Blokraai. Dis so deel van my lewe dat ek skoon oorhoeks is as ‘n tydskrif of koerant se nuwe uitgawe nie getrou op die betrokke toep beskikbaar is nie.

Die blokraaiery het gebeur toe my Kindle een goeie dag besluit hy is nou klaar met die lewe. Dit was in ‘n hospitaal wagkamer. Ek is sonder onderhandeling as my dierbare skoonmoeder se bestuurder en begeleier deur menige dokter besoeke, operasies en so aan, aan gestel. So die wagkamers by spreekkamers en hospitale was ‘n bekende omgewing. My Kindle byderhand het die lang ure in lekker lees tye omskep.

Tot die een spesifieke dag wat moeder onder die mes is,en ek ure het om te verwyl en Kindle groet net daar. Ek is af kafeteria toe en koop maar ‘n paar tydskrifte. Lees die goed van hoek tot kant klaar, en daar sit ek. Al wat ongedaan is is die blokraaie. Krap toe maar in my handsak rond en daar kry ek die klikpotlood.

Die res is geskiedenis.

My Rots deel die liefhebbery. Hy geniet om voor slapenstyd met die leesbril op sy neus se punt te blokraai tot die vaak hom oorval.

Ons koop jare al nie papiertydskrifte nie. Ek verpes vismotte en hope tydskrifte is ‘n ideale broeiplek. Ons kind is gelukkig ook al vergete klaar met stompskêrtjie aktiwiteite!

So die Mysubs en Zinio toep is vir ons te wonderlik. Al ons gunsteling tydskrifte altyd byderhand op die naaste selfoon of tablet. Wat lekker is is dat ons blokraai bladsye kan uitdruk. Maandae is dit Landbouweekblad en Vrouekeur. Vrydae die Huisgenoot, TVPlus en Kuier al om die ander week en maandeliks die Rooirose, Sarie en Tuis.

Op die dae wat nuwe blokraaie beskikbaar is, sal Rots en ek op die stoep sit en saam sit en blokraai invul, gesels oor die dag wat verby is, lag oor snaakse woorde, soms sommer gril vir sommige woorde wat te vreeslik uitlands gespel word, raai oor mense wie ons nie ken nie. Ons is nie sepie-kykers nie, so ons moet ons vriendin Google soms raadpleeg!

Ek geniet dit, want ons mooie taal se woorde is so mooi en omskrywend. Ek vind toenemend dat ek terwyl ek blokraai, ek sinne maak, en soms ‘n storie. Ek ryg die woorde soos snoere…daar is oral stories. Selfs in ‘n blokraai.

Verlede week se Huisgenoot blokraai was so ene. Ek vul in: Renons, daeraad, amper, arrestasie, iris, tier, deurtastend, verleë, mombakkies, skeermesmossel, lelik, alledaags, aronskelk, disas, talisman, inperk, koerant, krepeer, jakkalsdraai.

My gedagtes maal en my blokraai storietjie ontvou so:

Vanessa staan met haar hande in haar sye. Sy tier van woede.

“Paultjie jy maak vir my so naar. Jy is soos rens melk. Mens kan dit nie inkry nie. Ek begin dink ek het ‘n talisman nodig om beskerm te word teen jou jakkalsdraaie. Ek voel so nuttig soos ‘n skeermesmossel,omtrent net goed genoeg om as aas gebruik te word. Jy kan nie my sommer so misbruik nie. Ek wil nie die lelike mombakkies dra nie, ek wil nie na die maskerbal toe gaan nie. Ek wil nie die aandag afleier wees sodat jy mense kan besteel nie. Ek krepeer liewer en verkoop blomme – aronskelke en disas en die mooie Vincent van Gogh -pers iris in seisoen – om aan die lewe te bly.
Meeste van alles wil ek nie arresteer word nie. Dis nou nie hoe ek die koerant wil haal nie. Ek slaat liewer op mode stelte neer in die openbaar en maak so verleë my verskyning op die voorblad.”

Paultjie gooi sy hande in die lug op. “Jirretjie Vanessa, hou op om my so te gesel met jou woorde! Ek is moeg vir die alledaagse drentel op soek na werk. Ek droom van plase, droom om liewer ‘n Belg in Vlaandere te wees. Droom om soos Abram alles vir Sara en Isak vir Lea was, deur jou bewonder te word vir my leeuemoed. Maar nee, jy kry my gedurig voor stok. Elke dag kry ek ‘n loesing met daai tong van jou…”

Daar is dit. My malle woordryg speletjie elke keer as ek blokraai. Wat is skryf dan nou anders as woordsnoere?

Ek lees hoeka nou die dag dat as jy die woordeboek deurgelees het, jy alle stories klaar gelees het. Stories se woorde is net in ander volgorde! Hehe!