Dag twee in die Camdeboo. Ons is vroeg uit die vere en gou is die giggelgroenbus op pad. ‘n besoek aan Graaff-Reinet se kleinsus, Nieu-Bethesda is ‘n moet. Wees geduldig liewe leser, die skyfe vertoning laai stadig af. Dis die kyk werd, dan reis jy sommer saam die rustige Karoo-geheimenis binne.

This slideshow requires JavaScript.

Die Uilhuis van Helen Martins is so reg in die Towerinne se fantasie-kraal. Die tragiese vrou wat as jong onderwyseres haar lewensdrome opsy geskuif het om na haar bejaarde ouers te gaan versorg, is ‘n fliekstorie werd.

Sy het haar ma se afsterwe al hoe meer vereensaam, en haar pa was ‘n moeilike pasiënt. Soos haar wêreld verkein het, het sy ‘n plek van haar eie vir haar gedagtes en kreatiwiteit. Vandag staan die UIlhuis as monument van haar vreemde lewe.

Die sementbeelde en spreuke in die draad ingestrengel is verstommend. Hier hou ‘n vrou ‘n skinkbord vir ‘n ou man – is die Helen wat haar pa bedien? Daar loer ‘n meermin deur die riete.

Twee kinders hou vir lewe en dood tyd vas. Daar blink uiloë in die son. Ons staan stil by ‘n Jesus geboorte toneel. Ons kyk hoe die kamele en knielende mense na Helen se oos kyk. Sy het aspris alles in haar wêreld omgekeer. ‘n Klein rebellie in kuns uitgedruk. Die klein kapel met die mooi woorde is aangrypend.

Daar teen die draad sien ek my gunsteling spreuk: “The moving finger writes….” Ek wil nog vir my vriendinne vertel, toe Trommeltjies en Seegogga vervaard uit die huis gestorm kom.

“Ek sweer daar is ‘n spook,” sê Trommels benoud.

“Nee man, dis seker net skaduwees,”  sê Una.

“Nee, rerig,” koor die twee benoud.

Ons gaan saam die vreemde huis binne. Daar is ‘n meermin in die bad. Ons bewonder die kookplek en verstom ons aan die bottels vol glas in die spens. Die glassplinters wat Helen op die plafonne in die huis aangebring het, het in haar oë beland, en sy het blindheid in die oë gestaar. Dit is ook wat tot haar selfdood gelei het.

Ons staan in haar slaapkamer, en wrintie, daar in die hoek beweeg die beddeken. Ons is stil, en Hester besluit dis ‘n nadere kyk werd. Sy lig die deken se punt en wie lê onder die bed. Broodina.

“Waddehel maak jy hier,” vra Hester.

“Julle het soveel pret, ek kan nie help om julle te volg nie,” se Broodina.

Wratig, het ons dan nie net nou die dag met haar afgereken by Oribi Gorge nie?

Hester, Kameel, Una en ek stap eenkant toe. Wat nou?

“Ag siestog,” haak Una af. “Die arme vrou. Sy is seker maar alleen en verstote. Ons manewales het gesorg dat sy werkloos is.”

“Mmm,” brom Hester. Ek rol my oë.

Vrede ter wille, laai ons haar op die bus. Ons kan nie ‘n woord verder uit haar kry nie.

Terug op Graaff-Reinet bel Una die Kromkoerant van haar tuisdorp. Daar waar Broodina vandaan kom.

Ons skrik ons oor ‘n mik. Broodina het uit ‘n senukliniek verdwyn!

Die hele wêreld soek na haar. Haar familie het to ‘n R50 000 beloning uitgeloof!

Nou ja, die Towerinne seëvier weer. Broodina is kom haal en in ‘n witbaadjie vasgemaak.

Met groot lof is verskyn ons op die Graaff-Reinet Advertiser se voorblad:

“Vermiste vrou deur die Towerinne gevind!”

In dieselfde koerant verskyn ‘n berig:

“Oudste koek in die land verdwyn.” 

Ek loer vir Frannie, wat het sy in daai mandjie?

Ons was juis gister by die antieke winkel waar die oudste troukoek in die land, of wêreld, circa 1907, op uitstalling is. Ons het almal ge-oe en -ah en meestal gegril. Dis vir my en my maats so effe makaber. Maar nou is die koek weg? Gatta-patata…is ons alweer in die moeilikheid?

Hierdie is voorwaar ‘n toer soos min! Dankie vir die lekker saamkuier in my geliefde Camdeboo juweel, Graaff-Reinet en omstreke. Ons reis aanstons verder na Positie  se geliefde Calitzdorp, weet nie watter pret of moeilikheid saamkom of voorlê nie. Met die Towerinne weet jy nooit!

_____________________________________________________________________________

Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ñ virtuele toer deur Suid-Afrika gaan onderneem. Die gasblogger van die week moet op ñ Donderdag, op die datum wat toegewys is, ñ blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ñ fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.

Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.

Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ñ blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ñ eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees. Sien: Dis Ekke vir die reëls.

Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928