Sept 2011 KAroo

Towerinne, ek vra vergifnis dat ek al ‘n hartuitspoel plaas oor julle volgende dorp van die Spring op die Bus toer 2018. Sien, my hart loop oor van opgwondenheid en die pad van KZN na Graaff-Reinet is ver. So ek gee solank ‘n proesel hartgoed voor ons more volstoom die Camdeboo aanvat.

Uiteindelik, na al die jare van droom en hoop, kan ek my sieleplek aan vriende voorstel. Hoe ironies. Dis ‘n  virtuele besoek, maar steeds ‘n voorreg.

Hier waar ek voorberei om die Towerinne,  aan Graaff-Reinet voor te stel, is dit of ek regtig elke oggend opstaan en op die stoep met ‘n beker koffie kyk hoe die ligte oggendbries genade deur die peperboom se takke aankondig. Genade om dit te aanskou, maar ook genade, want ‘n warm droë Karoo somerdag lê voor.

Grootkerk se klok lui. Dis nege-uur. Die klok lui ‘n tweede keer. “Bring julle pennies kerk toe,” beier dit deur die kom van die Sondagsrivier wat die dorpgrens omsoom. Randall en Koba sing so mooi:

In die hart van ons land, in die Groot Karoo
Lê Graaff-Reinet uitgeswel soos ‘n rondvet kambroo
Sondagsrivier het jou mooi omgesoom
En jy kan oor baie jare se skatte bly droom
Koor:
En daar is ghwarrie-bos, en wildepruim
Noem-noem en granaat
Tussen soetdoring en karee
Kry ‘n koedoebul sy maat                 x2
 In die hange van die Spieëlberg en Ouberg se rant
Steek die hoogmiddagson ‘n kanniedood aan die brand
Angorabokkuddes kom ook soos melk oor die hang
En die jongmense jol by Vanryneveld se plaasdam
Koor
Die noordwestewind stof Spanbou se kop af
Huil deur kokers en draf Renate net kaf
Tiekiedraai om die jare toet se ou wingerdstok
Woed deur Drostdy-Hof en Knysnaklok
Koor
Stap ons vandag verby ‘n groen museumdeur
En vee dan ‘n traan oor ‘n outydse geur
Word gister se wa-spore môre se hoop
Graaff-Reinet het ‘n pad deur ons harte kom loop

Kom reis gou in my hart saam met voor ons lekker kuier in eg-Towerinne styl.

Wanneer ons  suid op die N1 Kaap se kant toe ry, begin daar net so voor Colesberg se randjies so bruising in my opwel. Die lug is blouer, die landskap wyer. Dis of my siel vlerke kry. “Huistoe, huistoe, vermoeide rolbos.”

Oral sien jy wild en skaap en windpompe en ver staan ‘n plaashuis alleen. Net buite Colesberg, draai jy links. Nee, nie Port Elizabeth toe nie. Jy vat die pad wat wys Middelburg. Eers kry jy hartseer, verlate Noupoort, jy ry verby rye en rye grafte, en die dorp se onthou is vir my aan dwelmverslaafdes wat hier hulle waarheid moet kom uitwerk.

Gou slinger mens verby en al teen die begin van die karoo rante reis jy na oopte en skoon blouselblou lug. Jou oë kyk wyehoeklens. Dis asof God so oor jou hare vryf en die swaar en seer kyk uit jou oë vryf.

Kyk die blou. Kyk hoe seilskip die wolke witter as wit bo-oor berge wat vir ewig strek. Die vir-altyd Pierneefberge. Vaal, blou, pers, swart agter mekaar in reliëf. Dis of my hele wese ‘n vastrapplek kry. Dat in my gene of oer-onthou ek eens hier vry en ongebonde geleef het. Dis hoe dit is met my en die Camdeboo, die groen Karoo.

Verby Middelburg,  oor Lootsbergpas, Nieu-Bethesda se afdraai verby en dan deur Naude se nek, daar daar ver staan Spandaukop en glimmer Nqweba Dam.

Ek sit sommer so vorentoe op my sitplek en kyk en kyk. My hart klop tjoklits want aans ry ons die dorp binne. Ag ek gee nie eens om dat dit straatsmouse en ‘n roesemoes van mense en karre is nie. Ons draai af en die gewels en stoepe groet en Grootkerk se toring loer oor die dakke, so al asof hy seker maak almal is hier. Oorkant die pad in die park loer die oorlog-engel, arm omhoog. Wie sal nou die reuse Statue of Liberty wil hê?

Die karwagte hop al voor die kruiende motors rond. Jy leer om hulle te vermy. Gou draai ons in Stöckenstroomstraat op.

Die kafee op die hoek in die ou gebou, is nie meer nie Dis nou ‘n eiendomsagent se spasie. Ons ry tot die laaste blok, en daar, net voor Botanies se hoek staan ons hartplek. Nommer 10 en 12 Stokkies. Die huurders bly alte lekker en tussen die huis en Great Expectations se motorhuis loer die woonstel se voordeur. Daar, agter daardie deur kom trek ons ten minste twee keer per jaar in, om weer mens te word.

Gewoonlik storm ons om die agterdeur oop te maak. ‘n Lekker stoep staan oopbek en wag en ons droom se tuin groet ons. Ons eie kaktusse en suurlemoene en die granaatboom sê welkom tuis.

Afpak is vinnig en dan gaan maak ons ons museum-huisie, Great Expectations oop.  Sedert die Victoriaanse huisie in 1869 gebou is, is ons die sesde eienaars. Die restourasie is ‘n slakkegang proses, want ons wil nie skuld maak om die droom te verwesenlik nie. Maar dis ons s’n, en elke keer as iets voltooi word, is dit net vir onsself.  (lees hier oor ons droom:  https://wordpress.com/post/lekkervurigeaffere.blog/725 en  https://wordpress.com/post/lekkervurigeaffere.blog/739

Daar word ‘n lysie gemaak, en nou na al die jare kan ons kies uit vier supermarkte om aankope te gaan doen. Ons juweel is besig om met rasse skrede uit te brei en te groei, waar soveel ander plattelandse oorde verval. Geseënde Graaff-Reinet.

Wanneer die son sak en die stoute kinders en jongmense en rondlopers die parkie agter die huis verlaat, en aktiwiteite by Botanies tot rus kom, steek ons ‘n vuurtjie aan. Laat die lang reis agter ons en lag en kwetter en mymer. Laataand gaan kruip ons in. More vroeg maak die duiwe en ‘n verbygaande motor ons wakker. Die Limpopo uit ons gestelle.

Ons ry na ontbyt uit dam en berg se kant toe.  Berg of wildtuin is altyd die vraag as ons al  langs die dam ry.  Kom ons gaan berg op, dis so mooi oop dag. Ag, hier kry jy ‘n koedoe wat so ewe lyk of sy vra, nou kom jy eers hier aan, ons het gewag vir jou.  So met die op ry, maak die landskap oop. Daar onder knus lê die dorp en doer kan jy die omlyning van die Groot Vlag sien. ‘n Valk swiep bokant jou kop verby en daar neffens die parkeerplek skuifel ‘n skilpad aan.

Op ‘n helder sonskyndag speel die son met die rooibruin en geel van die Vallei van Verlatenheid se klipkranse. Soos Rots mooi sê, hier kyk mens wyehoeklens!

Mens stap rustig terug motor toe. Ry in dorp toe om by ons, en ek reken die hele omgewing se gunsteling kafee heerlike vis en skyfies te gaan koop.

As ons nie met restoureer aksies en huisgoed besig is nie, ry ons uit Murrayburg toe, of Cradock of nog lekkerder die slingerpad berg deur om by Nieu Bethesda te gaan mymer.

Of drentel deur die Drostdy, of die kunsmuseum of jou verwonder aan die meer as 200 geboue wat bewaar word. Of sommer by ‘n koffiekroeg te sit en luister hoe almal kuier en groet en lag.

Alles sulke vroegoggend uitstappies sodat jy vanmiddag ‘n Karoo siesta kan geniet. Heerlik om die luilekker lang dae te beleef, die son sak nie so vroeg nie.

Ag, en om vanaand op te kyk. Die speldeprik oordaad van ‘n Karoo nag se sterreprag maak my hart tot oorlopens toe vol.

Sondagoggend beier die kerkklok en mens sit stil soos duisende mense oor 230 jaar in die Grootkerk se houtbanke, en sien die duiwe op die gallery en hoor in die voor-preek stilte God se hart.

In Graaff-Reinet leer ek weer op kyk, haal ek rustiger asem, kyk my oë wyd en kry my siel vlerke.

Welkom in die Camdeboo. Eendag kom kuier julle regtig by my.

Hasta la vista, sien julle more!

WORD VERVOLG……