Foto: Pixabay

Ek lees onlangs ‘n fabel oor die hemel en naaldekokers raak. Dis so mooi en ek deel graag my weergawe.

Foto: Pixabay

‘n Dogtertjie vra een mooi oggend: “Mamma, hoe werk die hemel?

“Wel, daar is ‘n storie oor die swembad helikopters wat vir jou mooi kan verduidelik,” glimlag die kind se wyse mamma.

“Vertel. Vertel, ek hou van swembad helikopters” klap die dogtertjie opgewonde handjies.

“Nou kom sit, dan vertel ek jou. Onthou, swembad helikopters se regte naam is naaldekoker. Die storie gaan so.”

Diep onder die water van ‘n spieëlgladde dam het ‘n klomp watergoggatjies sorgvry en onbevrees in die skemerte en slik gelewe. Niks het hulle gesteur nie en niemand het juis van hulle bestaan geweet nie. Dag in en dag uit kossies bymekaar gemaak, gespeel, nessies gebou. Rustig.

‘n Goggatjie wat met die alledaagse sleur vereeld geraak het, het teen die stam van ‘n riet op geklouter.

“Kyk, daar klim een van ons teen die riet op!” Die klomp woekerende watergoggas het verstom gekyk hoe hulle maatjie klim en klim, en skielik is sy weg!

Hulle het gewag, en gewag, maar die maatjie het nie teruggekeer nie. “Haai, waarom sou sy wou weggaan. Was sy nie gelukkig hier nie,” het sommige watergoggas onder mekaar bespiegel. Ander het weer gewonder waar sy sou heen. Hulle was baie verward oor wat van hulle maatjie geword het.

Die onrus wou nie wyk nie en die hoof- gogga, Goggabie, het ‘n vergadering belê. “Die volgende een van ons wat teen die riet uitklim, moet belowe om terug te keer en ons kom vertel waar hy of sy heengaan en hoekom.”

Al die goggas het hand op die hart plegtig belowe.

Dis nie lank of die einste Goggabie se nuuskierigheid raak te veel vir hom. Hy klouter voetjie vir voetjie die riet uit. Op, op en op klouter hy, en skielik breek hy deur die water.

Dis ‘n lieflike lentedag daar bokant die donker water. Hy skarrel in sy skrik en kry ‘n waterlelie blaar om op te rus. Alles is te oorweldigend vir woorde.

Van skrik lê Goggabie net daar op die sagte blaar met die warm sonskyn wat hom lomeriger en lomeriger maak.

Na ‘n ruk skrik Goggabie wakker. “Wat, wat het met my gebeur,” hy kyk verstom na sy lyfie wat nou slank en maer met vier blink deurskyn vlerke daar uit sien. Goggabie het in ‘n naaldekoker verander!

Hy het verstom na sy nuwe vlerke en lang stert gekyk. Sy nuwe vlerke bewerig en sy nuwe lyfie lomp. Maar wat is daardie trilling in sy vlerke. Die son het gou enige nattigheid opgedroog en sy mooi vlerke beweeg al hoe vinniger en daar vlieg hy! ‘n Mooie naaldekoker.

Goggabie lag en skater van pure plesier terwyl hy deur die lug swiesh en swoosh en draaie maak. Byna uit sy nuwe vel van vreugde. Uitasem gaan rus hy op die lelieblaar.

Hy loer af om te kyk of hy sy watergogga maats onder die water kan sien. Wraggies, daar onder in die skemerte sien hy hoe hulle skarrel deur die modder en slik. Haai, hy was net nou-nou nog ook daar.

Sy eie belofte raas in sy oortjies. “Die volgende een van ons wat teen die riet uitklim, moet belowe om terug te keer en ons kom vertel waar hy of sy heengaan en hoekom.”

Goggabie is ‘n man van sy woord en woerts, probeer hy deur die water afvlieg. Iets keer hom, en hy bons terug. “Ek kan nie weer terug nie.” besef hy. Naaldekokers hoort bokant die water.

Hy troos homself dat hy probeer het om terug te keer om sy belofte te hou. Hy besef ook dat sy maats hom in sy nuwe gedaante nie sal herken nie. “Ek sal maar hier bo wag, tot ander ook op klim om naaldekokers te kom word. Hulle sal dan verstaan wat van my en die ander geword het, en die lieflike nuwe lewe wat ons hier bo ontvang het.”

Swoosh, swiesh dartel Goggabie deur die vars blou lug, oor die water, die wye wêreld vol. Hemels mooi en gelukkig.

Foto: Pixabay