Ag,hemel. Die arme bye. Daar is nie bloeisels vir heuning nie. Nou bevlieg hulle maar uit nood die voëltjiekos.

Die suikerbekkie bevolking van ons tuin, veg hier waar ek sit en skryf om die suikerwater wat ek uitsit, te drink. Saam met hulle ook die glasogies en besige goudgeel wewers wat by die swembad in die palms nes moet bou. Die son is sonder genade. Die honde lusteloos van die hitte.

Die grasperk is branddroog, die agapante kry nie hulle lanse opgestoot nie. Hier en daar ‘n flou pers kroon wat vooroorgebuig staan. Amper skaam lyk hulle oor die skamele lof wat hulle blom.

Dis ‘n ander jaar die. 2018. Ons wroeg, die land is deurmekaar, besigheid is stil. Tot die ontvanger is suinig om dit wat ons toekom te oorhandig. Bose kringlope.

Asof al hierdie dinge nie genoeg is nie, kom my Eli vanoggend by die tuinhekkie ingestap.

Kop vooroor gebuig. Sommer aan die lyftaal besef ek daar is iets fout. Sy was ‘n week weg, kliniek toe, toetse. Haar vriendin het my laat weet sy sal eers vandag terugkeer.

Sy kom groet nie. Ek stap maar uit. Sy kom na my aangestap. Trane in haar oë. Al wat sy fluister is HIV.

Ons val in mekaar se arms en huil. Huil oor dit nie regverdig is dat die vrou wat soveel opoffer vir haar kinders, wat getrou aan ‘n man was soiets moet oorkom nie.

“Moet ek loop,” vra sy my?

“Wat jy waar kry. Ons loop saam ek en jy.”

Sy kyk my in ongeloof aan. 

Ons gaan sit en praat die saak mooi  uit. Hoe keer ek nou my rug op haar wat al soveel jare my lewe, my huis vir my bedryf sodat ek ekonomie kan pleeg? My vriendin, my vertroueling. Nee, hierdie harde pad sal ons twee enduit loop.

Ons bid vir genade, Heer. Genade vir haar om die gevolge te kan hanteer. Genade om een dag op ‘n slag aan te pak. Dankie dat ons mekaar het om swaar en bang saam aan te pak. 

Ons bid vir genade vir Eli, vir ons almal, die bye en die voëltjies en die dorre aarde ook.