Hierdie blogpos is deel van die fiktiewe Kuier-Safari toer wat deur 14 bloggers onderneem word. Foto’s – Google en Vuisboek.

Lees vorige bydraes deur die verskillende skrywers by hierdie InLinkz skakel  http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.

———————————————————————————————————-

Ons kom na ons Namakawalandse reis saam met Hester, 1 200km later op die Giggelgroen towerintoerinbus se odometer, by Kaapstad Lughawe aan.

My hart klop in my keel, want Lekkervurige-ek gaan alweer ‘n draai veroorsaak. (Ek is nou nog so beskroomd oor ek voor Virgo C se Gariep-besoek ingedruk het en Hester en Lorenzo moes laat bokspring om alles glad te laat verloop. ). Ek stap toe maar saam uit die bus uit. My maats staan vol afwagting na my en kyk.

“Ons moet nou weer terug Pofadder toe,” sê ek. By aanhoor hiervan gooi Lorenzo sy hande in die lug en dertien Towerinne voel hoe huil hulle iskias.

Voor ek my verrassing met almal kan deel, vlieg Lorenzo die bus in soos ‘n malmok.

Ons kyk verstom hoe die giggelgroen towerbus die straat af jaag. Minute later is dit net sirenes. Ons gil ‘n minibus taxi nader en skree almal gelyk: “Volg daai groen bus.”

Dis ‘n nagmerrie al met die N2, see se kant toe. Lorenzo, polisiemotors, ons in die minibus agterna. Skielik draai Lorenzo af, Groenpunt toe. Hy stop nie, hy ry tot in die see…

Sal so uitlander nou sy emosies met hom laat pad vat! Ek hol nader.

“Lorenzo, now why did you do this,” vra ek woedend.

“I no want to drive those roads anymore. Lorenzo is tired,” en hy huil vreeslik.

Hester, Kameel en Frannie moet net polieste paai, en ek sien hoe ‘n broodjie of twee hande ruil. Die groen bus word uit die see katrol. Dit benodig bietjie herstelwerk. Lorenzo word vir ‘n nag in die hospitaal opgeneem.

Die minibus bestuurder, Makkie glimlag met sy bergiebek.

“Kan ek julle miskien help. Ek sal julle Pofadder toe vat.” Jy sien die pupille van sy oë in note verander. Ons bedank hom vriendelik en wys sy aanbod van die hand.

“Dankie, maar dis nie nodig nie. Help ons ons bagasie uit die bus laai en neem ons asseblief na die Cape Grace Hotel. Jy kan ons more om 09h00 kom oplaai lughawe toe,” glimlag ek en boender 13 verwarde Towerinne die taxi in.

“D..dis ‘n super luukse hotel,” sê Trommeltjies. . Ons kan haar glo, sy ken van die Moederstad.

“Haal asem Towerinne,” paai ek. “Dis deel van die verrassing, as Lorenzo net rustig gebly het.”

Dis net ‘oe’ en ‘ah’ en ‘n gegiggel, nes dit al vir byna 6 000 km in die giggelgroen bus gegaan het sedert 20 September 2018. Op pad na die mooi oornagplek vertel ek:

“Danksy Scrapy se gereelde gebruik van die Elonmuskvliegmasjien, het die man, julle weet hy het Suid-Afrikaanse wortels, né, kontak gemaak. Ons toer het hom nuuskierig gemaak. Hy, net soos baie van ons, hou nie van onmin nie, en het besluit om sy vliegmasjien aan te pas om al veertien van ons plus Lorenzo te akkommodeer. Nou het Lorenzo amper my hele plan befoes. Gelukkig, en dankie Frannie dat jy Silver so omtower het dat hulle ook hier in die Kaap aangekom het om vir oulaas saam ‘n avontuur te hê, hy reeds ingestem om te help seker maak ons laaste been van die epiese toer is moontlik. Meneer Musk het ook besluit om ons vir een aand in die mooie Cape Grace te laat oornag as sy spesiale gaste.”

Frannie glimlag skalks en luide applous breek uit. Ag, dis darem lekker saam met die klomp vroue! Ons word soos koninklikes ontvang by die hotel. Seegogga, Positief, Bondels, Perdebytjie, Woordnoot, Toortsie, Trommels, Frannie, Una, Hester, VirgoC, Kameel, Scrapy en ek weet nie waar om eerste te kyk nie.

