So lyk vyftig jaar se geskiedenis

Een Sondag na kerk, nader die hoofouderling my. 

“Jy weet die gemeente word op 27 November 2011 vyftig,” begin hy. 

Ek is deeglik bewus, want die hele gemeente is opgewonde oor die vooruitsig. Ons is besig met verbeterde kommunikasie en ek help met opdatering van gemeente kontaklyste en ons het ‘n flukse e-pos en sms boodskap en steundiens in ontwikkeling.

“Ons wil hê jy moet vir ons ‘n boek saamstel.  Ek is verbaas!  
“Ons hoor jy is lief vir geskiedenis en is ‘n joernalis,” sê die besnorde man. My man pomp my in die ribbes. 

“Dis reg so,” sê ek. “Julle moet net mooi vertel wat julle wil hê.”

Die lank en die kort, die broeders kerkraad wil die gemeente se storie geboekstaaf hê.  Daar is notules en so. So vertel hulle.

Bomskok volg vir my toe ek die argiewe wil besoek. Daar is niks. Die skriba vertel daar is ou leêrs en notules in die katkisasieklasse. Die klasse het sulke opslaan sitplekke. O genugtig, ek maak die eerste bank oop. Dis net papiere en koeverte en ou notule boeke en doopseëls waar jy kyk. Alles net so los ingegooi.

Wat nou? Ek is maar ‘n ou projek aanpakker. Nie bang vir uitdagings nie. Het maar by die naaste winkel gaan swart sakke koop, die katkisasieklasse en op die ou einde in kaste onder die kerksaal se verhoog ook gaan leeg maak. Die bakkie is tot teen die kanopie se dak volgepak en ek niesend en proesend van stof en geskiedenis se muf.

Die sakke word by die huis so ewe in ‘n hoek in ons eetkamer gepak. Daar loop ek vir weke verby die spul. Hoe en wat refrein deur my kop. Een oggend vlieg ek op. Begin by die begin. Ek skaf twee A-Z sorteerders aan. Begin by die eerste sak. Sorteer eers alles in jaartal. Maak hope en pak dit mooi van oudste na nuutste. Weer in die hoek. So begin ek elke dag ‘n jaar in datum volgorde sorteer.

Toe dit klaar is gaan koop ek van daardie kartonboks leêrs. Ek trek hulle met duursame plakpapier oor, en pak elke jaar mooi in die bokse. Daar.

NG Renosterpoort het ‘n argief. Dit was die einde van 2010. Die uitstalling mooi in die hoek, al deel van my dekor!

Aan die begin van 2011 word my skoonma baie siek. Ek versorg vir weke ‘n baie siek mens. In die ure wanneer die pyn medikasie haar diep en ver laat slaap, begin ek lees aan die geskiedenis. O vreugde om van die heel eerste notules onder oë te kry. Hoe ywerig en gefokus die eerste gemeentelede was. Gou leef ek my in, huil saam en lag saam oor die gemeente te doen en late in die naam van geloof.

Ek gaan kuier in beterskap tye as iemand anders na ma kyk, vir ou gemeente lede. Die een oom sterf weke na ek ure se gesels opgeneem het. God se hand in die proses sal ek nooit misken nie. Hy het my gelei, bemoedig, deursettingsvermoë en ‘n dik vel gegee. Sien soos met alle projekte is daar hoenders en eie mishope. Mense bly maar snaakse diere.

Ek het maar omdat mense nie klinkklaar kon sê wat hulle wil hê nie, maar my skryf geskryf soos die Gees my gelei het.

Die resultaat 45000 woorde wat nie net ‘n oorsig oor die gemeente se wel en weë weergee nie, maar ook die dorp en later stad in die ou- en nuwe Suid-Afrika.

Saam met onse liewe dominee Deon, het ek twaalf van sy mooiste preke, wat ook op besondere wyse net reg uitgewerk het, saam met ‘n ‘Lees die Bybel’ in een jaar kalender saamgestel. Dit het agter in die boek plek gekry. Ons idee was dat gemeentelede nie net die boekie sou koop en bêre nie, maar vir die gedenkjaar saam die Bybel sou deurlees.

‘n Span dierbares wat nie bang is om my reg te help nie en taalkundig bedrewe is, het my help proeflees en redigeer. 

Die titel was maklik. Ons gemeente lê wat Pietersburg-Polokwane se gemeenskap betref aan die verkeerde kant van die spoor. Nie die beste deel van die stad nie. Middelklas mense, ryk boere en baie arm mense – dis waaruit die gemeente saamgestel is. Nie die beste adres nie. 

Maar, wyd God my een goeie oggend, kyk dit lê noord van die spoorlyn. Die kerk aan die noordekant van die spoor – die titel skryf homself.

‘n Plaaslike drukker wie se pa en vriende ‘n konsert en ete vir die vroue gereël het en ek ‘n hoofstuk aan gewy het, bekyk die rowwe uitdruk van my boek. Raai, hy maak op die bladsy oop waar sy pa se foto verskyn! Hy skater van die lag. Die uiteinde, die drukwerk word ten volle geborg! Seëninge.

Rots verjaar op 27 November, saam met die gemeente. Hy wil nie ‘n persent hê nie. Oms sy verjaardag te gedenk, laat ons gesin boekmerke maat vir die boek. #ToeValLig.

Ons het amper R5000 kon skenk vir die gemeente koffers uit die oplaag boeke wat uitverkoop het. Dis lekker om te weet dat uit ‘n klomp swartsakke, ‘n boek en ordentlike argief vir ‘n kerk daargestel is. 

Agtien maande van my lewe, weer eens ryklik geseën. Dit is bevredigend en hartdruk lekker om te weet ek het ‘n onmoontlike projek aangepak , en ‘n sukses daarvan gemaak. Die boek het ‘n ISBN nommer en afskrifte is in die Staatsbiblioteek. Ek het ‘n boek geskrywe. Dit vir ‘n kerk. Nee, vir my Here en bewys van sy genade en geduld met feilbare mense.

Amazon is soos jy hier lees besig om my e-boek weergawe te hersien. Hopelik sal die boek teen die naweek beskikbaar wees. ‘n E-boek weergawe. My bydrae tot geskiedenis nou digitaal vasgelê. 

Die e-boek weergawe wat hopelik op Amazon sal verskyn