Die foto’s is van ‘n Knysnabos ervaring wat steeds jare later  my hart warm maak.  Ons het in ‘n tenthuis in die bos gebly. Weg van die meer gewone, besige omtes van Knysnadorp self.

Ons was by die see, en het die winkels en markte besoek.  Ag, die lekkerte om die geroesmoes van vakansietyd te verlaat, na ons eie klein paradys. Dit was sielevreugde.

‘n Hoogetpunt was ons dag dwalend in Dalene Matthee se bos. Dit bly voorop in my hart se onthou. 

Die koelte en klanke onder die reuse bome. Die water wat hier kibbel, ‘n woud voëltjie wat laat weet hy is daar, maar wil nie gesien word nie. Die girts van ons voetstappe oor die sanderige anderste grond.

As jy af kyk is daar juweeltjies van klippies en bessies en blare oral gesaai. As jy inkyk verras die fynste blommeprag jou. Om ‘n draai spieël ‘n varing in ‘n helder waterpoel.

Kyk jy op, buig jy agteroor om die stam van ‘n bosreus te aanskou, en kyk jy hemelwaarts, flonker blouselblou soos sterre deur die boomtrans wat oor jou span.

Dis asof jy wag dat Fiela iewers roep, en Nina en Benjamin enige oomblik agter ‘n boom uit gaan spring.

Agtermiddag span mens uit in jou tenthuis, en daar waar jy lê en rus, kan jy nie lees of oge toe kry nie. Die bos en die wolke terg  jou siel en verbeelding. Mens tuur en tuur en jy weet, die Here is hier die Groot Kunstenaar! Hier kry mens siel- en hartdrukkies en die warmte van kleinbekeer. (Dié het ek by Izak de Villiers geleer, een Pinkster lank gelede.  Hy noem daai behaaglike warmte in jou borskas wanneer iets jou aanraak, kleinbekeer. Dis mooi en waar.)