Toe breek die dag aan. Die giggelgroenbus kom vroegoggend Graaff-Reinet binne.
Graaff-Reinet, fossielle bewys dit, was eens onder die see!
Graaff-Reinet maker van Trekker siele – Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en en wie weet nog.
Geboortedorp van groot Suid-Afrikaners. Beyers Naudé, Anton Rupert, Robert Sobukwe, Matthew Goniwe en DF Malan is hier gebore en getoë.
Graaff-Reinet, tuiste van Anna Neethling Pohl. Daleen Matthee, Etienne van Heerden en Maya Fowler het hier hulle eerste ABC geskryf!
Lees op oor die mense van Graaff-Reinet en daar is Thomas Bain, beroemde padmaker. Botaniste, sportsterre, geleerdes en leiers is daar. ‘n Mossad spioen en raai, die mede-ontwerper van die mooie Ducati motorfiets is ook Graaff-Reinetters!
Veertien reismoeg Towerinne strompel die trappe af. Rek en strek. Die oornagreis het Hester se lekker Suidkus-kuier laat vervaag.
“Kom, kom. Welkom,” sê die vriendelike vrou by die Coldstream etery. Hulle is so gaaf om spesiaal vroeg oop te maak om die Towerinne innerlik te versterk vir die dag se pret wat voorlê. Tot vir Toorstie ‘n banting brekfis uit die boeke voorberei.
Daar word lekker gelag en gesels, en gewonder of Broodina, ons agtervolger en hater, nou haar les geleer het en ons sal uitlos. Ons sit nog so lekker en kuier en ‘n mooi jong vrou met ‘n kamera om die nek kom ingestap.
Die redakteur van die Graaff-Reinet Advertiser , Mariette, het van ons besoek te hore gekom en ons kom verwelkom. Die koerant is een van die oudstes in die land. Soos baie dinge in Graaff-Reinet. Oud, maar nie koud nie.
Ons staan by die giggelgroenbus en foto’s word geneem en vriendelik word ons welkom geheet. Hierdie gaan lekker kuier wees.
Ons stap oor die straat om die trots van Graaff-Reinet, Grootkerk wat in die middel van die dorp trots sy loflied-hoë toring hemelwaarts reik, van nader te beskou. Asemrowend mooi, ontroerend om binne te tree. Die mooi kansel, die handgeverfde orrelpype, die duiwe op die gallery, die mooi kerkvensters.
My dogter het met ‘n onlangse kuier die mooi foto geneem. Die kerk het op 11 November sy 226e verjaardag gevier. Lees hie mooi dig die dominee en mevrou.
Ons gaan gou aan by die mooie Camdeboo Cottages en pak gou af, en vars op.
“Onthou om gemaklik aan te trek – dis warm en ons gaan stap en besig wees,” waarsku ek die klomp.
Buite word die Towerinne verras met mooi ou karre wat buite op hulle wag. Graaff-Reinet se nuutste museum, ReCollection Rides het dit moontlik gemaak.
Hannes van Jaarsveld het die museum gestig met sy eie versameling van 43 motors. Die enigste 1940 Buick 41C Convertible in Suid-Afrika is hier te sien. Die oudste voertuig is ‘n 1922 Wolseley E3 Doctor’s Coupé. ‘n Mustang 351 Mach 1, 1963 Volkswagen ‘Split-Window’ en BMW R69S motorfiets is ook te sien.
So teen 11h00 stop ons spoggerig by die Botanies. Ek is opgewonde, want die terrein waar Graaff-Reinet sport en ontspanning bedryf, is reg langs my hartshuise, Stokkies 10 en 12.
Die huisies op hierdie foto is nou my se Longreach (links), Outback(woonstel in die middel en Great Expectations(ons museumhuisie). Julle sal nie glo nie! Hierdie foto met die ballon wat opstyg, is gisteroggend varsgebak uit Graaff-Reinet, aan my gestuur! Is dit nie lieflike ToeValLig nie! Halleluja perfek!
Op die veld staan vier lugballonne in die somerson. Rooi en geel en blou gestreep. Ons gaan die omgewing vanuit die lug aanskou en bo-op die berg sjampanje drink. Karoo Ballooning se Stefan en span sorg mooi vir ons.
