Hierdie moet ek nou versigtig bewoord.

Die Driehoek-tragedie en die oorvloedige tot-oorlopens toe meelewing van skole, kerke, individue, sakeondernemings is vir my ‘n bron van verstomming en ek het so kriewel wat ek wil verwoord. Lees my uit asseblief, voor jy jou vingers tot die QWERTY wend.

Ek ween saam met die ouers – van die vier jonge lewens kortgeknip. Die ouers en die jong dogter wat nou die lewe in ‘n rolstoel moet aanpak. Met elke kind en gesin wat met beserings en herstel paaie konfronteer word. Ook met elke kind en onderwyser wat van Maandag af weer daar moet gaan klas loop en gee.

Die ding wat my kriewel is die: Wat nou na die begrafnisse vandag verby is? Gaan ons wat bid en boodskap nog besorg bly? Wat as die tragedie nou so saggies na die ver hoekie van die nuus uitskuif? Dis maar hoe dit met nuus is.

Daar was SONA gisteraand en die Prez was onindrukwekkend en onderwys doelwitte maar verskietende beloftes wat my aanbetref. Nie ‘n woord oor verkrummelende skoolgeboue, swak onderrig standaarde, lae slaag standaarde, skole sonder kleedkamers, onveilige omgewings… ag die lys is ellelank.

Ek het so hier en daar gelees dat siviele ingenieurs aan skole verbonde geroep is om op te staan aan te meld. Ek dink die bouers, sakelui en elke mens naby elke skool moet Maandag daad by sosiale media woord plaas en aanmeld.

Aanmeld om kundigheid, kennis, hulpbronne aan te bied. Ons moet na ons naaste skole gaan asof die betonblok van Driehoek oral geval het. Daar waar geboue aandag nodig het – maak dit ‘n projek. Daar waar kinders in armoede en skaamte moet skoolgaan – help hulle. Daar waar boeke makeer – samel geld in daarvoor.

Ons gaan in hierdie land niks verander as ons nie self die verandering bewerkstellig nie. Ons moet ophou strikkies en ballonne en wat ook al gebruik om mooi foto’s op sosiale media te plaas – ons moet eerder alle moontlike geld gebruik om ‘n rolstoel, kos, klere, boeke te skenk, bakstene te koop, strukture beveilig en eerder so ‘n regte verskil maak, sodat geen Driehoek ooit verder gebeur nie.

Vergeet regering, Departemente van Openbare Werke, Onderwys. Begin plaaslik dink en gemeenskap uitleef. Gaan vat hande met jou naaste skool, neem een in die landelike gebied as tweeling skool aan en kom ons huldig so die seer van Driehoek.

“Push back” is normaalweg ‘n negatiewe manier van verandering teweeg bring. Ek reken weer as ons deur pro-aktief binne gemeenskappe “push back” deur wesenlike en positiewe veranderinge wat die gemeenskap baat bewerkstellig, ons mense in leierskap op hulle tone hou tot almal se voordeel.

Ek sien die nuwe driehoek benadering so: Bo-aan die driehoek is alle kinders se toekomsdrome en huidige nood, dit word van onder gesteun deur gemeenskap van links na regs onder met oop hande.

Vir ons kinders en die wat na hulle kom.

Vir ons seer land.

Daar is Driehoeke oral om ons.

Dis my pennie (of is dit ‘n simpel vrou se hersenskim?)