Jinne. Daar gaan die giggelgroenbus toe sans Lekkervurig vort om by die suidste suid te gaan koekeloer. Net so. Ek weet nie wat om te maak nie. Scrapy se elonmuskmasjien se sleutel kan ek nêrens kry nie. Hier is nie eers ‘n virtuele besem om mee agterna te vlieg nie. Ag, en daar trek die Harley optog agterna…..

Pfft. Die hele toer kom ek agter my lesery en inVuurvliegie ingeskrikgeit maak my onsigbaar. Uit die oog, uit die hart lyk dit my. Wonder of ek maar my tassie moet pak en die Towerinne moet groet…so snik ek in my koffie, voluit vuurvliegie gemoedsbekak. Ek het van kleins af erge verwerping gevoelens, nie eers my fokjou pilletjies werk daarvoor nie. Die sout trane gee my koffie ‘n snaakse smaak……haai, wat se lawaai is hier buite aan die gang?

Ek loer by die venster uit. O, genade. Dit brand. Dis net rook en vlamme. My hart klop in my keel en ek hardloop af portaal toe. Die mense staan almal beangs rond. Die geloei van sirenes kom nader. Brandweermanne kom vra of ons kan help. Daar is huise wat kan afbrand.

Op bakkies jaag almal toe om te help. Ek gaan saam. Immers beteken ek hier iets.  My biker bandana het ek  om my  neus en mond  gebind, soos die kroeks van die Wille Weste.

Sulke stokke met rubberplakke word ons on die hand gestop en terwyl die brandweermanne hulle waterspuit toerusting op die vlamme loslaat, het ons oral opslag vlamme met die slaangoed gesmoor.

Die roet en rook laat mens se oë traan, en die longe brand. Ons werk hard, en skielik gaan ‘n gejuig op.

Die vuur is geblus. Hoera.

Arniston is veilig.

My hart krimp ineen aan die onthou van bangmaak vure. Kleintyd in Swaziland en later op die mooi Eerstelingplaas, toe dit so amper boord en huis verwoes het. Die Knysna woude se gereeld brand, sommer nou die dag weer, George, en omtes. Ons brose wêreld en mooie natuur wat so vreeslik kan seerkry. Vuur-seisoen nou sommer heeljaar, want droog is nou oral. Rampe op rampe.

Stokalleen keer ek terug na die hotel. Nog niks nuus van die toerende Towerinne nie. Miskien het hulle ‘n breuk van my nodig. Of ek hulle. Darem het my dag nie saai verloop nie.  ‘n Traan biggel oor my wang.

In my kamer spring ek deur die stort en trek vars aan. So op pad uit gryp ek my Kindle. Ek gaan maar vir die see kyk en lees. Alleen. Ek struikel oor die oordrewe deken se hoek.

Ha, Frannie se kosbare mandjie, met al ons skatte.

Ek haal  ‘n broodjie, met kosbaarheid binne, uit en gryp na die foon. Lekker bederf middag by die spa, en dan reël vir aandete op die strand, en ‘n helikopterrit oor die see wanneer die son water trek. O, ja en ‘n ou boetiekrokkie, nuwe haredos, mooi skoene…

Nee, ek gaan nou nie so aaklig soos ‘n Kardashian raak nie. Die klomp sal sekerlik vir een van die Harleys stuur as hulle my afwesigheid soos ‘n koeistal ervaar. ‘n Ware gemis.

Ek bêre die broodjie.

Ek stap af om iewers te gaan sit waar ek vir die see kan kyk.

Skaars gesit, toe hoor ek die Harley.

Towerinne julle kan bly wees!

NS. Dit het rerig vandag om Arniston gebrand. Dankbaar dit kon gekeer word voor daar groot skade gemaak kon word. (foto’s van Toorts se mense op die Vuisboek geleen)

NS. NS. Die Towerinne se virtuele toer trek nou al in die Suidkaap,  Segogga en Toorts en Trommeltjies se geweste.  Die toer  wat al 115 blogs later beslaan kan HIER gelees word. Geniet ons reis! Ons doen!

NS.NS.NS Toorts – ek is nie kwaad oor jy my vergeet het nie! Liefde Lekkervurig. Julle het my darem kom haal, daai lang sonsak is nou wragtig lekker. Die kuier en die kos ook.