Gou is Hester, Kameel, Una, Perdebytjie, Toortsie, Seegogga, VirgoC, Bondels, Woordnoot, Trommeltjies, Tannie Frannie, Scrapy, Positief en ek veilig in die mandjies en daar trek ons.
Dis stil terwyl die mandjies die grond groet en styg en styg. Kyk, kyk hoe mooi, en in die vier ballonne klink lag en verwondering op. Dis ‘n skoon blousel blou dag, asof Graaff-Reinet en die natuur saamgesweer het om net die beste vir die vroue voor te hou. ‘n Arend vlieg hoog bo in die lug.
Die Vallei van Verlatenheid, wat alreeds op grondvlak asembenemend is, troon om die dorp en daar sien ons waar die die beplande Groot Vlag projek gevestig word.
Ek is opgewonde om my vriendinne te vertel van die spesiale geskenk wat daaronder in hulle name lê.
Sien die Vlag sal eendag van die buitenste ruim gesien kan word. Daar is inheemse plante en sonpanele en paadjies wat in die vorm van Suid-Afrika se vlag uitgelê word. Dis ‘n groot projek en ook werkskepping en ‘n waardetoevoeging toeriste aantreklikheid. Nog ‘n veer in die reeds prentjiemooi dorp se hoed.
Die Moedervlag (op die kunstenaarsvoorstelling hierbo, is dit die kleiner vlag) wat een tiende van die grootte van die ware vlag is, word op 15 Desember 2018 vir die publiek oopgestel.
So proetjie hoe die vlag met voltooiing sal lyk! Opwindend. ‘n Mens kan bydra deur plante of ‘n sonpaneel of stukkie voetpad te borg. Ek het vir elkeen van die Towerinne hulle eie plant geborg. ‘n Stukkie van ons prettige saamwees in die Karoo geplant. Klik hier om te sien!
Giant Flag Certificate for Die Towerinne klim op die bus toer 2018 (1)
Die 14 groen spekboompies verteenwoordig nou vir altyd die Towerinne en hule giggelgroenbus. Die koördinate dui aan waar. Gaan google of jy ons kan kry!
Die reuse kruis op die randjie buite die dorp lyk klein. In werklikheid is dit 24 meter hoog, net 6 meter korter as die Christusbeeld wat oor Rio de Janeiro troon. Dis in 2010 opgerig.
Hoog bo-op die mooi berge sak die ballonne neer. Die mooiste gedekte langtafel en sambrele begroet ons. Ons word verras met heerlike vingerkos en yskoue sjampanje. Dit was ‘n lui klomp wat kort na 14h00 weer by die Botanies aankom.
Terug op die bus, begin die groot kyk. Ons ry deur die woonbuurte en die Towerinne verkyk hulle aan die mooi Karoohuise se stoepe en gewels. Gou stop ons voor Reinethuis, buiten die Grootkerk, die juweel in Graaff-Reinet se onthoukroon. Dis in 1812 in eg Kaaps-hollandse H-vorm opgerig. Die uurglas met vlerke op die gewel herinner ons aan vervlietende tyd.
Eerwaarde Andrew Murray het tot 1904 dit huis genoem. Die museum is tjok en blok vol oudhede en die keisteen agterwerf spog met een van die oudste druiwestokke in die land. Charles Murray het dit in 1870 geplant. Die plant oorleef ten spyte van ‘n fungusvrot. Soos die stok, het Reinethuis dit amper nie oorleef nie. Die huis is in 1956 tot sy eertydse glorie herstel. In 1980 oorleef die huis ‘n vuur aan die agterkant van die gebou.
Ons dwaal ook na die Ou Residensie, Urquhart Huis en Militêre Museum. By die Ou Biblioteek was ons verwonderd oor die Lex Bremner fossiel versameling en Steentydperk versameling. Die mooie Drostdy Hotel en Stretch’s Court het ons na vervloë tye laat verlang. Ons moet ook net beursies vasknyp want oral is mooi winkels met mooi en ougoed te koop.
Pootuit keer ons na Camdeboo Cottages terug om te rus en reg te maak om by Pioneer’s Restaurant te gaan eet en kuier. Want dis wat mens daar doen. Die restaurant het pas nege jaar in besigheid gevier. Die heerlikste kos soos springbok carpaccio, afval en bobotie word bedien. ‘n Ervaring van gasvrye, lekker Karoo kuier!
