Vir botter of vir wors

mending_a_broken_heart__psd_file_sjpg2493

Trou is toe perdekoop en skei is te maklik vir woorde.

Ek was verstom toe the pers radiostasie nou die oggend so ewe oor brekfis gesprekke aan die gang het, dat huwelike hernubaar of kansellerbaar moet wees. So kontrakkie wat elke nou en dan hersien word soos jou huurooreenkoms. As dinge dan nie vlot nie, nou ja, dan gee jy kennis.

Nou kyk, voor ek uitgekryt word as ‘n fariseër, ek het die skeipad al geloop. Harde les. Want sien, trou is nie perdekoop  nie. Flippit. Ek, weet,ek weet. In die verwarring na my ma se selfmoord, en tederheid teenoor my skoolgaande sussie, wie ons stiefpa voogskap oor haar soos slegte skuld afgeskryf het, en my eie chaos –  my ‘n gruwelike misstap laat begaan.

Iemand wat soos ‘n omgee-ou gekamoefleer was, en ekonomie wat ek as oorlewing beskou het, sonder konsultasie met God, op wie ek my rug gekeer het uit woeste hormonale woede, laat my besluit trou is ‘n opsie. Ons het weer ‘n huis. Bokker wat huwelik betken. Ons trou sommer in die dominee se sitkamer. Ouma en Oupa het daarop aangedring. Daai ou fototjie met ons in werksklere en Oupa met sy arms so gevou en Ouma en my sus en ek se seer oor my ma so duidelik onder ons oë te sien is een wat ek ver weg gebêre het.

Die besef een oggend, drie jaar later dat dit nie is wat my lewe moet wees nie, sal ek ook nie vergeet nie. Die man het skofte gewerk. Ons was verskillend soos dag en nag. Soos skepe in die nag by mekaar verby geleef. Ek het die oggend opgestaan, sy koffie gemaak en sy kos vir die dag gepak. Toe ek hom wakker maak, het ek kalm hom inlig dat ek maar vandag die prokureur gaan sien, en dat ek vanmiddag uit die huis sal wees. Net so.

Wat hierop gevolg het, sien ek  God wat vir my telkemale letterlik die weg gebaan het om oor myself te kom. Dat Hy in Sy genade met my geduldig gebly het, dit is my grootse asemsnak dankie tot vandag toe.

Moenie dink dit was maklik nie. Ek het wel ‘n woonstel gekry, bokant ‘n drankwinkel, nogal. Daar het ‘n tyd van niks omgee aan gebreek, myself behoorlik in die sloot in geleef. Ek wil nie meer daaroor uitwy nie, myself en hom al lankal vergewe.

God weet die pad wat ek geloop het, dat my en Rots se lewe saam ‘n geskenk uit die Vader se hand is, dit glo ek met my hele hart. Hy het gesorg dat ons paaie kruis.

Rots was my stoere eik, waar ek veilig, geborge toegelaat is om my kwaad behoorlik deur te werk. Ons het baie dikwels byna die krans afgebliksem, glo my. Want ek was nie ‘n maklike merrie wat opgesaal is nie.  Ons is  deur dalle van doodskaduwee, omdat ek hiper-soekend was, om die hol gat in my binneste, my seer soos spoelklippe in ‘n maalgat laat kalwe en kalwe en kalwe het.

Rots moes my meer as een keer die deur gewys het, maar hy het nie. Hy was kwaad, seer, maar altyd, altyd het hy my met geduld en liefde na rustigheid en aanvaarding van myself help lei. Hy, en my kind en my liefste skoonma, Biebs. En God. Dankie Vader, dat U altyd daar waar ek nie wou sien of weet of hoor nie.

Ook, was daar meer as een keer in ons lewe saam, tye wat Rots se asem op geraak het. Werkdruk, finansies het hom soms tot stilstand gebring. Dan het ek weer aangepor, gekoester, geraas en so het ons begin leer hoe ons saam ‘n sterk span is.

