#Woordsnoere


Eendag op ‘n reëndag sit Vida en haar boetie, Willempie en blaai deur die
ensiklopedie. Die rede – verveling. Hulle lewenslus erg ingeperk deur die hewige storm daarbuite.

Willempie sou natuurlik liewer buite in die reën by die damwal se skuinste wou afgly en saam met sy maats kleilat speel tot hulle klere oker gekleur is. Of nog beter sy nuutste playstation speletjie vir Vida wil wys.

Helaas, sy hartewens en bede sal vandag moet onbeantwoord bly.
Soos dit op plase gaan het die Eskom-krag met die eerste donderslag verdwyn. Hy blaai deur die boek. ‘n Foto van ‘n oerangoetang trek sy aandag. Hy begin lees.

“Vida, weet jy dat 97% van die oerangoetang se DNA is dieselfde as mense s’n. Fenomenaal! Hulle is verwant aan ons,” lag hy.

“Ag, Willempie, jy is kens,” snou sy sussie hom toe.

” Nee man, oerangoetangs woon in die woude van Borneo. Daar is ‘n legende dat hulle eers lede van die Dayak stam was. Die Dayaks het vreemde gewoontes. Hulle was kopjagters (head hunters),” vertel Willempie met smaak.

“Dis makaber verby,” gril Vida.

Haar boetie lag. “Ja, hulle het koppe by mekaar gemaak om oeste en huise te beskerm en wie weet wat hulle gode vereis het, gelukkig te hou. Maar die tradisie het darem saam met die tyd verdwyn.”

Vida hoor hom nie, haar neus in ‘n boek begrawe. Hoor en sien kan vergaan.Willempie lees verder.

‘n Klomp ouens van die stam het blykbaar die gode belaster en gevloek. Vir hulle misstap deur net soos Melissa McCarthy te swets ( Leon vanNierop sê juis sy is die enigste mens wat swets soos ‘n Patience Strong boodskap laat klink), het hulle in orangoetangs gemetamorfoseer.

Orang beteken mens en hutan bome. Mense wat in bome bly. Bosmense. Hulle deel baie gebare en gewoontes wat erg menslik is. Die moedermooi – net ‘n mamma kan vir daai gevreetjie lief wees- gediertes met die lang arms wat vir jou onderstebo sal kan klap. Die snaakse gesigsuitdrukkings is ook beslis ‘n resep vir goeie komedie.

Willempie wonder oor die primate se kostelike gesigsuitdrukkings. Een klink baie ongeskik in Engels “blowing a rasberry: a noise that may signify derision, real or feigned. A sound made by placing the tongue between te lips and blowing to produce a sound similar to flatulence.” Hy glimlag en wonder of dit nog ‘n oorblyfsel van hulle vloekende mens voorsate soos in die legende sou wees. Heel moontlik.

“Prrrrrrr,” druk hy sy tong tussen sy lippe.

Ag, nee man, Willempie, sies,” raas Vida.

“Nee Sus, moet nou nie die enge wees nie. Ek maak soos ‘n oerangoetang.” Hulle lag te lekker.

*****

Kom ons los eers vir Willempie en sy sussie.

Ek self wil verder vertel.

So hier is so ietsie meer oor die gediertes wat vandag so bedreig is dat hulle van mense isoleer moet word. Dis hartseer dat die mensdom nie die dringende memo om uitwissing van diere en plante te keer gekry het nie.

‘n Nederlandse avonturier, ene Davis Beeckman het na Borneo gegaan in 1718. In sy notas en latere boek skryf hy met lense rooskleurig getint:” the animals have tolerable good faces and are in some instances handsomer than some people I have seen.” So, net soos met ons vandag, het die oerangoetangs gou kleims in die man se hart afgesteek.

Ek was sommer in trane toe ek lees dat Beeckman ‘n oerangoetang wat drank verslaaf was vir ‘n appel en ei gekoop het. Beeckman skrywe in detail die arme dier se lus na drank en hoe hy ‘n geslepe dief geword het. Onder andere die drank kas oop forseer het, ‘n bottel brandewyn leeg gemaak het, en dan so ewe die bottel terug in die kas gebêre het. Dis ‘n skuins, gladde paadjie wat alkohol met graagte mens en dier laat af gly. Hartseer.

Ek sit nou en wonder of die oerangoetang in sy besopenheid gedink het dit is soma – gode elikser – wat hy so suip en dat hy in sy dronkenskap weer mens was en ‘n engelekoor hoor sing het. Sela.

Lees gerus meer oor soma – die elikser en die god. Dis vrek interessant. In Hindu mitologie verteenwoordig. Soma die god van die maan wat deur die hemele reis in ‘n wa getrek deur vier wit perde. Soma is ook die elikser vir onsterflikheid wat net gode beskore is. Mitologie wil dit hê dat die elikser in die maan geberg word.

Is dit hoekom ons met die maan gepla is?

O, ja die Hindu naam vir Maandag is ook na Soma vernoem – Somavara. Lees hier verder

http://www.karma2grace.org/encyclopedia.asp?pg=soma.htm

****

oor die #Woorsnoer uitdaging: Het jy ook lus vir saamspeel? Skryf dit op jou blog. Gebruik een of sommige of al die woorde as inspirasie en onthou om die skakel te gaan plak by INLINKZ, waar jy ook sommer al die ander blogs kan lees.