Lena-broken-rainbow-2013-04-18s

Teen skemeraand maak Rots sy gebruiklike Vrydagaand vuurtjie, en Bab en ek sit saam op die stoep by hom. Ons koer en kekkel hieroor en daaroor. Geseënd op soveel maniere. Ons mooi blyplek, die week wat verby is, die voorreg van saamwees. Vredig.

Die vrede word versteur toe ons hoor van ‘n ongeluk  op die N1 tussen Mookgopong en Kranskop. Daai stuk pad is as die hemel se poort bekend.

Nie vanweë genade nie, maar vanweë die tallose vreeslike ongelukke wat klokslag daar gebeur. Verskeie faktore word immer gelys.

Ongeskikte taxi’s, onwettige verbysteek in die noodbaan, selfs in die regterkantste binnebaan van die aankomende verkeer (regtig), pad-ingenieurs ontwerp fout, spoed, aggressie, swak bestuursvernuf, gekoopte lisensies, algemene wetteloosheid want “almal maak so,”  moegheid, voertuie wat nie padwaardig is nie, dronkenskap, bande wat bars. Die lys is nimmereindigend.

In die nuutste gru-botsing is 28 mense is dood, waaronder in geliefde egpaar van onse Polokwane. Hulle kinders in ‘n oogwink wees gelaat. Dis vreeslik hartseer, ons gemeenskap in rou.

Ons drie sit verbyster. Nie die mense persoonlik geken nie, maar geweet van die besondere paartjie. Comrades deelnemers en sakelui van formaat. Hulle kinders in Pretoria op skool. Klaarblyklik was hulle soontoe onderweg. Nou is hulle weg. Vir altyd. Ritse en ritse boodskappe van simpatiebetuiging oral op die Vuisboek.

Rots staan so by die vuur. “Dis verskriklik. Ten minste het daardie kinders ‘n behoorlike steunstelsel. Nie dat dit minder erg vir hulle maak nie. Ek wonder oor daardie mense in die taxi. Wie se mense is hulle? Hulle geliefdes wat seker nog nie eens weet nie, mense wat sukkel en arm is en van wie weet waar sal moet plan sien om lyke uit te ken. Julle ons bly in ‘n vreeslike wêreld.” Ons het nie ‘n antwoord nie.

Vanoggend weer sien ek foto’s van hoe dit in ons staatshospitale lyk. Mense op vloere, in gange. Geen menswaardigheid nie. Ek dink aan die simpatie betuigings wat so vinnig op Vuisboek gestroom het. Ook die onafwendbare trolle wat die onbekende bestuurder van die vragmotor,waarvan die band gebars het en na bewering die ongeluk veroorsaak het, tot in die hel vervloek.

Waar is die genade, die menslikheid. Die respek om te wag tot die bekende paar se familie iets plaas. Die empatie vir die onbekendes wat ook dood is.

Ek verpes hoe ons samelewing is. Dit laat my aanhoudend aan Keiser Nero se arena gru-spele dink. Waar gladiators tot die dood moes veg en mense se bloed- en gru-lus ongebreidelde voeding gekry het. Ons is eeue later nie veel beter nie. Eerder erger.

Daar word nou ondersoek ingestel. Die eienaar van daai vragmotor die wil ek nie wees nie. Daar is reeds soveel vingers wat ala PW gewys word. Persoonlik reken ek, los die ondersoekery.

Bou ‘n blerrie sement middelman van Pretoria tot Musina op die N1. Sit ‘n patrollie permanent aan diens om padvarke en oortreders vas te vat. Bliksem oortreders met die wet en boetes en straf. Verkeerspolisie moet gedissiplineerd wees, trots wees op hulle werk, nie-korrupteerbaar en omkoopbaar wees nie.

Ag wat ‘n hersenskim. In Japan miskien ja, maar in Suid-Afrika. Nee, ons gaan gil en beskuldig en ‘n lam ter slagting kies, en more, gaan die padslagting en ondinge op ons paaie voort. Hoor my lied.

My versugting: Mag God almal wat seer het en rou genadig wees. Mag God ons mensdom hier aan die Suidpunt van Afrika genadig wees. Mag God sy skepsels oral op aarde genadig wees.

Die hemel weet genade het in Suid-Afrika genade nodig.

Die reënboogland se kleure huilend, lekkend, en aan die verdwyn.