‘n Span wat saam loop, opdraand en afdraand. Wanneer een moeg voorgeloop is, neem die ander een oor.

Met die jare se gang het ons geleer wat goeie kompromieë beteken. Ek het saam kerk toe gegaan, want dis wat vir hom belangrik is. So het ek oor tyd weer begin Bybel lees.

Ek kon nie mooi verstaan hoe ons Sondae vir God nadersleep en dan Maandag tot Saterdag op ons eie aanpiekel nie. Ek het begin om elke dag Bybe te lees en bid. Tot eendag, vra my man dat ek hardop lees, die Bybel en die dagstuk. Ek sê so ewe, as ek lees, dan bid jy.

Ag, God is goed. Ons saamwees met God aan die begin van elke dag is ‘n kosbare, groot geskenk. Vandag, met ons liefkind wat by ons woon, is dit hoe elke dag met die opkomende son begin. By ons Here se voete. ‘n Vierdubbele sterk tou sal nie breek nie.

Moet nou nie verkeerd verstaan nie. Daar is dae, gisteroggend weer, dat ek wragtig moet bely dat ek nie baie van Rots hou nie, maar dit maak my nie minder lief vir hom nie.

Want sien, ons word ouer. Ons gaan elkeen deur die nuwe belewenis van onse lywe wat vertel van kleintyd se foute en nou presenteer as pyne en skete. Ons leef in ‘n land waar ons met ons bleek velletjies maar self moet sorg vir oorleweing. Belas tot by ons vermoëns verby, mense wat met gesplete tonge praat, en so aan.

Dit krap soms so seer, dat ons nie anders kan as om vir mekaar te grom nie. Want binne ons spasie is dit waar ons mag. Maar skei, aikona. Moord ook nie ‘n opsie nie. Dan wag jy maar dat die ander een opkyk en die dag se seëning raaksien, en weldra sal die oproep of whatsapp GIF kom, en jy weet, ons is mekaar se wederhelftes vir botter of vir wors.

‘n Huwelik is ‘n Godgegewe geskenk waarbinne ‘n egpaar een sterk span kan word. Ons is almal  individue, elkeen uniek. Kalhil Gibran beduie so mooi: “Laat daar ruimtes wees in julle samesyn.  En laat die winde van die hemele tussen julle dans.  Min mekaar, maar moenie van die liefde boeie maak nie.  Laat dit eerder soos ‘n beweeglike see wees tussen die oewers van julle siele.”

So staan Rots, die eik en ek, die woelige wilger vas in ons lewe saam. Elk met ons uniekheid langs mekaar voor God en die wêreld. Saam, maar nog steeds ons eie mens, vir die tyd wat ons saam gegun is.

Die egskeidinggogga kap oral in ons omgewing. Jongmense wat nog paaie moet loop, gooi hande in die lug. Ons kan nie hulle keer nie. Ons staan verslae, want besluite word so vinnig geneem.

Ou koeie word so uit die sloot gegrou, dat alles stink. Die wolk van alles wat onding is maak die plek waar hulle staan so donker dat hulle nie lig kan sien nie. Ag, ons bid vir elkeen wie se paaie skeefloop.

Ek pieker al die afgelope maand oor hoe en wat kan mens doen om die pyn en selfverwyt en haat wat noodwendig in sulke situasies hoogty vier, te kan keer.

Vanoggend kom ‘n boodskap nogal via Jamie Lee Curtis, ja sy van die skreeu-gril flieks. Sy en haar man vier vanjaar , nes Rots en ekke, hul 34ste huweliksherdenking. Wat sy oor ‘n huwelik te sê het, stem ek volmondig mee saam.

Skei is nie ‘n opsie nie. Bly op die bus. Al is die omgewing waardeur jy tans reis nie mooi nie, die pad klipperig en opdraand en die petrol amper klaar, bly op die bus. Moenie afklim nie, want net om die draai is die mooiste plek, ‘n stilhou plek war jy kan hervul, die brandstoftenk volmaak en dan is daar skielik as jy verder ry ‘n lang afdraend en gelykte. Die omgewing groen, die vlaktes wyd en die hemel blousel blou. Vir jou en jou lewensmaat albei.

