son
Na aanleiding van jong boer van Elliot in die Oos Kaap,wie vanweë die felle droogte selfmoord gepleeg het.  ‘n Dag na sy dood, het dit begin reën

Ons ken die reëns van jou suster.

Sy werk sag en skugter.

O, sy laat ons dans!

Saam met haar sien ons vir alles kans!

 

Maar dorre, wrede jy? Vertel my asseblief,

Wat is dit wat jou so tot verwoesting grief?

Honger diere lê in die stof- net bene, uitgeteer.

Hulle oë blink nimmer weer.

 

Kiewiete kras kwaai

Maar hulle maak verniet lawaai,

Hul kleintjies lê bloot

onder die lewensmoeë bees se poot.

 

Droë mielies knars onder voet

Rooi stof warrel soos roet

Die dood ruik soet.

 

Die windpomp roer nie…

Daar is nie voer nie…

Ek kan nie so verder boer nie…

 

Niks gaan my keer.

Ek kies die geweer.

Nil vir my, tien vir jou.

Sal ek by Sy voete ooit jou wreedheid onthou?

 

Erna Maré © 

2017