Ysterbergonthou

Die hele wêreld en sy familie weet, ek bly in Poloniekwane ter wille van ekonomiese oorlewing. My hart woon in Graaff-Reinet in die mooie  Ooskaap se Camdeboo, waar ek die Towerinne later op ons reis, wel deeglik gaan onthaal. Daar is egter ‘n stukkie van my hart wat warm klop oor ‘n plek buite Polokwane.

Ons het so paar uur na die groot sing by OR Tambo, rustyd gehad, so van na middagete af. Ek, Una, Kameel, Seegogga en Positief het per ongeluk op Scrapy se Elonmusk-vlieger  afgekom. Ons wou weet hoe voel dit om blitsig van een plek na die ander te kon reis. Toe fluister ek vir my vier towerin maats of hulle gou iewers heen wil gaan. Soos dit maar met ons gaan, sê al vier dadelik ja. Blitsig is ons vasgespe en ons vlieg daar weg.

“Waar gaan ons,” giggel Una.

“Ons gaan gou kuier waar ek die lekkerste nog in Polokwane gebly het,” belowe ek en druk koördinate in.

Terwyl ons so al met die N1 langs noord vlieg, vertel ek  so bietjie geskiedenis terwyl ons oor bakens vlieg. Ons was bangerig om supersonies vinnig te vlieg, toe vertel ons die slim voertuig wat ons wil sien. So het ons darem hier en daar onderweg na ons bestemming stadig gesweef. Soos ‘n wafferse toergids vertel ek:

Sowat 18 km voor Mokopane is ‘n stilhouplek. Moorddrif. In September 1854 is twee groepe Voortrekkers sowat 33 siele, op reis saam met Hermanus Potgieter, hier deur die Tlou stam, met Makapaan as hoofman,  aangeval en uitgemoor. Kinders se koppe is teen ‘n boom vergruis. In ‘n wraakaanval is 2000 van die Tlou in die Makapaansgatgrotte vasgekeer deur die Boere.

Die Nylstroom,nou  bekend as Mohalakwena (Plek van die vreeslike krokodil). Potgietersrus (nou Mokopane, Scrapy se tuisdorp in Suid-Afrika) was  vernoem na Kommandant Generaal Piet Potgieter wat by  Makapaansgat dood is tydens ‘n wraakaanval op die Tlou volk na Moorddrif.  Die dorp is  op 25 September 1858 gestig.  Dis geleë op die vloer van ‘n woudagtige pas, die roete noordwes na die bosveld

Veertien kilometer noord op die plaas wat jare gelede aan G R Peppercorn behoort het,  lê die Makapaansgat grotte. Die grotte lê in ‘n asemrowende kloof waarvan die hange besaai is met aalwyne, euphorbias en bome.  Aan sy regterkant word die kloof ommuur met bloedrooi sandsteenkranse. Hierdie vorm die agtergrond vir die mensdom se geskiedenis en ook ‘n bloeddorstige verlede.”

Gou is ons by die berge buite Potgietersrus. Ek vertel verder:

Makapaansgat het kolossale grotte. Daar is twee hoofingange, die een bokant die ander, hulle loop skuins af in mekaar in en reuse sale tak uit die gange. Klip versperrings, as van lang vergane vure en sinistere herinneringe is al wat van die oorlog bly.

Die grotte is deeglik deur argeoloë omgedolwe en ontdekkings uit die Upper Chelles Acheul tydperk ver onder die vlak van die  Vroeë Steentydperk. Die grotte  het na die Moorddrif aanval die skuiling geword van die Tlou volk onder leiding van Makapaan.

Die grotte het skuiling gebied, daar was volop water en bêreplek vir graan. Genoeg om hulle tydens enige beleg, veilig en versorg te hou. Of so het hulle geglo. ‘n Strafkommando onder leiding van Piet Potgieter het die Tloustam in die grotte vasgekeer. ‘n Groteske brutale stryd het gevolg. Die gewapende Tlou soldate het onophoudelik uit die donker grotte bly vuur.  Enigeen wat gewaag het om te nader was ‘n duidelike teiken in die  600m by 150m openinge.

Op 6 November 1854, is Kmdt Genl. Piet Potgieter self noodlottig getref toe hy ondersoek gaan instel het by die grot se ingang. ‘n Brawe veldkornet,  die 29-jarige Paul Kruger het sy lyk weggesleep.

