Ek loop die twee vrae by ‘n Bloglander van oor die water raak:

Wat laat jou beker oorloop en wat tap jou leeg? Watter plekke laat jou heel voel en watter tap jou leeg?

Ek dink nou al heel week oor die twee vrae. Sekerlik moet jy eerder fokus op die oorloop- en heel kant, eerder as dit wat jou leeg laat voel.

Ek weet darem nie. As alles perfek reg is, en jou beker loop oor, want jy kan alleen op ‘n eiland sit en jy het al die nuutste boeke, beste kos, mooiste huis. Waarna sien mens dan uit? Daar moet tog drome en versugtinge oorbly. Iets om na uit te sien.

Wat maak jy as die enigste plek waar die goeie salaris, want dit help dat jy jou bekertjie half vol hou, in ‘n lelike grys veel verdieping is waar die brandtrappe na piepie ruik en die hyser na braaksel? Wat maak jy as die pertoltenk immer half leeg is en die bankrekening ook? Wat maak mens as jy wakkerword en die verhouding met die mens wat hier neffens jou lê en snork, tap die lewensmurg uit jou uit?

Moet mens uithou, aanhou? Of moet jy daai verandering wees waarna jy na smag? Moet jy wegstap, uitstap, hardloop? Nee, a ou katta. Dis nie wat mens doen nie.

Heel wys, die woorde van Tom Waits: “Don’t plant your bad days. They grow into weeks. The weeks grow into months. Before you know it, you got yourself a bad year. Take it from me – choke those little bad days. Choke ’em down to nothing.”

Slegte leeg getapte dae is bliksempies. Hulle kleur alles in skakerings van makeer, skort en haper. Bekertjie vol hou is binne werk. In jou hart. Nie oopkop nie, nee met ‘n oopgebreekte hart. Dis hoe.

Eenvoudige dinge hou al geruime tyd my bekertjie vol. Die lyster se word wakker lied, die wolke wat deur die blouselblou hemel seilskip, my man se more soentjie en die lekker beker koffie, ‘n braaivleisvuur, my kind se vrolike lag en sagte groen oë. My Koos hond se koekblik oë. Die warm klein bekeer wanneer ek stiltetyd hou en in die stil, hoor ek God se stem, voel ek Sy liefde. My Elisa wat groet en singend die stoepplante natspuit.

My beker is nie grênd nie. Noritake fyn beslis nie. Nee, dis ‘n enamel ene, met baie kapasiteit. Hy breek nie maklik nie, kan wel duike kry.

Ek vermy al ‘n ruk dinge wat my siel se murg tap. Ek is al geruime tyd op ge-mens. Mense met eie agendas, eie behoeftes voor op gestel, met gesplete tonge. Ek kon net nie meer nie. Ek bly op die oomblik laag op ander se radar, soveel so dat ek geheel en al uit mense se sig verdwyn het. Dis wat nou vir my werk. Of dit permanent is, sal tyd leer. Maar vir my sieleheil is ek erg menssku op hierdie oomblik. My kring is handvol.

Verder is ek op-winkels toe, doelloos in sentrums dwaal. Daai plekke maak my siel dood. Ek kry rêrig angsaanvalle, die sweet loop my af. Was nog nooit so dankbaar dat ek aanlyn my skoene, klere en so aan kan koop en my gesin liewer vir die inkopielys is as ek.

Ek lees toevallig ook vanoggend oor “open-minded” en “openhearted.” Daar is ‘n reuse verskil tussen die twee. Om ‘n oop verstand te hê, dit klink alte veel berekend. Jy kan jou verstand oefen en leer om so of so te kyk, voel, sien. Maar is dit werklik jy?

‘n Oop hart daarteenoor – dit kom met goed aan jou lyf voel en ervaar. Om jou hart oop te maak, dit kos breek, slae, houe. Dink aan Jesus. Ook Martin Luther King, Martin Luther, Moeder Theresa. Dink nederigheid, fisies moue oprol, seerkry, verguis word, opstaan vir onreg.

My slotsom is dat my hart nog nie oopgebreek genoeg is nie, dat ek baie binnewerk te doen het. Dat ek toe geskulp is. Dat ek nog stiller moet word, en moet onthou dat ander mense, selfs die wie se radar ek vermy, ongetwyfeld ook met die oorlopens toe leeg tappende elke dag se lewe wroeg.

My lewe – met sy geduikte bekertjie, soms vol, soms leeg getap – het ‘n doel en ‘n verskil om te maak. Ek kan nou toe kokon leef, my geliefdes laat my dit toe. Dankie tog, daar is ‘n tyd vir alles.

1 Daar is ’n vaste tyd vir alles,elke ding onder die son het sy tyd: 2 ’n Tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf.’n Tyd om te plant en ’n tyd om uit te ruk wat geplant is. 3 ’n Tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak.’n Tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou.4’n Tyd om te huil en ’n tyd om te lag.’n Tyd om te treur en ’n tyd om van vreugde te dans. 5 ’n Tyd om jou saad te saai en ’n tyd om jou saad terug te hou.’n Tyd om te omhels en ’n tyd om weg te bly van omhelsing.6’n Tyd om te soek en ’n tyd om te verloor.’n Tyd om op te pas en ’n tyd om weg te gooi.7’n Tyd om te skeur en ’n tyd om vas te werk.’n Tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat. 8’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat.’n Tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede .9 Watter voordeel is daar vir die een wat iets doen wat hom vermoei? 10 Ek het nagedink oor die taak waarmee God die mens belas. 11 Hy het alles mooi gemaak,Hy het aan die mens’n visie gegee van die ewigheid.Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk,van begin tot end,verstaan nie. 12 Ek het besef daar is vir mense niks beter nie as om vrolik te wees en tydens sy lewe die goeie te geniet.13 Mense moet eet en drink en onder al hul moeite nog die goeie kan geniet.Dit is geskenke van God. 14 Ek weet alles wat God doen,is vir ewig. Niemand kan daar iets byvoeg of daar iets van wegneem nie.God doen dit sodat die mens Hom sal eer. 15 Wat is, was reeds.Wat nog sal wees,was ook alreeds,God soek dít op wat alreeds verby is.’ (Prediker 3 NLV)