Toe breek die dag aan. Die giggelgroenbus kom vroegoggend Graaff-Reinet binne.

Graaff-Reinet, fossielle bewys dit, was eens onder die see!

Graaff-Reinet maker van Trekker siele – Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en en wie weet nog.

Geboortedorp van groot Suid-Afrikaners. Beyers Naudé, Anton Rupert, Robert Sobukwe, Matthew Goniwe en DF Malan is hier gebore en getoë.

Graaff-Reinet, tuiste van  Anna Neethling Pohl. Daleen Matthee, Etienne van Heerden en Maya Fowler het hier hulle eerste ABC geskryf!

Lees op oor die mense van Graaff-Reinet en daar is Thomas Bain, beroemde padmaker. Botaniste, sportsterre, geleerdes en leiers is daar. ‘n Mossad spioen en raai, die mede-ontwerper van die mooie Ducati motorfiets is ook Graaff-Reinetters!

Veertien reismoeg Towerinne strompel die trappe af. Rek en strek. Die oornagreis het Hester se lekker Suidkus-kuier laat vervaag.

“Kom, kom. Welkom,” sê die vriendelike vrou by die Coldstream etery. Hulle is so gaaf om spesiaal vroeg oop te maak om die Towerinne innerlik te versterk vir die dag se pret wat voorlê. Tot vir Toorstie ‘n banting brekfis uit die boeke voorberei.

fb_img_15416501597782047370893285520068.jpg

Daar word lekker gelag en gesels, en gewonder of Broodina, ons agtervolger en hater, nou haar les geleer het en ons sal uitlos. Ons sit nog so lekker en kuier en ‘n mooi jong vrou met ‘n kamera om die nek kom ingestap.

Die redakteur van die Graaff-Reinet Advertiser , Mariette, het van ons besoek te hore gekom en ons kom verwelkom. Die koerant is een van die oudstes in die land. Soos baie dinge in Graaff-Reinet. Oud, maar nie koud nie.

Ons staan by die giggelgroenbus en foto’s word geneem en vriendelik word ons welkom geheet. Hierdie gaan lekker kuier wees.

Ons stap oor die straat om die trots van Graaff-Reinet, Grootkerk  wat in die middel van die dorp trots sy loflied-hoë toring hemelwaarts reik, van nader te beskou. Asemrowend mooi, ontroerend om binne te tree. Die mooi kansel, die  handgeverfde orrelpype, die duiwe op die gallery, die mooi kerkvensters.

PSX_20180819_083559

My dogter het met ‘n onlangse kuier die mooi foto geneem. Die kerk het op 11 November sy 226e verjaardag gevier. Lees hie mooi dig die dominee en mevrou.

Ons gaan gou aan by die mooie Camdeboo Cottages en pak gou af, en vars op.

“Onthou om gemaklik aan te trek – dis warm en ons gaan stap en besig wees,” waarsku ek die klomp.

Buite word die Towerinne verras met mooi ou karre wat buite op hulle wag. Graaff-Reinet se nuutste museum, ReCollection Rides het dit moontlik gemaak.

Hannes van Jaarsveld het die museum gestig met sy eie versameling van 43 motors. Die enigste 1940 Buick 41C Convertible in Suid-Afrika is hier te sien. Die oudste voertuig is ‘n 1922 Wolseley E3 Doctor’s Coupé. ‘n Mustang 351 Mach 1, 1963 Volkswagen ‘Split-Window’ en  BMW R69S motorfiets is ook te sien.

So teen 11h00 stop ons spoggerig by die Botanies. Ek is opgewonde, want die terrein waar Graaff-Reinet sport en ontspanning bedryf, is reg langs my hartshuise, Stokkies 10 en 12.

040

Die huisies op hierdie foto is nou my se Longreach (links), Outback(woonstel in die middel en Great Expectations(ons museumhuisie). Julle sal nie glo nie! Hierdie foto met die ballon wat opstyg, is gisteroggend varsgebak uit Graaff-Reinet, aan my gestuur! Is dit nie lieflike ToeValLig nie! Halleluja perfek!

Op die veld staan vier lugballonne in die somerson. Rooi en geel en blou gestreep. Ons gaan die omgewing vanuit die lug aanskou en bo-op die berg sjampanje drink. Karoo Ballooning se Stefan en span sorg mooi vir ons.

Gou is Hester, Kameel, Una, Perdebytjie, Toortsie, Seegogga, VirgoC, Bondels, Woordnoot, Trommeltjies, Tannie Frannie, Scrapy, Positief en ek veilig in die mandjies en daar trek ons.

Dis stil terwyl die mandjies die grond groet en styg en styg. Kyk, kyk hoe mooi, en in die vier ballonne klink lag en verwondering op. Dis ‘n skoon blousel blou dag, asof Graaff-Reinet en die natuur saamgesweer het om net die beste vir die vroue voor te hou. ‘n Arend vlieg hoog bo in die lug.