Vir 30 dae is die grot aangeval.  Kommando lede het later die grot bestorm en wat hulle gevind het is ‘n toneel van dood, die reuk van ontbinding het alles deurtrek. 1500 van die stamlede is dood aan dors en verhongering, net ‘n handvol  het ontsnap. Makapaan wat onder ‘n bees se maag vasgemaak is, en in  gedwonge ‘n stormloop van beeste grot uit, het ook weggekom, om soos legende dit het, nie die verwoesting van sy stam te kon verwerk nie, en later selfmoord pleeg. Hier stop die mens se omgang met die grotte, en vandag is dit duiwe en vlermuise se gefladder wat die stilte verbreek.”

My maats sit tjoepstil.

“Dis vreeslike geskiedenis” sê Seegogga.

Ons almal is effe betraand. Ek haal so plat botteltjie uit my sak. “Kry ‘n doppie bosveld mampoer, dit help. “Net ‘n proppie hoor,” waarsku ek.  Ons snak na ons asems. Batterysuur sterk is die proppies. Ons hoes en proes en toe die asems terug is, stel Positief voor ons sluk gou ‘n tweede een, blykbaar proe dit dan beter. Ons maak toe so…dis nie waar nie.

Hoesend en proesend, vlieg ons verder noord met die die Ysterbergpas langs. Dit is deel van die Strydpoortberge, 1297m bo seespieël. Die Bosveld se hoëveld val voor jou oop. Net deur die pas draai ‘n grondpad regs uit. ‘n Bord ‘Eersteling Monument‘ wink jou om af te draai.

Ek vertel terwyl ons laag en stadiger vlieg, dat my maats alles kan sien en ervaar:

“Edward Button het in 1871 die eerste kleim vir goud hier afgesteek. Dit is na Du Preez aan hom ‘n stuk goud gewys het en hy (Button) die plaas vir $50 gekoop het en mynregte geregistreer het.

Die smeltertoring van Aberdeen graniet, staan majestueus op ‘n klein bultjie omvou deur die kranse van die Ysterberg, die begin van die Strydpoort berge. Rug aan rug met Makapaansgatgrotte.

Die toring was op ‘n tyd die hoogste gebou in die ou Transvaal. Legende het dit dat die Boere tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog gemeen het die mag van die Engelse lê opgesluit in die toring en hulle het onsuksesvol probeer om die toring om te trek met osse en kettings. Maar dit was puur verniet. Bykans 150 jaar later staan die toring onverstoord soos ‘n kruidjie-roer-my-nie.

Eersteling is vandag ‘n sitrusplaas. Ek het die voorreg gehad om vir meer as ses jaar hierdie mooi magiese plek my woonplek te noem.”

My maats se asems is weg. Dis droog, maar steeds asemrowend. Die spoed vervoer is oorgeskakel na ‘n gewone motor, en ons kan rondkyk en verken. By die oorblyfsels van die monument het was dit so lekker om dit met vriendinne te deel. Een van die Polokwane omgewing se geheime. Kyk wat het hulle alles gesien

“Julle, kom ons vlieg gou berg op, julle moet die sonsondergang beleef. Ek het ‘n storie om te vertel,’ roep ek en ons klouter in Scrapy se masjien.  Minute later aanskou ons die skouspel.

Die son sak, en ek vertel so sopie vir sopie mampoer vir my maats van die legende dat op aande soos die, as jy mooi luister jy die delwers van ouds kan hoor makietie hou. Soms hoor jy ‘My Sarie Marais’, ander kere ‘My Bonny lies over the ocean,’ dit was immers die eerste delwery in Suid-Afrika, voor Pelgrimsrus, voor die Goudvelde van Johannesburg.

Ons sit nog so vir die wolke en kyk. Daar kom ‘n briesie op. Die mampoer loop proppie vir proppie mooi. Kameel gryp my aan die arm. “Sjjt, luister,” fluister sy. Ons almal is tjoepstil.

Oor die bries hoor ons wragtig aangesweef:

Ons laat spaander na die tydmasjien, sluk proppies mampoer en vlieg op ‘autopilot’ terug Pretoria toe. Ek het my jis afgesukkel om Una, Kameel en Seegogga en Positief  in die bed te kry, en self laat tot rus gekom. (Moes twee Panados drink. Bloos)

Die volgende oggend hoor ek net hoe raas Scrapy. Ek en Una strompel uit ons kamers, verslaap. Ons hoor Kameel, Seegogga en Positief sing: ’My Sarie Marais is sooô ver van my af…’

Ek wil net sê, Scrapy se propvol program het ons vyf poegaai gehad. Al die lekker kos het gehelp om die mampoer hond se hare van ons tonge af te kry!

 

NS. Om ons virtuele reis deur Suid-Afrika te volg en ons avonture as die Towerinne mee te maak of om saam te blog, klik op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928