ToeValLig, dat ek die raaklees. Dankie Here, dat ek hier kan sit en skrywe. Laat my woorde rigting wys, laat my woorde iemand tot seën wees.

Ek sit en dink oor die impak van egskeiding. Daar waar huwelikke nog nie by sewe sakke sout verby is nie. Daar waar een maat besluit die kanker is nie vir hom nie, daar waar die tweetjies die opbrengs van hulle lewe saam voortydig verdeel, en die kindertjies in die slag bly. Daar waar ‘n vrou, op haar laaste swanger, gelos word met ‘n kroos, want die man het nog avonture wat hy wil beleef, daar waar ‘n  mideljarige vrou deur ‘n jong bokkie vervang word, of andersom.

As dinge dan nou nie 70 maal sewe keer vergeefbaar is nie, as jy in jou siel oortuig is skei is die enigste opsie, hier is toffies om aan te kou:

As julle skei, moenie van mense verwag om kant te kies nie. Want daar is jou kant jou eggenoot se kant, die kant van julle families en kinders. Niemand weet behalwe julle en God wat die reine waarheid is nie.

Moenie jouself of jou eggenoot die vark in die storie maak nie. Twee mens doen die tango. Jy het saam by hierdie punt gestap. Julle twee.

Sorg dat julle, julle regmaak vir een van die seerste prosesse in julle lewens.  Naas sterfte, is ‘n egskeiding se rouproses fel.

In hemelsnaam, hoe sleg dit ookal was, spaar jouself en die volgende persoon van belang eeue se pyn. Rou vir tot 24 maande. Spandeer tyd met jouself, alleen. ‘n Nuwe persoon in jou lewe wanneer jy nog seer en kwaad is word aan jou pyn en woede en leed blootgestel.

Die nuwe persoon kan hoegenaamd nie die hele jy kry nie, want jy is verwond, verander, verneder, kwaad. Soveel emosies. Hoe kan ‘n nuwe heel verhouding mank-mank gebou word? Hoe kan ‘n nuwe verhouding op iemand anders se leed gebou word? Onmoontlik.

Pasop wie en wat jy by jou kinders toelaat. Net omdat jy nie alleen jou selfgemaakte krisis alleen wil deurwerk nie, moenie jou kinders in die middel van jou modderpoel sit nie.

Al is jy blou geslaan, al is jy misbruik, beroof van jou menswees. Hou jou kinders veilig. Hulle wêreld, hoe krom en skeef ookal, is nou versplinter. Daardie krose wie se behoefte is om veilig en geborge te voel, hulle voel verwerp, dink hulle is die oorsaak, maak nie saak hoe julle beduie nie. Dit geld vir albei van julle.

Hanteer mekaar, en jouself met respek. Hou aan beginsels vas. Tree eerbaar op, al wil jy jou wange deurbyt. Julle is grootmense. Hierdie is nie die skoolgrond nie.

Maak seker jy is seker dat jy vlekkeloos staan voor jy blaam uitdeel en verwyt. Nog nooit een fout gemaak nie, nog nooit teleurgestel nie? Is jy seker?

Hoe wis jy goeie tye uit, en glo my, soos tyd verby gaan en die seer genees, sal jy jou vang wonder wat was so erg dat ons liefhê in haat verander het, ons beloftes nie meer saak gemaak het nie.

Daar is altyd omdraai, tot voor die regter in die skeihof, is daar omdraai kans.

Ek gaan nie vir julle vra hoe gaan dit nie. Ek gaan nie net na jou kant van die storie luister nie. Ek kan nie tussen julle kies nie, want in my lewe is julle ‘n gesin. Moenie dit van my verwag nie. Weet net, my huis bid vir julle, elke dag. Mag die Here julle lei en rig en sterk maak.