Daar is jare gelede legendariese Withond Mampoer by Reinethuis te koop aangebied. Ons kon danksy Pioneers darem die Towerinne ‘n proppie laat proe. Ons is ook vermaak met geselsies in Graaffrikaans, “you maar groet everyone, even those you know so padlangs” – aldus Nancy Kingwill.
Ons het trommeldik bedwaarts gekeer. More gaan kuier ons in Nieu-Bethesda.
WORD VERVOLG
_____________________________________________________________________________
Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ñ virtuele toer deur Suid-Afrika gaan onderneem. Die gasblogger van die week moet op ñ Donderdag, op die datum wat toegewys is, ñ blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ñ fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.
Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.
Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ñ blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ñ eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees. Sien: Dis Ekke vir die reëls.
Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928
Sjoe Lekkervurig, ek moes nou eers ‘n paar keer lees om die avonture weer en weer te beleef. Hierdie is nou sommer ‘n bobaas kuier en ek het soos ‘n VIP gevoel in daardie ou motor. Dink jy as ek mooi vra sal ek een mag uitvat vir ‘n spin? Seker nie. Ek het die vlagkoördinate gaan google – ons is van bo tot onder (in die myril cyril) verteenwoordig. Wat ‘n wonderlike idee, jou verrassende menseskepsel! Hoekom die Vallei van Verlatenheid? Ek wil dit herdoop na die Vallei van Rus vir my Siel.
LikeLiked by 4 people
Ek is kinnerlik bly jy geniet die verposing in my sielplek. Lekker om te weet ons Towerinne se spekbome is innie mirrel van daai projek. Heppie krismis vir ons. Ek het nog nooit oor die naam Valkei van Verlatenheid gewonder nie. Kyk wat vang jy nou aan, hier gaat ek alweer op soek….😉
LikeLiked by 3 people
Dit was seker een of ander ou siel wat homself jammer gekry het wat die plek so genoem het. Dis wondermooi.
LikeLiked by 1 person
Wel, vir my is ek daar verlate aan die wêreld en elke dag se sleur. Dis waar ek kerk en seën ontvang. Hemel. Stem met jou saam dis wondermooi.
LikeLiked by 1 person
Ek moet saamstem dat hierdie ‘n puik idee is: Giant Flag Certificate for Die Towerinne klim op die bus toer 2018 (1)
LikeLiked by 2 people
Ag dit bring heerlike herhinneringe terug. Ek voel geërd dat ek nou ‘n spekboompie saam met my mede spekboom towerinne is. Dit is BAIE spesiaal Lekkervurig…kry ek sommer trane in my oë.
LikeLiked by 4 people
Julle beteken vir my vreeslik baie. Ons gesin koop jaarliks iets aan om die Vlag te help realiseer. Toe reken ek die Towerinne kom vanjaar aan die beurt. Dis vir my ‘n voorreg om te weet dat ons skenking nou vir julle ook blydskap gee.
LikeLiked by 5 people
Jinne wat ‘n lekker interressante kuier! Daar is soveel mooi om te sien ek lus en kry my so stil plekkie daar. Oe en was die ballon dit nou salig….
LikeLiked by 1 person
Ek is verheug dat jy jou geniet het.
LikeLike
My eie, eie spekboompie, wat ń wonderlike idee en verrassing. En nou staan ek saam met julle ander dierbare mense daar geplant! Ek het jou dorp nog nooit so intens beleef nie, al is ons al ń paar keer daardeur. Jul eiendom is idillies pragtig, g’n wonder jul harte bly elke keer halfpad daar agter nie. 100 uit 100 vir hierdie skrywe, Lekkervurig.
LikeLiked by 3 people
Dankie Una. Ek is bly jy hou van julle persent.
LikeLiked by 1 person
Ek wonder net of daardie spekboompiesgaan stil staan waar hulle staan en of hulle nie dalk spekskietgedagtes gaan ontwikkel nie?!
LikeLiked by 1 person
Toorts, jy die grappie gevang. Jy kry die Towerinne Spekskiet beker. Ek sit al van gister oggend en wag, en wag oor die spek in die spekbome! 🤣🤣🤣 Ek stem, ons rytjie gaan besiger of weliger as die ander wees.
LikeLiked by 1 person
En my rytjie langs joune 😁 Doubke trouble!
LikeLiked by 1 person
🤗🤣🤣🤣
LikeLiked by 1 person
Dankie vir so ‘n wonderlike persent! Jou skrywe en dorp is regtig pragtig en ek is so bly ek is deel hiervan,x
LikeLiked by 1 person
Dis vir my ‘n plesier en voorreg. Spesiale mense, soos julle Towerinne, verdien oulike onthougoed!
LikeLiked by 2 people
Ek verstaan nie waarom ek bewoë raak toe ek hierdie pragstuk lees nie….sjoe! Daar gaan nou soveel in my gemoed aan dat ek eers moet pause… en dan reset. As daar ‘n prys uit te loof is vir die skrywe wat die meeste vrede bring in ‘n gemoed waar daar op die stadium baie warboelligheid is, gaan dit aan jou. Baie dankie…ek asem dit net eers weer alles in. Soos Hester sê…mens moet dit weer en weer lees.
LikeLiked by 4 people
Woordnoot. Dankie, ek wou net laat julle die absolute vrede en sielvoeding wat ek hier keer op keer beleef. Ek hoop more laat ek julle smaail!
LikeLike
Hoop so! Maar vir eers is die vrede vandag nodig en genoeg!
LikeLiked by 1 person
Amen daarop, WoordNoot.
LikeLike
Gisteraand het ek en my man by my sus se oorlede seun se eks gaan eet. Laataand sit ons nog om die tafel en gesels. Ek vertel haar van jou liefde vir Graaff-Reinette en hoe pragtig jy gister daaroor geskryf het. Daar sit ek en my man toe en vertel haar van die pragtige kerk, Reinethuis wat ‘n moet sien is….van die ou druiwestok. Ons seun se verjaarsdagete by die Drosdy….en van die asemrowende vallei van verlatenheid. So weggevoer was sy dat sy wou weet waar kan sy jou vertellinge gaan lees. Ooòoo ongelukkig moes ek toe ‘n stok in die speke steek. Maar ek het vir haar gesê jy skryf so pragtig dat ek nie verstaan waarom jy nie ‘n boek skryf nie.
LikeLiked by 2 people
Kameel, jinne. Ek trag om skryfdissipline aan te leer, my kop bokspring so. Dis die rede waarom ek saam met Scrapy die #NaNoWriMo uitdaging aanvaar het om 50 000 woorde in November te boekstaaf. Ek moet eers ou goed uit my uitskrywe. Ek is in my eie pad. Die boek, ja. Wat sal ek sê, die neem vorm aan via Janieskryf, maar dit gaan stadig. Ek het ‘n jaar gelede by werkstuk 6 vasgehaak – dis ‘n storielyn…dis die storie! Ek het darem al ‘n gedenkblad vir ‘n kerk se 50jaar agter die blad. Daar het jy nou my skryfblokkasies en relasies- die kort weergawe! Dankie vir die mooi kompliment.
LikeLiked by 2 people
Lekkervurig, ek sal dit nog weer kom lees, ek het nou eers vasgesteek by die spekboompie. Baie baie dankie daarvoor.
En toe het jy my aangesteek en ek het ook namens elkeen van ons ‘n spekboompie gekoop. Om een of ander rede het ek iets verkeerds gedoen, en 1 is toegeken aan die 14 Towerinne van Blogland, terwyl die ander ‘aangeneem’ is deur my. Maar dis eintlik bedoel vir elkeen van ons. Ek sal sien of ek dit kan verander. 🙂
LikeLiked by 1 person
Skrywe vir Cindy by die Giant Flag – hulle epos is op Giant Flag se webblad, sy is gaaf!
LikeLike
Dankie. Ek het vir hulle gestuur. 🙂
LikeLiked by 1 person
Geniet nou die res van die Camdeboo! Dis nou warm, siestatyd….;)
LikeLiked by 1 person
Jajaaa
LikeLike
Ek het net gou ‘n admin bergie wat ek moet oor, dan toer ek weer lustig saam.
LikeLike
Jig, admin…ek moet my skryfuitdaging op datum kry…baai for now!
LikeLiked by 1 person
Hul het dit reggestel. 😁
LikeLike
Nou ja toe!