Die Vallei van Verlatenheid, wat alreeds op grondvlak asembenemend is, troon om die dorp en daar sien ons waar die die beplande Groot Vlag projek gevestig word.

Ek is opgewonde om my vriendinne te vertel van die spesiale geskenk wat daaronder in hulle name lê.

Sien die Vlag sal eendag van die buitenste ruim gesien kan word. Daar is inheemse plante en sonpanele en paadjies wat in die vorm van Suid-Afrika se vlag uitgelê word. Dis ‘n groot projek en ook werkskepping en ‘n waardetoevoeging toeriste aantreklikheid. Nog ‘n veer in die reeds prentjiemooi dorp se hoed.

Die Moedervlag  (op die kunstenaarsvoorstelling hierbo, is dit die kleiner vlag) wat een tiende van die grootte van die ware vlag is, word op 15 Desember 2018 vir die publiek oopgestel.

So proetjie hoe die vlag met voltooiing sal lyk! Opwindend. ‘n Mens kan bydra deur plante of ‘n sonpaneel of stukkie voetpad te borg. Ek het vir elkeen van die Towerinne hulle eie plant geborg. ‘n Stukkie van ons prettige saamwees in die Karoo geplant. Klik hier om te sien!

Giant Flag Certificate for Die Towerinne klim op die bus toer 2018 (1)

Die 14 groen spekboompies verteenwoordig nou vir altyd die Towerinne en hule giggelgroenbus. Die koördinate dui aan waar. Gaan google of jy ons kan kry!

Die reuse kruis op die randjie buite die dorp lyk klein. In werklikheid is dit 24 meter hoog, net 6 meter korter as die Christusbeeld wat oor Rio de Janeiro troon. Dis in 2010 opgerig.

GR10Desember2010 115

Hoog bo-op die mooi berge sak die ballonne neer. Die mooiste gedekte langtafel en sambrele begroet ons. Ons word verras met heerlike vingerkos en yskoue sjampanje. Dit was ‘n lui klomp wat kort na 14h00 weer by die Botanies aankom.

Terug op die bus, begin die groot kyk. Ons ry deur die woonbuurte en die Towerinne verkyk hulle aan die mooi Karoohuise se stoepe en gewels. Gou stop ons voor Reinethuis, buiten die Grootkerk, die juweel in Graaff-Reinet se onthoukroon. Dis in 1812 in eg Kaaps-hollandse H-vorm opgerig. Die uurglas met vlerke op die gewel herinner ons aan vervlietende tyd.

PSX_20180819_110505

Eerwaarde Andrew Murray het tot 1904 dit huis genoem. Die museum is tjok en blok vol oudhede en die keisteen agterwerf spog met een van die oudste druiwestokke in die land. Charles Murray het dit in 1870 geplant. Die plant oorleef ten spyte van ‘n fungusvrot. Soos die stok, het Reinethuis dit amper nie oorleef nie. Die huis is in 1956 tot sy eertydse glorie herstel. In 1980 oorleef die huis ‘n vuur aan die agterkant van die gebou.

Ons dwaal ook na die Ou Residensie, Urquhart Huis en Militêre Museum. By die Ou Biblioteek was ons verwonderd oor die Lex Bremner fossiel versameling en Steentydperk versameling. Die mooie Drostdy Hotel en Stretch’s Court het ons na vervloë tye laat verlang. Ons moet ook net beursies vasknyp want oral is mooi winkels met mooi en ougoed te koop.

Pootuit keer ons na Camdeboo Cottages terug om te rus en reg te maak om by  Pioneer’s Restaurant te gaan eet en kuier. Want dis wat mens daar doen. Die restaurant het pas nege jaar in besigheid gevier. Die heerlikste kos soos springbok carpaccio, afval en bobotie word bedien. ‘n Ervaring van gasvrye, lekker Karoo kuier!

Daar is jare gelede legendariese Withond Mampoer by Reinethuis te koop aangebied. Ons kon danksy Pioneers darem die Towerinne ‘n proppie laat proe. Ons is ook vermaak met geselsies in Graaffrikaans, “you maar groet everyone, even those you know so padlangs” – aldus Nancy Kingwill.

Ons het trommeldik bedwaarts gekeer. More gaan kuier ons in Nieu-Bethesda.

WORD VERVOLG

_____________________________________________________________________________

Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ñ virtuele toer deur Suid-Afrika gaan onderneem. Die gasblogger van die week moet op ñ Donderdag, op die datum wat toegewys is, ñ blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ñ fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.

Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.

Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ñ blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ñ eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees. Sien: Dis Ekke vir die reëls.

Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928