Onthou wat sê 1 Korinthiërs 13 oor liefde. Onthou hoe vriende met mekaar maak. Lees dit saam, praat en vergewe. Klim in hemelsnaam terug op die bus, julle maak ‘n fout.

En as julle my kwalik neem oor hierdie woorde, dis oukei. Ek sal nie ophou bid dat dit met julle gesin sal goed gaan nie, dat Lig sal val waar dit nou baie donker lyk nie.

Een laaste koutoffie:

Vir botter of vir wors facebook

Ek het geleer ‘n goeie huwelik is wanneer wederkerige vergifnis voor loop…

SELA.

Foto bron:   ‘n Vuisboek blad: https://www.facebook.com/botterofwors

 

 

30 Comments on “Vir botter of vir wors

  1. Fantastiese skrywe! Ek kan sien jy praat uit ondervinding. Ons is al amper 43 jaar getroud en dis asof ons paadjie met mekaar net beter raak. Ek wou ook al baiekeer my goed vat en loop, maar soos die jare aanstap, leer ‘n mens om teen mekaar blink te slyp.

    Liked by 2 people

  2. Ek het verskriklik lekker gelees aan hierdie skrywe. Waar woorde, ek voel ook so elke keer as ek hoor iemand skei. Moet meer bid vir huwelike. Die duiwe weet hoe sterk ‘n huwelik kan wees en dis hoekom hy vinnig daar gaan karring. Wil net weer sê hoe mooi jy skryf. So bly die Here het jou weer op jou pad gevind. Xx

    Like

    • L, dankie dat jy my gegriffel geniet. Ja, die duiwel, hy is om elke hoek en draai en sy vriende is opgee, en kitsoplossings. Ons moet bid! Die Here was heeltyd daar, ek het weggekyk!

      Liked by 1 person

  3. Terug pieng: CM – 3 – Lief, liewer, liefste – Positief

  4. Ek het hierdie pos al heel dag oop… so tussen kinders oppas lees ek bietjie vir bietjie.
    Ek praat nou van ‘n man se punt… seer maak net meer seer. Ek is ook, soos ek baie dae spot, daai Suid Afrikaanse paaitjie af… meeste van ons kry nooit die eerste probeerslag reg nie… te jonk/ te dom/ te ongewoond aan beloftes hou/ te gou om op te gee… of sommer net te vol bollie!
    Nou, sukkel ons lekker saam, altwee van ons die tweede keer. Ons bus neuk alewig van die pad af… or die walle en in die sloote… ons maak nou al saam kleinkinders groot… gelukkig net ‘n paar dae ‘n week!
    Ja… ons kinders spot dikwils met ons dat ons net happy is as ons van mekaar af weg is… anders lyk dit of ons alewig stry… maar ons klim nie van daai bus af nie. In any case… waarheen sal ek dan nou gaan as sy my uitskop? Niemand anders soek my nie!! 😉
    Mooi geskryf… praat met die hard! 🙂

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Top40Weekly.com

The Weekly Top 40 1955-2017

toortsie.com

Skyn, liggie, skyn!

No Facilities

Random thoughts, life lessons, hopes and dreams

Leeskring met een lid

Waar ons boeke saam met die seelug inasem

The Bee Writes...

oder auch "Die Bea schreibt" *** expect nothing... not even the unexpected *** erwartet nichts... noch nicht mal das unerwartete

Gedigte wat jou laat dink.

Sien die groot prentjie.

Tokeloshe

I♥2CR8

Kluisenaarsklaviere

Denke oor die wêreld, sy plekke en sy mense

Kameel se gebabbel

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor

Kruger Theron

Stories met Siel

Daily Manna

By Heart of Worship

Justice's Blog

The fear of the LORD is the beginning of wisdom...The contents of blog ranges from Christian knowledge to my own 'nerdy' posts.

the depth of now

Discovering Istanbul through Storytelling & Photography

Discover

A daily selection of the best content published on WordPress, collected for you by humans who love to read.

Wag 'n Bietjie

Welcome! Come linger a while..

%d bloggers like this: