En so breek die laaste dag van die #NaNoWriMo 2018 uitdaging aan. Ek is so dankbaar dat ek vasgetrap het en uit my eie pad gee pad het en die uitdaging enduit gesien het. Ek het myself leer skrywe – elke dag iets. Woord vir woord. Hoe verbaas was ek nie toe ek ‘n week voor die dertig dae perk, 50 000 woorde neergepen (of ingesleutel) het nie.

Hoe heerlik dat ek saam met twee blogmaats kon skrywe. Mekaar bemoedig. My ander blogmaats rasielei en my gesin spot met hulle bly-by -die-huis-en-pleeg-skryf – ma. Hulle sê hulle hou van hierdie vrou wat lag en lekker kos maak.

Ek het vir #NaNoWriMo 2018  ingeskrywe as ‘n “plantser” – dis iemand met geen boek plan, tema of  idee nie. Ek het die geleentheid gebruik om rêrig na my eie lewe te kyk. Goed uit te haal, af te stof, die onnodige goed weg te smyt en die bêregoed weer mooi in die hart se onthouboks terug te pak.

Soos Tante Jongste so mooi sê: Vuurmaakhoutjies vir oudag  se onthouvuurtjies veilig gebêre,en al die muf twak weggewerp.

Geleer om myself lief te hê en myself te vergewe.Die seer onthou is kleine bliksempies wat soos kanker kan aanteel en so oorneem dat jy nie weet herwaarts of derwaarts nie.

Ek kon met my voormense gesels so met die skrywe saam. My ouers, my ouma en oupa. Ek kon spookmense  (die wat gesterf het en die wat ook nog lewe) wegstuur, laat los. Julle is nie meer deel van my hier en nou nie. Julle is lankal weg, derhalwe weet julle nie meer wie ek is nie, en ek ook nie wie julle is nie. So baai! Arriewarrie!

Alles het sy bepaalde tyd.

Die maand is in die geselskap van onthou en, dank Vader, my dierbare brakke en die stuitige suikerbekkies by my skryfkamer se venster spandeer. Dan moet ek ook vir Stella van Bubble Witch Saga bedank vir haar meereis deur 600 vlakke van die sinnelose spel! Dit het gehelp om af te skakel. Dit moet ek ruiterlik erken.

Party dae was makliker as ander. Van die onthou  is nie meer so seer en pynlik nie. Meer mooi en lekker bly oor om aan te kou. Die sleg goed raak dowwer soos tyd verloop.

Gister was ek egter erg onthuts dat ek twintig jaar gelede al antwoorde op vrae neergepen het, maar so moerig en kwaad en seer-vasklouend was, dat ek nie nie antwoorde in my eie handskrif nogal raakgesien het nie. Daar is notaboeke wat vanaand se braaivuur gaan aansteek. ‘n Vurige ritueel is nodig. 

Ek besef regtig, alles het sy bepaalde tyd. Elke tree,elke ervaring elke tragedie, elke vreugde oomblik is noodsaaklik op die pad wat vir ons ieder bestem is. Hierdie skoene moet jy dra, hierdie pad sal jy loop.

Alleen wanneer jy eendag tot die besef kom dat jy in vertroue mag terug leun in genade en vergifnis en God se hand styf vashou, dis wanneer gister nie meer saak maak nie. More ook nie. Dis net hier en nou, waar die witbroodjie Milo op die stoel langs my lê en slaap, die swembad pomp raas en die suikerbekkies fladder om te wys hulle bottels suiker is leeg. Dis wat tel. Die oomblik. Goddelike genade.

Wie my 115 bladsye ook al gaan lees, of as niemand dit ooit gaan lees nie, maak nie saak nie. Die liasseer kabinette binne my is uitgestof, afgestof. Die oorvol goed weggesmyt en skielik ontdek ek oral juwele wat nog nooit bedink of onthou is nie.

En Janie-skrywe word netnou regtig-egtig uitgehaal en Module 6 gaan by die horings gepak word. Want sien, ek het ‘n stem en het hom gevind. 

Ouma Stomp se stem klink in my ore:

“Laat los en laat die Heer.”

Oor en uit, want EK IS se ek mag.   

Ek het die  woorde hieronder al in 2016 geskrywe, en so sluit ek op 30 November 2018 my  self reis af.

EK IS SE KIND

EK IS stuur Sy Seun om ons met EK IS te versoen.

Daarom  kan ‘as jy’ maar vlieg.

Nou is ek EK IS  s’n.

Ek is EK IS se kind.

EK IS beloof ek is tot alles in staat omdat Hy my krag gee

EK IS vergewe my en ek is vry, onverdiend, genadiglik.

EK IS het my geskape lank voor tyd en het my onvoorwaardelik lief.

Luister en hoor!

EK IS sê nooit ‘as jy’ nie.

Wanneer jy  ‘as jy’ hoor, hardloop vêr weg.

‘As jy’ is slu, hy hardloop dikwels saam.

Vlieg om en sê: ‘As jy’, gaan weg, wyk.

Ek is EK IS se kind en gered deur Sy geliefde Seun.

Daarom steur ek my nie aan ‘as jy’ se voorwaardelike lewe of opsies nie.

Ek hoef nie, want ek is uniek, enig en onvoorwaardelik

geliefd net soos ek is

deur die Ewige,

die Alomteenwoordige,

die enigste God,

EK IS.

Amen

 ©Erna Maré 2016