LikeLiked by 1 person
Allawêreld, wat ‘n wonderlike belewenis, Lekkervurig! Dis die lekkerste lekker en die mooiste mooi! Wat ‘n eer dat ons Towerinne verewig kan word deur spekboompies in die landsvlagontwerp. Nou het ons verewig ‘n verbintenis met mekaar en Graaff-Reinet.
LikeLiked by 2 people
Jy som my bedoeling met die spekbome in die kol op! Ek is so bly julle almal hou van julle verrassing.
More se avontuur is nou weer iets heeltemal van links af. Ek gaan julle verder betower met beelde en woorde! Hehe!
LikeLiked by 1 person
Jy betower ons altyd met beelde en woorde. Hierdie was regtig so mooi en baie spesiaal. My maag maak draaie vir my skryf-beurt as julle almal so mooi skryf, of dalk is dit nog die lugballon?
LikeLiked by 2 people
Ek het die by Maeve Binchey geleer: “Always write as if you are talking to someone. Don’t put on any fancy phrases or accents or things you won’t say in real life.” So, liewe Positief, dis skryfvlinders in daai hol kol op jou maag. Kom sit oorkant my ek skink wyn, en vertel vir my van jou Calitzdorp. Ek wag… want jou skryf is uit jou binneste, dit weet ek.
LikeLiked by 1 person
Ek kan maar net prober sug. Julle ouens wat al lankal geskryf het, maak my nog meer vlinderig
LikeLike
OK, nou maak ek ‘n hele bottel wyn oop. As jy begin skryf, weet ek is met jou. Jou persoonlike rasieleier! Jou woorde sal mooi ryg, jy sal sien. Ons is elkeen uniek met ‘n eie stem. Laat joune hoor, want dis wie jy is!
LikeLiked by 2 people
Ai, maar jy bederf ons behoorlik en ons is so SOET! 😁
LikeLike
Ek dink SOET is kode vir uitgeput na die onthoun en spelery by die see en geziplyn by Oribi. Die toer is halfpsd, ek dink ons kry hier ons asems terug. Maar ek belowe vandag is besiger en woeliger.
LikeLiked by 1 person
Watter sjarmante ding om te doen – ‘n spekboompie vir elkeen van ons! Aijaijai, en ek het die spekskiet-verwysing heeltemal gemis – dankietog Toortsie het dit raakgesien. Dit maak ons present nog beter! Dit was heerlik om Graaff-Reinet deur jou oë te kon sien.
LikeLiked by 1 person
Dankie Frannie. Ons kan darem nie so ernstig deur die lewe gaan nie, ek is dankbaar Toortsie se liggie skyn tot op die versteekte humor! Dit is vir my ‘n groot voorreg om julle harte en siele bly te maak en saam soveel ptret te beleef.
LikeLiked by 1 person
Ek vermoed dat indien iemand ‘n party begin wat Graaff-Reinet onafhanklike verklaar gaan jy vir hulle stem. Nee nou praat ek mos nonsens. Hulle gaan vir Grafin Lekkervurig Reinet die eerste stem – president van Graaff-Reinet
LikeLike
My hart is hulle s’n. Maar inkommers moet saggies werk het ek al geleer.
LikeLike
Lekkervurig dis ń pragtige skrywe ek het behoorlik jou woorde ingedrink. Die spekboompies is nou voirwaar ń gedagte uit die voirste gestoeltes, maak my sommer tranerig, dis so spesiaal. Die warmballon rit was manjefiek, asemrowend mooi. Die stilte daarbo is so besonders. Net hier en daar onderbreek deur ń towerin giggel of twee, osf ń uitroep van ekstase oor nog ń mooi iets wat raak gesien is.
Daardie kerk is en bly maar vir my die mees spesiaalste in die land. Dankie dat ons in jou hartsdorp kon kom kuier en ons spore daar agter laat.
LikeLiked by 1 person
My groot voorreg. Ek is dankbaar vir julle in my lewe.
LikeLiked by 1 person
Sjoe… dankie… ek laaik om draaie te gooi in die goeie ou Oos Kaap! 😉
LikeLiked by 1 person
Bly jy het lekker gekuier!
LikeLiked by 1 person
Ek gaan more, oormore verder kuier!! 😉
LikeLike
Wat ‘n heerlike toer deur Graaf Reinet. Jou liefde vir die spesiale plek straal uit. Ek hou so van die spekboom idee! Baie dankie
LikeLiked by 1 person