Elkeen is in ‘n luukse kamer inbespreek en ons het deeglik van alle lekkertes wat gebied word gebruik gemaak. Spa-behandelings, sonbaai, lekker smulkos. Wat ‘n heerlike ervaring.

Intussen het Hester, Una en ek verwoed reëlings moes tref om ons geliefde bus herstel te kry. Gelukkig is Abrie weer terug en kon hy help dat die bus oornag herstel word. Frannie en Virgo C het met Silver-hulle gepraat, en hulle onderneem om met die bus as deel van hulle konvooi na ons eindbestemming te reis om met die Towerinne en Lorenzo daar te verenig.

Die volgende oggend is dit ‘n uitgeruste en kalm Lorenzo, pas ontslaan, en veertien kekkelende towerinne wat vrolik by Kaapstad Lughawe aankom.
Ons het sy drip met so bietjie frangelico gedokter toe ons besoektyd gaan inloer het. Ons word soos BBPs na ‘n afgeleë loods vervoer. Ons kon ons oë nie glo nie. Daar staan ‘n elonmuskvliegmasjien met plek vir vyftien mense en ‘n Musketier, dis nou iemand in Elon Musk se diens, wat die vlieg werk sal doen.

Na ons mooi beduie is deur ons Musketier hoe die nuwe vliegmasjien werk en dat ons heel veilig sal wees, word die Muskmasjien bestyg. Die Musketier roep my eenkant, daar is so klein probleempie. Ek stel die Towerinne gerus en vra Lorenzo om solank vir almal ‘n glasie sjampanje te skink. Dertig minute later kan ons opstyg. Wat ‘n ervaring!

En swoesh….. daar vlieg ons. ‘n Uur later is ons op Pofadder. ‘n Vriendelike omie kom laai ons met twee donkiekarre op die stowwerige rugbyveld waar ons geland het, op.

“Welkom op Pofadder,” sê Oompie Pof. ” Ja, die plek is nie na die slang vernoem nie, maar na my oorgrootjie…Klaas Pofadder. Hier is ‘n reuse sonpaneelplaas en baie toeriste aantreklikhede. Julle weet Stroomop die fliek is net hier op die pad Onseepkans toe op die Oranjerivier verfilm, né. Ons dorpie is nie so stil as wat julle dink nie”.

Ek lag en sê: “Dis nie so stil as eienaardig nie. Julle ouetehuis en die grafplaas is bure.”

“Nee, die situasie het jare gelede verander,” lag hy. “Ons nuwe ouetehuis is ‘n bedrywige plek. Kyk maar op Vuisboek”.

“Oom Pof, wag net voor jy ry, ek het ‘n nuwe inwoner vir die ouetehuis gebring.” Ek druk die vragruim van die Muskmasjien oop, en ‘n verkreukelde Broodina klim uit.

‘n Stilte so wyd soos die Kalahari sak neer vir ‘n millisekonde. “Waddehel,” sê Hester namens almal.

“Ek kon nie anders nie, sommige van julle kry die vrou jammer. Ons het haar gevang snuffel om die Muskmasjien en na sy met die polisie gedreig is, het sy met haar hele storie uitgekom. Pofadder sal vir haar werk. Of hoe, Broodina,” vra ek.

“Ek is waarlik jammer dat ek julle so gepla het, julle lewe lyk so lekker. Jaloesie het my skoon deurmekaar gehad. Ek het ontdek dat ‘n ou skoolkys van my, Klaas Kluitjies, is hier in die ouetehuis, en danksy Lekkervurig se hulp, het ek met hom kontak gemaak. Hy is so bly dat hy sommer vir my ‘n kamer by die ouetehuis gereël het,” Broodina bloos lekker.

Wraggies, daar pluk al wat Towerin is ‘n kantsakdoekie van my skoonma uit om trane te dep. Jinne, ons is maar ‘n sentimentele klomp.

Oom Pof sê:”Kom, die son gaan vir julle hier insmelt as ons so bly rondstaan, kom ons ry nou ouetehuis toe. Middagete is vir julle gereël.”

