar. Die man bid:
Vader,seën die voedsel, seën die hande wat dit voorberei het. Wees ook met die wat minder as ons het.“
Lees self die pragstuk hier:
Rots en Bab en ek het ‘n gesprek wat wag voor ons vanaand weer saam dankie sê vir ons seëninge.
Ons gaan voortaan so bid:
Vader, seën die voedsel in ons liggame. Ons is opreg dankbaar daarvoor. Seën ook die hande wat dit voorberei het. Wees ook met die wat minder as ons het. ”
Ek en manlief is ook deur hierdie oefening. So leer ons en ontwikkel ons selfs al is ons hoè oud. En intussen glo ek God glimlag rustig in Sy liefde vir ons.
LikeLiked by 1 person
So ‘n nodige gebed waarin ons God eer omdat Hy ons voed.
LikeLike
Ons hou nooit op leer nie, ons moet net wil luister om te leer
LikeLiked by 1 person
Jy het my nou teruggevoer na ons kombuistafel in die verre verlede, waar my pa altyd die tafelgebed gedoen het in sy Swartland-bry. Enkele jare voor sy dood het Karen (sowat vier jaar oud) aangebied om die tafelgebed te doen in ouma en oupa se woonstel daar in die Kaap: “Op my stoeltjie sit ek nou, met my handjies saamgevou. Liewe Jesus hoor my dank, vir my voedsel en my drank.” My pa het sommer trane in sy oë hehad en het opgestaan om vir haar rooi koeldrank te gaan haal sodat sy “drank” voor haar kon hê. Dis een van haar min herinneringe aan haar oupa.
LikeLike
Ons probeer ons kinders leer om uit die hart te bid en nie ‘n rympie op te sê nie.
Hierdie een wat jul bid is vir seker besonders en gaan ek dit ook vir hulle by leer. ❤️
LikeLiked by 1 person
Dis pragtig.
LikeLiked by 1 person
Ek weet ek is baie laat vir die “party”, maar ek stem nie saam met die redenasie rondom die bekende tafelgebed nie:
“Vader, seën die voedsel in ons liggame (voedsel waarvoor Pa, tradisioneel, voor geWERK het)
en maak ons opreg dankbaar daarvoor. (vir die kinders, wat tog, o so vol FIEMIES is)
Seën ook die hande wat dit voorberei het.” (tradisioneel, Ma se hande). Ek dink dit vat die essensie van die tradisionele gesin pragtig was; buiten dat jy as volwasse kind dit “hoor” in JOU pa se stem…
Die mooiste gebed was egter die van my Oupa aan vaderskant, wat laaaank kon bid na boekevat, waarin hy ook gebid het vir “onse ouers” (wat as kleinkinders vir ons baie snaaks was, aangesien sy ouers lankal oorlede was, maar nou besef ek, mens moet dit nie so letterlik opneem nie; hy’t namens sy kinders en kleinkinders vir ons ouers gebid) en die “wees en die weduwees”.
Ek is bitterlik spyt dat ons dit nooit kon opneem nie, ons het probeer maar die “tapedeck” het nooit goed genoeg werk nie, sou wat wou gee vir ‘n bietjie hedendaagse tegnologie!
LikeLike
En wie kom kuier so laat? Ek ken nie Someone nie?
LikeLike
Dankie, Vurige! Kos vir my siel. Geseende Kersgety vir jou. – groetnis, willem
LikeLiked by 1 person