Foto: Phil Pieterse

Daar gaat ons deur Pofadder se strate. Veroorsaak amper hulle eerste verkeersknoop soos almal stop om die twee donkiekarre vol vroumense en een beskroomde donkerkopman te aanskou!

Huis Sophia – Broodina se nuwe staning. Ons hoop sy en Koos Kluitjies leef gelukkig hier!

Ons stop voor Huis Sophia wat net verlede jaar mooi restoureer is. ‘n Statige man staan alleen op die stoep. Broodina snak na haar asem en vlieg van die donkiekar af. “Klaas, Klaas,” is al wat sy uiter toe sy in sy omhelsing in val. Die Towerinne en Lorenzo huil die kantsakdoeke sopnat.

Sien, Broodina was aan Klaas verloof, hulle sou trou. Toe gebeur die oorlog, en hy is aangeteken as vermis. Broodina het gerou en saam met haar familie Hartebeespoort se koerant gaan begin. Klaas het amnesie gehad en was lank oorsee, waar hy ‘n verpleegster ontmoet het wat hom op sy lang herstelpad gehelp het. Hulle het getrou. Sy het ‘n plaas buite Pofadder geërf en hulle was lank daar saam. Klaas is sowat vier jaar ‘n wewenaar. Hy het besluit om sy ou liefde te probeer opspoor. Maar geen geluk. Broodina het ook van haar kant probeer om Klaas te vind. Soos die lewe dikwels loop, is toeval die rede dat hulle paaie weer kruis. Op Vuisboek, deur gemeenskaplike kennisse. Broodina wou, na sy gevlug het Knysna toe haar lewe oor begin en stil haar lewe sluit. Toe vind sy vir Klaas. Dis op hierdie tydstip dat Kameel haar toe oor Krismis raakloop. Sy het verneem ons rus en dan gaan ons die toer rondom Pofadder aflsuit.

Soos Broodina maar is, besluit sy toe liewer om ons te volg, en miskien so ‘n rit te kan bedel Pofadder toe.

Sy wou in Knysna vir Kameel vra en toe sien die eks skonie se vriendin haar in die bedding, toe druk die vrou van skrik haar glas stukkend en stamp teen die vuurpot. Dis waar al die breekslae vandaan kom. Sy moes toe vlug en het maar op Kaapstad lughawe weer probeer. Daar was nie sitplek vir haar nie, so sy moes maar in die vragruim klim.

Ons word gul ontvang deur die inwoners van die ouetehuis en Toorts is in vervoering toe sy hulle orreltjie sien. Dit was omtrent ‘n singery en geklets. So teen tweeuur het Oom Pof ons klomp kom oplaai, terug na die Muskmasjien, ons laaste ure van ons epiese Spring-op-die-bus toer het aangebreek.

O, ja. My verbintenis met Pofadder het ek reeds oor geblog. Lees gerus oor Tannie Corrie van Rhyn en Pofadder as jy sou wou. Ek haal uit die inskrywing aan:

“In my early days as professional beggar for charity, she accompanied me to many teas. One day, we were invited by the Pietersburg Ladies Club. The club, a bastion of the stiff-upper lipped of our community. So here Afrikaans speaking us walk into the tea and cucumber sandwich do. Ladies in hats and thin red lips. I do my very best to promote our cause, get smiles and tears, as that is what I am good at. After formalities, we sit and chit chat. Two ladies at our table, not particularly impressed with the two Boertjies in their midst, where going on about their latest European tour. I glance to Tannie Corrie, and she is rolling those dentures. Trouble. She clatters down her cup and saucer, and leans in towards the two women. “My dears, it all good an well to go overseas, but tell me, have you ever been to Pofadder,” she quipped. Oh my word, I had to excuse myself quickly. The astounded looks and silence was priceless. Tannie Corrie did not suffer fools lightly.

Nou kan julle saam met my oral heen toer met die formidabele vrou se toestemming, want ons was immers almal op Pofadder!

Ons kuier more verder finaal saam. Hier is vir julle elkeen ‘n blinddoek, die het julle nodig omdat ons laaste bestemming ‘n geheim moet bly tot ons land! Tot later liefste Towerinne!